Skool vra vir kalmte ná kind gegryp word

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die skool waar ʼn leerder na bewering vroeg Woensdagoggend deur drie onbekende mans ontvoer is, het sedert die voorval sy veiligheidsmaatreëls opgeskerp en gevra dat leerders, ouers en voogde in dié tyd kop sal hou.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn 11-jarige leerder van Laerskool EP Baumann in Mayfair, Johannesburg, voor haar skool gewag het om teen Covid-19 ontsmet te word toe mans haar met ʼn vuurwapen gedreig en ontvoer het.

Die polisie het sedert die beweerde voorval nog nie die kind se verdwyning of besonderhede daaroor bevestig nie. Die polisie reageer ook nie op medianavrae nie.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het wel in antwoord op Maroela Media se navraag gesê die polisie kan nie enige inligting in verband met ontvoerings deurgee nie.

“Dit is ons beleid om nooit oor ontvoerings te praat nie, aangesien dit moontlik die lewe van die slagoffer in groter gevaar kan stel.”

Intussen het die skool in ʼn omsendbrief, wat Maroela Media onder oë gehad het, gesê ʼn aantal veiligheidsmaatreëls is getref om die res van die leerders te beskerm.

“Die veiligheid en emosionele welstand van al ons leerders is ons topprioriteit op die oomblik,” het die skool gesê. “Distriksowerhede, die polisie en veiligheidspersoneel monitor die skool, terwyl die veiligheidsdienste ook opgeskerp is.”

Die skool het verder benadruk dat die ontvoering ʼn beplande en geïsoleerde geval is en dat beraders vir die res van die week by die skool sal wees vir diegene wat deur die voorval getraumatiseer is.

“Wees asseblief vertroos deur die feit dat die situasie by die skool onder beheer is.”

Luidens die omsendbrief het die skool ook die ouers en voogde aangeraai om kalm te bly en nie allerlei bewerings op aanlynplatforms te deel wat meer skade kan verrig nie.

“Ons vra dat alle betrokke partye nie oor die voorval moet spekuleer of verdere paniek saai nie, juis as gevolg van die sensitiewe aard van die saak. Terselfdertyd is ons bewus van die emosionele trauma wat sommige ouers, leerders en personeel ervaar.

“Ons gebede is steeds by die familie van die ontvoerde leerder en ons vra dat almal vir haar welstand en veilige terugkoms sal bid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Daar moes tog ooggetuies gewees het, want hoe weet hul dit was ‘n 11 jarige wat gewag het en dat mans haar ontvoer het. Iets maak nie sin nie.

Annelize ·

Daar was ooggetuies, kinders en ander onderwysers wat ook reeds by die skool was.

Herman ·

Binnekort gaan almal Colombia toe emigreer. Dis veiliger daar.

ABDP ·

Ons hoop van harte sy word gevind!!!!! Tyd dat die belaglike sanitering end kry, as sy dadelik kon instap by die skoolgronde sou dit voorkom kon word. Ons het meer maagvirusse in ons dorp a.s.g van vuil water as COVID 19 gevalle!!

Byekonfyt ·

As ek na die afgelope maande se nuusberigte kyk, voel dit vir my of ek in ‘n donker Afrika woon. Wreedheid i.p.v. naasteliefde. Mag daar redding vir ons land kom.

Frederik C ·

” om teen Covid -19 ontsmet te word ” ???? Waar krap Maroela al hierdie 30% matriekulante uit ?

Waarnemer ·

En intussen is die kind nog steeds weg….j”ammer ons kan nie enige inligting oor die kind gee nie” PATETIES van die polisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.