Só bevind kommissies oor redes vir Julie-onluste

(Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die onluste in Julie 2021 was goed georkestreer, maar daar kon nie bewyse gevind word dat dit verband gehou het met die destydse inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma nie.

Die oorsaaklike verband van die wydverspreide geweld, vernietiging en algehele onstabiliteit van die onluste in Julie 2021 was ʼn gekoördineerde poging van georganiseerde groepe en individue wat “vrugbare grond” opportunisties uitgebuit het in ʼn poging om die oppergesag van die reg en heersende stelsel van regering wederregtelik toe te eien.

Só het die Menseregtekommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe bevind in sy ondersoek na die onluste. Die uitslag van die ondersoek is Maandag bekend gemaak.

Daar is bevind die onluste kon nie plaasgevind het sonder beduidende belegging in hulpbronne nie en dat daar “twee soorte akteurs” tydens die onrus was. Die “primêre akteurs” het die wydverspreide vernietiging van eiendom gelei en uitgevoer terwyl hulle die “sekondêre akteurs” gemobiliseer het om aan dade van diefstal by winkelsentrums en ander sakepersele deel te neem.

Die tydsberekening van die onluste, wat met Zuma se inhegtenisneming saamgeval het, het volgens die kommissies daartoe gelei dat baie mense tot die gevolgtrekking gekom het dat die twee verwant is. Luidens die kommissies se verslag was daar volgens intelligensieverslae egter al verskeie veiligheidsbedreigings vanaf Desember 2020 te bespeur.

In die lig van die oorkoepelende toestand van gelyktydige onrus, is die kommissies nie voorsien van duidelike bewyse wat spesifieke identifiseerbare groepe of individue noem wat primêre rolspelers in die onluste was nie. “Terwyl die getuienis dui op hoëvlak-orkestrasie in die modus operandi van die Julie-onrus, kon ʼn oorkoepelende gemeenskaplike doel of voorneme nie vasgestel word nie.”

Volgens die kommissies het die onluste te midde van ʼn gespanne sosiale, ekonomiese en politieke tydperk plaasgevind waarin die ekonomie moes herstel ná die Covid-19-pandemie te midde van hoë werkloosheidsyfers, hoë vlakke van wetteloosheid en misdadigheid in die land, sistemiese onbillike diskriminasie en diep sosio-ekonomiese skeidings.

Die regering se tekortkominge om intelligensie en inligting doeltreffend te deel, het ʼn beduidende rol gespeel in die eskalering van die onrus, het die ondersoek bevind. “Dit verwys na die onvermoë om tydige en akkurate inligting oor potensiële bedreigings in te samel en om dit onder relevante sekerheidsagentskappe te deel.”

Daar is verder bevind dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens swak voorbereid was om die georkestreerde aanvalle te hanteer. “Dit kan onvoldoende opleiding, toerusting of hulpbronne insluit om doeltreffend op die situasie te reageer. Die gebrek aan gepaste optrede in reaksie op die aanvanklike tekens van onrus het gelei tot misdadige aktiwiteite soos diefstal, brandstigting en opsetlike beskadiging van eiendom.”

Volgens die kommissies se verslag het die versuim om digitale orkestrasie en aanhitsing stiptelik aan te pak en deur sosiale media en ander aanlyn platforms teë te werk wel die onrus laat eskaleer. “Dit dui daarop dat aanlyn kommunikasie en koördinasie ʼn rol gespeel het om die geweld aan te wakker.”

Die finansiële skade van die onrus word op R50 miljard geraam, en meer as 350 mense is tydens die onluste dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

SwartBees ·

Twak! Die twee loop hand aan hand saam. Julle kaders glo dalk die twak. Ek nie.

Wit Leeu ·

Grootste klomp twak ooit ! Die land en alles daarin is so pateties ek kry skaam om te sê ek bly hier !!!

Rooikopheks ·

April grappe kom vroeg die jaar, of is dit net dat die kommissies betaal word om nonsens te gorrel. Almal weet waar die onrus begin het, maar moet tog asb nie die skuldiges verantwoordelik hou nie. Swak, baie swak.

Marthinus Johannes ·

Aan die eenkant veroordeel hulle JZ en aan die anderkant beskerm hulle hom. Sopas geared van tronkstraf –eendag in en volgende dag uit–. Vandag CR but JZ uit die parlement uit gewerk het Sorg CR dat JZ nie tronkstraf uit dien nie.

Ore ·

Dis baie vaag. Ek sien geen name nie. Ons weet wie dit is maar sal bevestiging wil sien.

Shakespeare ·

Die een kommissie wil meer onbevoeg, onnosel en pateties wees as die ander. Ek is sprakeloos !!!

Guillaume ·

Die sogenaamde Mense Regte Kommissie se betrokkenheid maak enige ondersoek en bevinding verdag, die ander kommissie (dra geen kennis van hulle) se betrokkenheid verminder hulle geloofwaardigheid.

annie ·

En hoeveel van die regstellende-aksiejane is al gestraf? Die polisie was vreeslik behulpsaam. Met wie sal ons maar swyg. Werk die apparate nog, of is die volgende plan van aksie al gereed? Sal Zuma weer die skuld moet dra wanneer hy woedend reageer op die ANC se vyandige optrede teen sy skild-en-spies- brigade?

Frank ·

Eintlik is dit wel logies dat kriminele elemente Zuma se inhegtenisname as gulde geleentheid kon sien en uitbuit en die hooftema was beslis baie meer misdadig as polities van aard.

domheks ·

Geld gemors met die ondersoek. Vertel ons bietjie watter mense jy gesien ‘loot’ het asseblief!

minnie muis ·

en wat van malema wat aangehits het , ook zuma kind , o ek vergeet die … is mos bo die hof

Andries ·

Ek het laasnag my badprop uitgetrek maar dit is nie die rede hoekom die water in die drein afgeloop het nie… Dit was gravitasie se skuld. Ek sien ons oud president as die “badprop”.

Suzette ·

So WEEREENS sal daar niks gedoen word nie. Volgende keer gebeur dit maar net weer.

Fibreglass ·

R50miljard se skade en hoeveel het die nuttelose kommissie van ondersoek gekos?

Pannies ·

Daar is mense in die land wat elke geleentheid sal gebruik om te plunder en te roof.
Dit is maar net in hul aard.

Martie Smartie ·

Kyk bietjie die selfoon data MRK. Maar nou ja, wat sal ons nou sê? Watse ondersoek agtergrond het julle klomp narre?

George ·

Die ANC stel die ANC aan om die ANC te ondersoek…daars die antwoord

Papsak ·

Ek stem blameer ANC vir dit niemand anders nie klaar gemors ??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.