Sewe EMPD-lede vas vir moord, aanranding

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die onafhanklike polisie‑ondersoekdirektoraat (Opod) het die afgelope naweek sewe lede van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) in hegtenis geneem.

Die vyf konstabels en twee inspekteurs staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en dwarsboming van die gereg.

Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, sê die beamptes sal na verwagting Maandag vir die eerste keer in die Tsakane-landdroshof in Ekurhuleni, Gauteng, verskyn.

Volgens Suping het die betrokkenes enkele dae voor hul inhegtenisneming op ʼn informele woning toegesak waar hulle vier mans aangetref het. Twee van die mans het geslaap, terwyl die ander twee besig was om televisie te kyk.

Toe die beamptes die woning betree, het twee van die mans op die vlug geslaan.

“Twee van die sewe beamptes het die mans agternagesit en die ander lede het by die ander twee mans in die woning agtergebly,” sê sy.

“Die twee mans in die woning is na bewering deur die beamptes aangerand. Hulle het glo hiertydens geweerskote gehoor en ook gehoor hoe een van hul vriende om hulp roep.”

Die beamptes het die woning verlaat en die slagoffers is na buite om na hul vriende te soek. Een van hulle is glo met twee skietwonde aan sy regterbeen op die grond aangetref.

“Op pad hospitaal toe het die drie mans weer paaie met die sewe metropolisiebeamptes gekruis en hulle gevra waar hul vriend is,” sê Suping.

“Die beamptes het beweer dat hulle nie weet nie omdat hy weggehardloop het.”

Die drie mans het kort daarna ʼn saak van poging tot moord teen die metropolisie aanhangig gemaak. Al sewe beamptes is verbonde aan die Tsakane-polisiestasie.

By die polisiestasie is hulle in kennis gestel dat hul vriend dood agter ʼn ander woning in Langaville, nie ver van hul eie tuiste nie, aangetref is.

Die oorledene se liggaam is na die patologiedienste in Springs geneem, waar ʼn nadoodse ondersoek Sondag afgehandel is. Die uitslag van die nadoodse ondersoek is nog nie aan die publiek bekend nie.

Dit is ook nog nie duidelik wat die motief vir die beweerde aanranding en moord was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Keelvol ·

Geld dit vir Oscar pistorius en vir Chris hani se moordenaars ook? Vra namens n vriend.

Jakes ·

Hoeveel kriminele loop in uniforms rond? Hordes as jy my vra.

JohnnyS ·

Hier is meer agter die saak as jy my vra. Mense is vinnig om negatiewe uitlatings te maak op ‘n skrapse media berig.

Nie Verbaas ·

Weereens. Perfekte voorbeeld van mag in die hande van swak opgeleide arrogante dommes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.