Senior advokaat moet dodelike busbrand ondersoek

Ses mense het in die brand omgekom. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Die Gautengse regering het ʼn senior advokaat aangestel om die busbrand wat verlede maand tot die dood van ses mense gelei het, te ondersoek.

Adv. Myron Dewrance SC sal die ondersoek lei na die oorsaak van die brand op 21 Mei op die Molotopad buite Pretoria.

Ses pendelaars het onherkenbaar verkool en byna 60 mense is beseer.

Die bestuurder van die Putco-bus het na die voorval aan brandbestryders gesê hy was besig om te bestuur toe hy in kennis gestel is dat die bus brand. Hy het dadelik stilgehou. Die bus was van Marabastad na Tweefontein in Mpumalanga onderweg.

Die LUR vir openbare vervoer en infrastruktuur, Jacob Mamabolo, het ʼn span aangestel wat onder meer bestaan uit brandondersoekers wat onderhoude met getuies en ander sal voer wat deur die voorval geraak is.

Die ondersoek sal konsentreer op die oorsaak van die brand en moet vasstel of daar enige nalatigheid aan die kant van die busmaatskappy was wat ʼn kontrak met die departement het. Die span moet ook bepaal of Putco kontraktueel aanspreeklik vir die voorval gehou kan word.

“Adv. Myron en sy span het ʼn belangrike taak om die feite in te samel en vas te stel of Putco nalatig was. Dit is belangrik om die waarheid vas te stel ter wille van die families en geliefdes van diegene wat hul lewe verloor het, asook die beseerdes, sodat hulle afsluiting kan kry en na die tragedie kan genees,” sê Mamabolo.

Die ondersoekspan het 30 dae om die ondersoek te doen en aanbevelings te doen om te verseker ʼn soortgelyke voorval word nie weer herhaal nie.

“Ons weet Putco doen sy eie ondersoek, maar ons het steeds ʼn onafhanklike span aangestel om die voorval te ondersoek. Hulle kan in hierdie saak nie tegelykertyd skeidsregter en speler wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DieKriek ·

Daar gaan skaars n week verby waar n Putco bus nie brand op die Molotopad nie. Daar trek beslis n rokie.

Sarel ·

Is ‘n Kenner op fie gebied? Nog ‘n ondersoek…
Nog geen sntwoord…nog geen vervolging nie

Francois ·

Kyk na die taxi industrie. Iemand van hulle dit daar agter

Pietertjie ·

Dink net : die oorsaak van elke botsing waarby openbare vervoer betrokke is, word deur ‘n bevoegde persoon ondersoek en die resultate word binne ‘n kort bestek gepubliseer. Ek droom verder: daar word summier teen oortreders opgetree (as hulle nog leef)…

Die werklikheid is erger as ‘n nagmerrie.

DieKriek ·

Pietertjie, dit was nie n botsing nie. Die bus het in die ry aan die brand geraak.

Vernon ·

Hoe baie ry ek nie agter sulke busse…dan staan die enjinkap regop en oop terwyl die bus voortstoom,seker om te verhoed die enjin oorverhit. Ag wat so gaan dit maar….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.