Skietvoorval by skool eis man, kind

letaba-hospitaal-brand

Argieffoto

’n Gr. 6-leerder en ‘n oupa is dood ná ’n skietvoorval Woensdag buite ‘n skool in Katlehong, sowat 35 km van Johannesburg.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 17:45 buite die Izibuko Primary school plaasgevind.

Volgens Dlamini het die oupa en sy vrou hul twee kleinkinders, albei in gr. R, by die skool gaan oplaai ná ’n skooluitstappie toe onbekende mans in ’n Toyota Quantum-bussie in die verbyry op hulle losgebrand het.

Die oupa is op die plek doodgeskiet terwyl ‘n 12-jarige meisie, wat ook ‘n leerder aan dié skool is, in die proses deur ’n dwaalkoeël getref is.

Dlamini sê dat die leerder na ’n hospitaal gehaas is vir mediese behandeling. Sy het egter op pad na die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Volgens Dlamini is die motief vir die voorval nie in dié stadium bekend nie en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Die polisie is nog besig om ooggetuies te ondervra,” het Dlamini bygevoeg.

’n Saak van onder meer moord en poging tot moord word ondersoek.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys en jeugontwikkeling in Gauteng, het ook vanoggend die skool besoek. Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het gesê die skietery hou vermoedelik met taxigeweld verband.

Khume Ramulifho, die DA se skadu-LUR vir onderwys in Gauteng, het intussen die voorval ten sterkste veroordeel en namens die DA medelye aan die familie asook leerders en onderwysers van die skool betuig.

“Ons doen ʼn beroep op die Gautengse onderwysdepartement om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om te verseker dat ons skole en omliggende gebiede veilige ruimtes is,” het Ramulifho gesê.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rouline ·

Liewe Hemel waar gaan ons heen. Nee kyk dit raak nou bietjie erg hoor, is ons en ons kinders nerens meer veilig nie. Ek weet nie wat die motief was dat daar op die pa geskiet is nie, maar die vet weet dat n onskuldige kind moes sterf. Skaam julle.

Jacoba ·

Rouline lees weer, dit was die OUPA en nie die PA nie wat doodgeskiet is .

Rentia ·

Suid-Afrika is nou erger as die Wilde Weste!!!! En ons regering het GEEN beheer!!!! Uiters kommerwekkend.

JohanR ·

Elke keur dat die perde mis die waaier slaan, dan begin Cyril Ramaphosa nog ‘n kommissie!

Ek se net ·

Ek is soooo bly ek het my familie uit die
land geneem.
Ek wens ek kon al my geliefdes saam bring

Leon ·

‘n Man word doodgeskiet. Poging tot moord. Waaaat!!! Dit is moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.