Seun sit regop ná ongeluk met buiteband

Tryston Jansen van Vuuren is Maandag ernstig beseer toe ʼn groot buiteband by Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg op hom geval het. (Foto: Verskaf)

ʼn McDonalds-kaasburger.

Dít is al waarvoor Tryston Jansen van Vuuren (14), die Oos-Randse tiener wat sy pelvis Maandag in ʼn fratsongeluk by die skool gebreek het, nou lus is.

Hy en sy ouers, Jan en Michelle, is ook oorstelp van vreugde dat hy reeds sowat 45 grade regop kan sit nadat hy Donderdag ʼn tweede operasie ondergaan het.

Tryston is Vrydag na ʼn algemene saal oorgeskuif nadat hy die hele week in die trauma-eenheid van die Netcare Union-hospitaal in Alberton behandel is.

Maroela Media het vroeër berig Tryston is ernstig beseer toe ʼn massiewe buiteband by Hoërskool Dr. EG Jansen, waar hy ʼn gr. 9-leerder is, tydens ʼn gespelery op hom beland het.

Benewens sy pelvis het hy ook die been bó sy stuitjie gebreek en werwels in sy rug gekraak.

Tryston Jansen van Vuuren is tans in die Netcare Union-hospitaal in Alberton. (Foto: Verskaf)

Jansen van Vuuren sê ʼn uitskopstoel sal Saterdag in sy seun se hospitaalkamer ingedra word, sodat hy met gemak kan sit.

“Dis ongelooflik dat hy ná vyf dae al kan sit. Dit is baie, baie goeie nuus,” het Jansen van Vuuren Vrydag aan Maroela Media gesê.

Tryston het Maandagaand die eerste operasie ondergaan kort nadat hy met ʼn noodhelikopter na dié hospitaal vervoer is.

“Die behandeling wat hy in dié trauma-eenheid ontvang het, was uitstekend. Hy het Donderdag ʼn operasie ondergaan en ʼn dag later sit hy al regop. God is so goed. Dis net ongelooflik.”

Hy sê sy seun het weer Vrydag vir hom gesê: “Sien, my Koning kyk nog steeds na my.”

Hoewel hy nou en dan pyn het, sê Jansen van Vuuren Tryston is uiters gemotiveerd.

Hy sal na verwagting sowat ses tot agt weke in die hospitaal deurbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Sy kop werk reg. Hy wil beter word. Gelukkig is hy nog te jonk om vir ‘n kar te vra.

Elizabeth ·

God se genade is groot.
Sterkte jong man. Seker ma en pa het al die kaasburger gebring.

Willem ·

‘n Mens kan hierdie dapper kind net sterkte en volle genesing toebid.

Strandloper ·

Mooi jou sterk boerklong. Jou gesig se dit alles! Sterkte en probeer volgende keer eerder n bicycle tyre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.