Skryf Gautengse gr. 1’s en 8’s gou in  

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Gou spring om voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders in Gauteng vir die 2024-skooljaar in te skryf.

Dit is die boodskap van Solidariteit se Onderwysersnetwerk nadat aanlyn registrasie vir skooltoelating in dié provinsie Donderdag om 08:00 geopen het. Dit sluit op 14 Julie om middernag.

Ouers het dus ʼn maand om hul spruite in te skryf, maar word versoek om dit vroeër eerder as later te doen.

“Met beperkte plekke in skole wil ons ouers aanmoedig om so spoedig moontlik hulle kinders te registreer om sodoende te verseker dat hulle in die skool van hul keuse geplaas word,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit.

Hy sê die mobilisering van ouers om hulle kinders onmiddellik in te skryf en daarop aan te dring dat hulle by die skool van hulle keuse geplaas word, is “uiters noodsaaklik”.

“Die vraag na moedertaalonderrig groei steeds en Afrikaanse skole is ʼn onmisbare deel van die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap. Die voorkeurtaal van onderrig en moedertaal moet ook op die aanlyn platform aangedui word.

“Een van die belangrikste besluite wat ʼn ouer neem, is by watter skool hul kinders onderrig gaan ontvang. Met hierdie stap neem ouers nie net ʼn doelbewuste besluit ten opsigte van die toekoms van hul kind(ers) en die aard van die onderrig wat hulle gaan ontvang nie, maar hulle verbind hulself ook tot daardie skoolgemeenskap.

“Deur aktief deel van ons skoolgemeenskappe te wees kan ons as ouers saam met onderwysers werk en ons skole só bestuur dat dit in die beste belange van ons kinders voorsien.”

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in die provinsie, het vroeër gesê daar is verbeteringe aan die aanlyn stelsel aangebring en dat “dit veel beter sal werk as voorheen”.

Ouers moet aanlyn intekenbesonderhede (ʼn gebruikersnaam en wagwoord) op die departement se portaal skep en hulle sal hierdie besonderhede gebruik om later weer toegang tot die stelsel te kry.

Chiloane het mense ook gemaan om elke stap in die proses noukeurig te volg.

Ouers sal deur ʼn SMS terugvoer oor vordering met die aansoek ontvang.

Die eerste plasings sal op 4 September gedoen word en ouers word versoek om aanbiedinge so gou moontlik te aanvaar sodat ruimte vir ander in die stelsel geskep kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JvR ·

Wat interesant is,is dat voorheen afrikaanse skole, nou lyk soos taxi ranks soos kinders daar afgelaai word. So die meeste van die leerlinge is nie van die gebied nie, maar word aangery van ander gebiede

Papsak ·

Ja ek stem daar word vir hulle voorsien van vervoer maar ons moet self sien en ons kids by skoke kry hoekom so onregverdig wat is hulle beter as ons kids kom se my ons kinders oresteer by myle beter as hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.