Slagboomkruising: ‘Hoeveel moet nog sterf?’

(Foto: Skermgreep uit video)

“Hoeveel mense moet nog met hul lewe boet voordat daar iets aan die sogenaamde kruising van die dood op die N11 en D2534 naby Marble Hall in Limpopo gedoen word?”

“Hoeveel families moet nóg hul geliefdes aan ʼn wrede dood by die Slagboomkruising afstaan?”

Dít is net sommige van die vrae nadat nog ʼn gru-ongeluk by hierdie dodelike padaansluiting die afgelope naweek nog ʼn lewe geëis het.

Volgens Flip Jacobs, ʼn DA-raadslid op Marble Hall, het minstens 50 mense sedert 2015 in ongelukke by dié padaansluiting gesterf. Hy sê gru-ongelukke – dikwels noodlottig – vind soms tot twee keer per maand op dié paaie plaas.

“Dit is doodeenvoudig weens die absolute treurigheid van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) dat ál meer mense slagoffers van hierdie problematiese kruising word.

Die Rossouws se uitgerande Datsun (Foto: Verskaf)

“Afriforum-buurtwag in Marble Hall het onlangs kameras vir veiligheidsdoeleindes by die kruising aangebring, maar dit gaan nie die ongelukke verhoed nie. Die kruising is al vir jare ʼn probleem. Die pad is in 2015 opgeknap – en dit is waar die probleme begin het,” sê Jacobs.

Jannie Beeslaar, hoof van AfriFforum-buurtwag in Marble Hall, het ook benadruk hoe gevaarlik die Slagboom-kruising is.

“Dit is ʼn verskriklike probleem wat al jare lank tragiese ongelukke veroorsaak en talle lewens op die wreedste denkbare maniere geëis het. Soveel mense gaan dood of doen ernstige beserings by hierdie kruising op.

“Ons het destyds as buurtwag ingespring en ʼn kamera – met die doel vir beter veiligheid in die omgewing – by die kruising laat installeer. Dit het sedertdien vir ons ʼn beter idee gegee van hoe die ongelukke plaasvind en wat presies skeefloop. Die kameras wys hoe grusaam die ongelukke is – as mens die video’s sien, besef jy hoe tragies die mense by die kruising sterf.”

Hy sê drastiese stappe moet dringend gedoen word om die veiligheid van motoriste op hierdie paaie te verseker.

“Die Paasnaweek wat voorlê, is vir ons ʼn groot kommer, ek kan jou nou al waarborg dat daar weer ongelukke die komende naweek by die dié kruising gaan plaasvind.”

Maroela Media het vroeër berig Pieter Rossouw (48) en sy seuns, Jannie (13) en JP (10), is op 18 Augustus 2019 in ʼn ongeluk by die berugte padaansluiting dood. Die bestuurder van ʼn Nissan Navara het glo ʼn stopteken verontagsaam en teen die gesin se bakkie gebots. Die Rossouws se bakkie het weens die slag gerol en in ʼn sloot langs die pad beland, waarna die brandstoftenk ontplof het.

Met reddingswerkers se aankoms was die voertuig in vlamme gehul en hulle kon niks doen om die pa en sy seuns te probeer help nie.

(Foto: Verskaf)

Op 3 April 2021 het die 37-jarige Tiaan Schoeman – wat binnekort pa sou word – die soveelste slagoffer van die padaansluiting geword.

Schoeman het op die dorp gholf gespeel en omstreeks 20:45 van die gholfbaan na die familieplaas in sy Toyota-bakkie gery. By die oorgang het die bestuurder van ʼn Toyota-motor glo nie stilgehou nie en Schoeman se bakkie aan die passasierskant getref.

Schoeman se vriendin, Liza-Mari van Heerden (22), wat ook in die voertuig was toe die ongeluk gebeur het, was in daardie stadium 22 weke swanger met die paartjie se eersteling. Van Heerden het minder ernstige beserings opgedoen.

Maroela Media het ook video’s gesien wat wys hoe twee voertuie in afsonderlike voorvalle teen ʼn vragmotor by die oorgang bots.

(Foto: Skermgreep uit video)

Inwoners van die gebied het oor die jare al talle briewe aan die betrokke owerhede gerig om die padaansluiting beter te beveilig. Die DA het ook kort ná Schoeman se dood ʼn petisie van stapel gestuur sodat iets daadwerkliks aan die probleem gedoen kan word.

“Meer as 2 500 mense landwyd het die petisie aanlyn ondersteun. Ons het die petisie aan die uitvoerende hoof van Sanral, die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo en die Nasionale Raad van Provinsies gestuur,” sê Jacobs.

Die petisie het Sanral, wat vir al twee paaie – waar die D2534 met die N11 kruis – verantwoordelik is, versoek om:

  • Voldoende padtekens vir verkeer uit alle rigtings voor die aansluiting aan te bring;
  • Spoedwalle of -hobbels op die pad voor die aansluiting te bou;
  • Katogies (weerkaatsers) in die pad te installeer omdat sigbaarheid saans uiters swak is;
  • Nuwe versperringslyne op die padoppervlak te verf wat die verbysteek van voertuie verbied; en
  • Onwettige smouse langs hierdie paaie te belet aangesien hulle sig belemmer wanneer motoriste die aansluiting nader.

“Ons het tot vandag geen terugvoer hieroor ontvang nie,” sê Jacobs.

Hy sê ses gesinslede is sowat ʼn maand gelede ook by die Slagboomkruising in ʼn botsing dood. Die afgelope naweek het ʼn ongeluk nóg ʼn lewe geëis. Drie voertuie was in die ongeluk betrokke en die aansluiting moes tydelik gesluit word.

“Talle privaat ondernemings wou al self betaal om spoedhobbels op hierdie paaie op te rig, maar omdat dit nasionale paaie is, moet toestemming hiervoor verkry word. Dit beteken dat hierdie ondernemings die verantwoordelikheid vir moontlike toekomstige ongelukke en sterftes op dié paaie sal moet aanvaar.

“Dit is ʼn té groot risiko vir ondernemings omdat daar soveel noodlottige motorongelukke hier plaasvind.”

Annali Connear (51), suster van die pa wat in 2019 saam met sy kinders by die padaansluiting verongeluk het, sê talle mense het voor haar broer en sy kinders daar gesterf – en talle ná hulle.

“Absoluut niks word aan hierdie problematiese kruising gedoen nie. Só baie mense moes hul lewe op hierdie tragiese manier verloor; soveel families moes hul geliefdes op daardie twee paaie afstaan. Ons pleit en smeek al jare dat iets daaraan gedoen moet word, maar dit blyk op dowe ore te val.”

Daar is wel ʼn paar jaar gelede ʼn bord aangebring wat motoriste waarsku dat die aansluiting ʼn hoë gevaar vir ongelukke inhou, maar volgens Connear en Jacobs maak dit geen hond haaraf nie.

Connear meen dat dit in ʼn vierrigting-stopstraat verander moet word.

“Dit is tans net ʼn tweerigting-stop. As die owerhede wat vir die paaie verantwoordelik is dit ʼn vierrigting-stop kan maak en spoedhobbels kan oprig, sal soveel lewens gered word.”

Sy meen dat groter kennisgewingborde wat motoriste waarsku om spoed te verminder ook talle lewens kan red.

“Die smouse langs die pad is nie noodwendig die probleem nie; die oplossing is spoedhobbels, groter kennisgewingborde en ʼn vierrigting-stopstraat.

“Solank as wat dít nie gedoen word nie, sal die tragiese ongelukke voortduur.”

Maroela Media het navrae aan Sanral, die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo en die Ephraim Mogale-munisipaliteit gestuur. Hul terugvoer sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

In case you missed it. Car ignores stop sign knocks off truck killing trucker

Posted by SA Trucker on Monday, March 4, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Griesel ·

Sleep die owerhede hof toe. Dan sal iets vinnig gedoen word…

Kobus ·

Asseblief, help my as ek verkeerd is? Ek was nou op Google maps by die kruising van die N11 en die R33. Hierdie video was nie daar opgeneem nie. Dit is ‘n T-aansluiting by ‘n swaar voertuig beheer punt. Die video is by die kruising van die N11 en R573 en daar is vir die voertuie wat op die R573, die N11 nader, stop tekens in plek. Dit is nie die pad nie. Dit is eenvoudig padgebruikers wat geen respek het vir pad reëls en ander gebruikers nie en sodoende dood en verwoesting saai. Al wat gaan help is polisiëring by die kruising. O ja, dis wensdenkery.

Cherokee ·

JN, probeer iets nuuts. Iets oorspronklik. Dit mag dalk vir jou nuus wees, maar ongelukke gebeur nie net in Afrika nie.

Henk ·

Ek dink die beste oplossing vir hierdie probleem is om die kruising te verander na ‘n verspringende kruising sodat bestuurders gedwing word om spoed te verminder en te draai want stop sal hul nogsteeds nie stop nie.

MARELIZE ·

Ek stem 100% saam, Kobus. Dis die verbruiker, nie die pad nie. Dis lisensies wat met ‘n hand onder die tafel verkry word, dis ‘n traak-my-nie-agtigheid jeens alle verkeersreëls. Geen ekstra stoptekens spoedwalle ens sal dit verander nie.

Die N11 as nasionale pad, behoort sonder stopstrate te kan funksioneer, maar agv swak padgebruikers is daar tientalle stoptekens, spoedwalle ens al op hierdie pad aangebring (Kranspoort as voorbeeld), met geen verbetering in ongelukvoorkoms nie.

Wat help spoedbordjies, stoptekens, padmerke as die verbruiker sy alie daaraan afsmeer?

In die video is dit duidelik, daardie motorvoertuig het nie eens spoed verminder nie!

christo ·

Limpopo is saam met Noordwes die swakste regeerde provinsies. As Sanral nie eens bereid is om spoed walle en vierrigting stoptekens te op te rig nie, dan moet Pandor vir die wêreld wys hoe swak die ANC regtig is.

Bolandse Nooi ·

Dit is nie die PAD wat die ongelukke en sterftes veroorsaak nie, maar die PADGEBRUIKERS. Geen mate van strepe verf, waarskuwingsborde opsit, spoedwalle- of riffels of stoptekens opsit en dit ‘n 4-rigting stop maak, sal die ongelukke en sterfgevalle daar verminder nie. Ons ken mos die mensdom: maak ‘n reël en daar is sekeres wat daardie reël GAAN verbreek net omdat hulle wil en mag. VOLGEHOUE WETSTOEPASSING is die oplossing, maar dié is mos …eh… maar aan die skraal kant onder die huidige bedeling.

Danie ·

Dit help nie om enige owerheid in SA hof toe te sleep nie.
Die oplossing is om die grootkoppe in hul persoonlike hoedanigheid hof toe te vat en klagtes en eise direk teen hulle aanhangig te maak.
Dis makliker om non-compliance van n enkel persoon te bewys as van n hele organisasie en sodra die eerste paar ouens begin tronkstraf uitdien of reuse boetes ontvang sal die boodskap gou versprei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.