Slagboomkruising: ‘Ons het alles gedoen, maar motoriste verontagsaam reëls’

(Foto: Skermgreep uit video)

Dit is ʼn dodelike padaansluiting wat die afgelope paar jaar reeds die lewe van talle mense geëis het.

Inwoners en ander motoriste wat gereeld van die N11 en D2534 naby Marble Hall in Limpopo gebruik maak, verwys al na die berugte Slagboomkruising as “die kruising van die dood”.

Terwyl kommer toeneem en vrae oor die veiligheid van die kruising voortduur, worstel vervoerowerhede om oplossings te vind en verdere lewensverlies te voorkom.

Maroela Media het vrae aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, asook die padagentskap in Limpopo (RAL) gerig oor watter maatreëls ingestel kan of gaan word om ongelukke te verminder.

Die owerhede skryf die rede vir die vlaag voortgesette ongelukke egter hoofsaaklik aan een oorsaak toe: Motoriste hou nie by die padreëls nie.

Volgens die amptelike syfers wat deur die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo verskaf is, is 36 voertuigongelukke oor die afgelope nege jaar by die padaansluiting aangemeld. Dit het 32 sterftes tot gevolg gehad.

Flip Jacobs, ʼn DA-raadslid op Marble Hall, sê die syfers sluit nie die ongeveer 15 sterftes van die afgelope vier maande in nie.

Hy meen dat minstens 50 mense in minder as ʼn dekade in padongelukke by die padaansluiting dood is.

Maroela Media het vroeër berig ingrypende stappe moet dringend gedoen word om die veiligheid van motoriste by hierdie padaansluiting te verseker.

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, sê egter hoewel die nodige padtekens reeds daar is, insluitend stoptekens, dreunstroke en waarskuwingstekens, vind talle ongelukke steeds hier plaas.

“Hierdie gru-ongelukke gebeur omdat motoriste versuim om verkeersreëls op die provinsiale pad (D2534), wat deur die RAL bestuur word, na te kom.

“Die meeste motoriste verontagsaam die stoptekens op die D2534 en die N11 is ʼn besige pad waarvan talle swaar- en ligte motorvoertuie gebruik maak.”

Chuene sê in die jongste voorval het ʼn sedan wat op die D2534 gereis het teen ʼn viertrekvoertuig op die N11 gebots.

“Die sedan kon nie betyds rem nie en dit is hoe die meeste ongelukke by die padaansluiting plaasvind.”

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, het ook benadruk dat verkeer op die N11, waarvoor hierdie padagentskap verantwoordelik is, daagliks hoë verkeersvolumes hanteer.

“Dit is ʼn nasionale roete wat vanaf die Botswana-grens by Groblersbrug, deur Mokopane, Middelburg, Ermelo en Newcastle strek en by die N3 net buite Ladysmith eindig.

“Daar is geen stoptekens by die Slagboomkruising op die N11 van toepassing nie, terwyl die RAL-pad (D2534) by die padaansluiting wel stoptekens het. Die probleem is dat voertuie wat op die RAL-pad ry, nié by die kruising stop nie.”

Hy sê Sanral het verskeie padtekens op die N11 aangebring wat motoriste van die padaansluiting waarsku.

“Die spoedbeperking op die N11 is ook tot 80 km/h verminder en Sanral het selfs padtekens op die D2534 aangebring om motoriste van die stopteken en padaansluiting bewus te maak.

“Die padtekens wat Sanral opgerig het, is voldoende om motoriste van die padaansluiting te waarsku. Die uitdaging is egter dat motoriste die verkeersreëls voortdurend verontagsaam, veral diegene wat op die provinsiale pad ry.”

Hy meen uit ʼn ingenieursperspektief het Sanral alles moontlik gedoen om veiligheidsmaatreëls by die padaansluiting te verbeter.

“Daar is egter ʼn behoefte aan meer sigbaarheid van wetstoepassingsagentskappe en om motoriste wat versuim om die padreëls te gehoorsaam, te vervolg.”

Volgens Mona was Sanral se projekbestuurder op die N11, Ernest Nqenqa, ook in verbinding met sy eweknieë by die RAL om hierdie kwessie onder hul aandag te bring en regstellende maatreëls voor te stel.

Wat gaan gedoen word?

Annali Connear, een van die vele familielede wat ʼn geliefde aan “die kruising van die dood” moes afstaan, het vroeër aan Maroela Media gesê die owerhede wat vir die paaie verantwoordelik is, “moet die padaansluiting, wat tans net ʼn tweerigting-stop is, in ʼn vierrigting-stop verander en spoedhobbels oprig”.

“Solank as wat dít nie gedoen word nie, sal die tragiese ongelukke voortduur,” meen Connear.

Daar is ʼn paar jaar gelede ʼn bord aangebring wat motoriste waarsku dat die aansluiting ʼn hoë gevaar vir ongelukke inhou, maar volgens Connear en Jacobs maak dit geen hond haaraf nie.

Connear meen groter kennisgewingborde wat motoriste waarsku om spoed te verminder, kan lewens red.

Mona hou egter vol dat die grootste uitdaging motoriste se gedrag is.

“Padbeplanning en -ontwerp hang van verskeie faktore af. Dit sluit in verkeersvloei, residensiële gebiede, voetgangerveiligheid en toegang tot ondernemings. Dit is nie so eenvoudig soos om die padaansluiting in ʼn vierrigting-stop te verander nie.

“Motoriste speel ʼn kritieke rol om die probleem te pak. Daar is ʼn behoefte aan padveiligheidsopvoeding om te verseker dat motoriste wat die pad gebruik wel die noodsaaklikheid om verkeersreëls te gehoorsaam, begryp.

“Padveiligheid is Sanral se hoogste prioriteit. Elke padontwerp verseker dat alle padveiligheidsmaatreëls voldoende geassesseer word en aanbevelings tydens bouwerk uitgevoer word. Sanral voer voortdurend samesprekings met die RAL oor die problematiese Slagboomkruising aangesien die probleem meer aan hulle kant lê as op die N11. Ons sal aanhou vergader om ʼn geskikte oplossing te vind.”

Chuene sê verkeersbeamptes word daagliks ontplooi om motoriste te monitor en nakoming van verkeersreëls af te dwing.

“Die departement van openbare werke is ook betrek om meer doeltreffende dreunstroke op die paaie te installeer. Dit sal na verwagting teen einde April gedoen word.

“Om meer dreunstroke te installeer is die korttermynoplossing, saam met wetstoepassers wat spoedoperasies op die N11 rondom dieselfde plek uitvoer.”

Sy sê die departement het in Desember ʼn assessering gedoen en aanbevelings aan Sanral gedoen nadat ʼn ongeluk by die padaansluiting sewe lewens geëis het.

“Ons het die gebied ná die ongeluk besoek en die video’s aangevra van kameras wat deur die AfriForum-buurtwag in Marble Hall by die kruising opgerig is.

“Ons het daarna besef dat daar ʼn groot behoefte aan bystand deur die departement van openbare werke, asook paaie en infrastruktuur is.”

Sy sê nakoming van padverkeersreëls red lewens. “Dít is die boodskap wat ons vir gemeenskappe en motoriste het. Motoriste moet die departement onmiddellik in kennis stel van roekelose bestuur op enige openbare pad, sodat wetstoepassers kan optree teen swak padgebruikersgedrag.”

Luyanda Sithole, woordvoerder van die RAL, sê die doeltreffendheid van die nuwe padtekens wat onlangs aangebring is, sal mettertyd waargeneem word.

“Enige bykomende veiligheidsmaatreëls sal daarna, soos nodig, aanbeveel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk ·

Die enigste oplossing na my mening is om hierdie kruising te verander na ‘n verspringende 4 been aansluiting. Dit sal motoriste verplig om spoed te verminder en te draai. Solank as wat dit ‘n gewone kruising bly sal daar noodlottige ongelukke plaasvind. Geen padtekens van watter aard sal die ongelukke verhoed nie.

jmboonzaaier ·

‘N diamant-oorbrug gaan die beste oplossing bied. Verskonings oor gebrek aan fondse gaan sekerlik die rede wees vir die bou van so ‘n oorbrug. Is die verlies aan lewens nie genoeg rede nie?

Robert ·

Ek stem saam Henk. Geen padtekens sal hond haaraf maak as die bestuurders nie daarop ag slaan nie. Die probleem volgens my is die algemene verontagsaming van alle padreëls wat toenemend voorkom en in meeste gevalle straffeloos gelaat word. Ek was persoonlik meer as een maal getuie van oortredings wat voor verkeersbeamptes gepleeg is en dan is die betrokke bestuurders nie eers gestop nie. Die beamptes ry net aan asof niks gebeur het nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.