Skrywer (81) met passie vir Israel sterf

Marzanne Leroux-Van der Boon (Foto: Marzanne Leroux-Van der Boon/Facebook)

Die Afrikaanse skrywer Marzanne Leroux-Van der Boon is Woensdag in die ouderdom van 81 dood.

Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, het dié nuus van Leroux-Van der Boon se dood op Facebook bevestig.

“Ons verneem met groot hartseer en leedwese van die afsterwe van geliefde skrywer Marzanne Leroux-Van der Boon. Sy sal altyd onthou word vir haar liefde vir Israel en die Joodse kultuur,” lui die plasing.

Onder die 27 boeke wat uit haar pen verskyn het, is daar onder meer prosawerk, kortverhale, jeugromans en vertalings.

Leroux-Van der Boon is veral bekend vir haar liefdesromans – wat allerhande etiese en aktuele kwessies aansny – en sy het ook ʼn passie vir Israel gehad, wat die afgelope paar jaar uitgeloop het op 11 gewilde romans wat in daardie land afspeel.

Die wag vir die somer (1981), ʼn jeugverhaal uit Leroux-Van der Boon se pen, is in 1982 as die naaswenner in Sarie en Tafelberg-Uitgewers se jeugverhaalwedstryd aangewys.

Haar novelle “Goud uit strooi”, wat later in die versamelbundel Bittersoet sewe: liefdesnovelles (1991) opgeneem is, het in 1988 Sarie/ATKV se novelle-wedstryd gewen.

Verder is haar roman Klaprose teen die wind in 1993 met die FAK/Helpmekaarfonds-prys vir ontspanningsleesstof bekroon. Die Afrikaanse Skrywersvereniging het Leroux-Van der Boon in 2004 met die Patrick Petersen-prys vereer vir haar skryfwerk, en in dieselfde jaar het sy die ATKV-prosaprys en die Christelike Boekhandelaars-prys vir fiksie vir Granate bloei in Jerusalem ontvang.

Die oorsaak van Leroux-Van der Boon se dood is nie in hierdie stadium bekend nie. Sy word oorleef deur haar dogter, Lenska, en seun, Armand, en twee kleindogters, Aliyah en Laylah.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is tragies dat mense van hierdie stoffasie moet gaan maar ten minste los sy ‘n positiewe nalatenskap en deel sy baie se liefde en respek vir ‘n trotse nasie en land soos Israel.

Samuel ·

Dit is ‘n groot verlies om van Le Roux van der Boon se dood te hoor. Haar nalatenskap is groot. Ek het haar boeke verslind. Haar kennis van die Joodse kultuur was fenominaal. Rus in vrede.

Agie@toeka ·

Dis nou baie hartseer! Ek het al haar boeke gelees en lees dit weer oor, so goed en fantasties is dit geskrywe! Ek was 3 jaar terug in Israel en toe ek terug keer lees ek die boeke en als was so fantasties raak beskryf dat asof ek weer van voor af daar was. Ek is passie vol oor die jode en sy het dit vir my verdiep. Haar afsterwe is n groot nasionale verlies vir die afrikaans sprekende mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.