Skole gereed om Maandag te heropen

Skole in Gauteng word skoongemaak. (Foto: Verskaf)

Die meeste skole is gereed om Maandag 8 Junie te heropen en die departement van basiese onderwys sal verseker dat alle leerders Maandag weer begin skoolgaan. Dit sal onder meer behels dat leerders wie se skole nog nie gereed is nie, in buurskole of ander beskikbare plekke skoolgaan.

Só het minister Angie Motshekga Sondag tydens ʼn virtuele perskonferensie gesê.

Skole moes al op 1 Junie heropen het, maar omdat die meerderheid skole nie betyds die nodige veiligheidstoerusting ontvang het of die skool behoorlik kon skoonmaak nie, is dié datum uitgestel tot 8 Junie. Van die skole, veral skole in die Wes-Kaap, het wel die afgelope Maandag heropen.

“Skole het die afgelope week hard gewerk en groot vordering is gemaak om te verseker skole voldoen aan al die gesondheid- en veiligheidsmaatreëls sodat Covid-19 nie deur leerders en onderwysers onder mekaar versprei word nie.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. (Foto: ANA)

Luidens ʼn verslag wat Sondag voorgelê is, is 23 100 uit die 23 675 skole landswyd (97%) gereed verklaar. Enkele skole in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga is nog nie gereed om oop te maak nie.

Volgens die minister is van die skole se vordering bemoeilik deur vandalisme en die onderskep van toerusting op pad na skole.

“Ons is steeds vasbeslote dat skole nie kan oopmaak voor alle maatreëls ingestel is nie, maar ons kan ook nie toelaat dat enige leerder agterweë gelaat word nie. Daarom sal leerders wie se skole nog nie gereed is nie, op ander persele geakkommodeer word.”

Onderwysvakbonde het in ʼn gesamentlike verklaring Sondag gesê hulle is tevrede daarmee dat skole Maandag heropen, aangesien hulle nie meer ʼn wesenlike gesondheidsrisiko vir leerders en onderwysers inhou nie.

Motshekga sê haar departement sal nou voortgaan om die situasie te monitor en ook begin gereedmaak vir die tweede groep leerders wat op 6 Julie na skole moet terugkeer. Sy het weer gesê dat ouers wat angstig of ongemaklik is om hul kinders terug te stuur skool toe, kinders tuis mag onderrig en dat die departement ook binnekort planne sal bekendmaak om dié ouers tegemoet te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik hoe die magsmal ANC sy eie onbevoegdheid oor 26 jaar so ewe afspeel teen n VIRUS se ongekende gevolge? GEEN verandwoordbaarheid teenoor MILJOENE wat hulle gerieflikheids halwe honger, ongeskoold, afhangklik en manupileerbaar los. En elke kader ontplooide doen dit gewetenloos!

Anel ·

Skole is alreeds vol. Nou waar gaan hulle die indruk wat hulle skole afgebrand en geplunder en gevandaliseer het? Hoeveel skile het hulle die afgelope 26 jaar gebou en hoe is die bestaande skole in stand gehou?

Jaco ·

97% skole gereed. Regtig?, Minder as ‘n maand gelede was daar dan nog talle berigte van inbrake en diefstal by klomp skole. Iets maak nie sin nie.

Willem ·

Daai klomp wat nie gereed is nie moet maar daar bly vir nog 26 jaar. 70% van die werk hoef hul mos nie te ken nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.