Ses vas wat WVF glo uit miljoene bedrieg

(Argieffoto)

Ses verdagtes, onder wie twee voormalige regeringsbeamptes, wat in hegtenis geneem is vir beweerde bedrog met die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), sal Maandag in die Mahikeng-landdroshof verskyn.

Die verdagtes, tussen 36 en 58 jaar oud, is Saterdag in Mahikeng deur lede van die Valke se eenheid teen ernstige kommersiële misdaad in hegtenis geneem.

Daar word beweer die verdagtes, onder wie twee voormalige werknemers van die departement van indiensneming en arbeid in Noordwes en vier werwingsagente, het tussen 2019 en 2020 werklose individue onder verskeie valse voorwendsels gewerf.

Volgens lt.kol. Tinyiko Mathebula, Valke-woordvoerder, is van die eisers na bewering ingelig dat hulle bygestaan word om eise van die Droogtehulpfonds in te dien terwyl ander na bewering geld van die WVF geëis het. “Ander is na bewering ingelig dat hulle by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in diens geneem sou word, terwyl ander na bewering ingelig is dat hulle by projekte aangestel sou word.”

Die eisers is na bewering R50 elk gegee om bankrekeninge te open, maar die bankkaarte is deur die verdagtes gehou. “Daarbenewens is die eisers na bewering verplig om WVF-eisvorms in te vul wat hulle as voormalige werknemers van Impala Platinum-myn en Sibanye Ashanti Gold-myn voorgedoen het. Daarna het die verdagtes na bewering hul eise verwerk, wat daartoe gelei het dat die departement van indiensneming en arbeid ’n verlies van meer as R2 miljoen gely het.”

Die verdagtes sal tereg staan op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal.

Genl.maj. Patrick Mbotho, hoof van die Valke in Noordwes, het die ondersoekspan geloof vir hul puik werk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrystaat2109 ·

Hulle kan maar net nie eerlik wees nie, kyk maar na al die staats instellings sy hand kan maar net nie uit die koekieblik bly nie.

SjN ·

Hoekom neem dit so lank voor daar opgetree word teen die oneerlike staatsamptenare?

Stofdonkie ·

Hulle moet eers die kans gegun word om al die geld te spandeer wat hulle geboef het.

efjy ·

Kyk hoeveel mense is betrokke en was bereid om oneerlik te wees net om ekstra geld wat hulle nie toekom nie, te bekom. Was bereid om vals verklarngs te doen. Almal moet vervolg word en hul straf dra aangesien hulle geleentheid gehad het om bedrog aan te meld.

Alet ·

Besig om SuidBabwe te word. En oorgrote van die volk se oogkede is toe. Verryk hulself nie deur harde werk of intellegente keuses nie maar wel deur skelmstreke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.