Situasie by Durban-hawe ‘beroerd’

Herstelwerk na groot infrastruktuurskade aan die Durbanse hawe vorder, maar sommige rolspelers sê die situasie is steeds beroerd. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Hoewel dringende herstelwerk aan die Durbanse hawe vorder, sê die motorverkoopbedryfvakbond Misa die situasie bly in hierdie stadium steeds “beroerd”.

Die hawe is weer funksioneel, maar Sonja Carstens, woordvoerder van Misa, sê die agterstand van vraghouers wat nog nie versend is nie, is steeds nie uitgewis nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn opeenhoping van duisende van dié houers word ondervind nadat voorverlede week se oorstromings in KwaZulu-Natal groot skade aan infrastruktuur aangerig het.

Reusewerk word sedertdien gedoen om die skade te herstel en die algehele netwerk weer op dreef te kry.

Volgens Carstens is daar in hierdie stadium egter nog geen aanduiding van hoe lank die opeenhopings gaan duur nie.

“Al Misa se lede by handelaars, paneelkloppers en ander diensverskaffers sê dit is ʼn nagmerrie weens die gewag op onderdele. Dit veroorsaak dat die herstelwerk van motors stilstaan omdat daar op ʼn enkele komponent gewag word wat juis via Durban ingevoer word,” sê Carstens.

“Daar is ook nog skepe wat nie hulle vragte kon aflaai nie en dan is dié hawe se historiese probleem met die opeenhoping van vragmotors wat wag om vragte af te haal, verviervoudig.”

Carstens sê Misa vrees as die situasie so voortduur, die verskillende rolspelers in die voorsieningsketting kontantvloeiprobleme kan ontwikkel wat tot die aflegging van werkers kan lei.

“Ons is baie gelukkig met die fantastiese werk wat die eThekwini-munisipaliteit, Transnet en die departement van openbare ondernemings tot dusver gedoen het,” sê hy.

Die internasionale skeepsmaatskappy Maersk het die afgelope naweek ʼn beroep op klante gedoen om vraghouers by Pier 1 en Pier 2 te gaan afhaal en die maatskappy sê hy werk nou saam met die Transnet-haweterminaal (TPT) en ander klante om te verseker vraghouerterminale bly beweeg.

Vertragings onvermydelik

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die munisipaliteit moet intussen verseker dat maatskappye gedwing word om die vraghouers wat meegesleur is, af te haal of te verwyder.

Verskeie haweterminale is reeds operasioneel en sommige produkte word as gebeurlikheidsmaatreël na hawens soos dié by Kaapstad, Gqeberha en selfs Maputo herlei, sê hy.

“Sake is aan die gang om te verseker alles vloei, maar dat daar vertragings gaan wees … dit is seker,” sê Van der Rheede.

Die organisasie is oor die algemeen ook tevrede met die vordering wat tot dusver gemaak is en Agri SA hou ʼn fyn oog oor enige verwikkelinge. Probleme word dadelik onder die aandag van Transnet gebring.

Talle infrastruktuurprobleme, soos paaie, brûe en selfs elektriese kabels wat verspoel het of beskadig is, val egter nie onder die prerogatief van Transnet nie en moet deur die plaaslike owerheid hanteer word.

Meer as R1 miljard se noodlenigingshulp is reeds aan KwaZulu-Natal bewillig en Van der Rheede vra dat daar prioriteit aan die herstel van infrastruktuur, sowel as hulp aan mense, gegee word.

ʼn Krisistaakspan, die Sakekontinuïteit-bestuurstaakspan vir Gure Weersomstandighede, wat onder meer bestaan uit senior bestuurders van Transnet, asook die land se groot sakestrukture, is reeds op die been gebring en gee terugvoer oor vordering en uitdagings met herstelwerk.

Dit hou die bedryf byvoorbeeld op hoogte van watter kritieke vrag die hawe moet binnekom, hoeveel skepe buite die hawe voor anker lê en hoeveel reeds binne die hawe is, en gee ʼn oorsig oor die assessering van terminale en ander infrastruktuur.

Herstelwerk vorder

Justin Chadwick, hoof van die Sitruskwekersvereniging, sê werk aan paaie soos Bayheadweg vorder minstens fluks.

Die skade aan die pad was een van die grootste bronne van kommer omdat dit aanvanklik beteken het dat voertuie nie die hawegebied kon binnegaan nie en dit tot opeenhopings bygedra het. Herstelwerk aan die pad is aanvanklik op ʼn maand of twee geraam, maar dit lyk in hierdie stadium of dit veel vinniger afgehandel sal wees.

Chadwick sê is een van die grootste uitdagings is nou om genoeg vraghouers te bekom om produkte in te verskeep. Talle leë vraghouers is in die vloedwater meegesleur en heelwat daarvan is beskadig – met sommige wat glad nie weer herstel sal kan word nie. Om vrugte te vervoer, moet die houers deeglik skoongemaak word en dit moet aan bepaalde veiligheidstandaarde voldoen.

“Ons is egter nog vroeg in die seisoen en daar is nie tans geweldige groot volumes produkte nie,” sê Chadwick. Dit beteken die hoeveelhede is minstens nog hanteerbaar.

Vroeë suurlemoene en mandaryne, sowel as pomelo’s, is sommige van die produkte wat tans uitgevoer word. Indien die probleme by die hawe egter vir te lank voortsleep, kan dit ʼn al hoe groter kopseer vir produsente word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Almal moet maar hulle moue oprol en begin werk om alles skoon en reg te kry hoe vinniger hulle werk hoe vinniger sal die ekonomie ook verbeter vir almal

Ronel ·

Nou hoekom word vragte nie ook na Richardsbaai se hawe gely nie, is baie nader aan Durban as PE, Kaapstad & Maputo.

Nico ·

Daar is genoeg werk maar die mense is nie bereid om vir die salaris wat aangebied word te werk nie.

Hennie ·

Nog n doodskoot vir die ekonomie. ANC kon nie eers wat daar was in stand hou nie, watwou dit weer herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.