Só verloop jong boer se herstelpad in Amerika

Marthinus saam met sy ouers in die hospitaal. (Foto: Facebook)

Dit gaan al hoe beter met die Suid-Afrikaner Marthinus Boshoff wat tans in ʼn rehabilitasiesentrum in Amerika aansterk nadat hy verlede maand onder ʼn slootgrawer beland en ernstige beserings opgedoen het.

Marthinus (27) is verlede week uit ʼn hospitaal in Birmingham in Alabama na die Spain Wallace-rehabilitasiesentrum geskuif waar hy nou drie keer ʼn dag fisio- en arbeidsterapie ontvang, het Anmarie Boshoff, Marthinus se sussie, bevestig.

Marthinus se ouers het ook verlede week uiteindelik by hul seun aangesluit nadat hulle inderhaas moes reëlings tref toe hulle van hul seun se ongeluk in kennis gestel is.

Maroela Media het vroeër berig dié jong boer van Thabazimbi in Limpopo het slegs ses maande gelede sy tuisland verlaat om vir ʼn Amerikaanse boer in Alabama te gaan boer.

Toe gly hy verlede maand terwyl hy besig was om pypleidings met ʼn slootgrawer in die grond te grawe en beland onder die masjien.

Sy linkerbobeen moes bo die knie geamputeer word en sy bekken is in die voorval gebreek. Hy het ook ʼn diep sny op sy maag opgedoen.

Marthinus het Maandag ʼn veloorplanting aan dié been ondergaan. “Dit het baie goed gegaan. Hulle het twee stroke vel op sy regterbobeen afgehaal vir die linkerbeen. Die dokters is tevrede,” het Anmarie vanmiddag aan Maroela Media gesê.

Marthinus staan reeds self uit die bed uit op en kan regop in ʼn rolstoel sit. Sy regterbeen kan in die stadium egter nie te veel stremming hanteer nie, aangesien sy spiere nie aan die penne wat sedertdien in sy pelvis gesit is, mag trek nie.

Die Suid-Afrikaner kry ook talle besoekers ten spyte daarvan dat hy ver van die huis af is. Marthinus se gunstelingbesoeker is Mary-Clay, ʼn bekkige sewejarige wat sy hand vashou en stories vertel, lui ʼn Facebook-inskrywing van Anmarie.

“Hy het die wonderlikste mense wat hom ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Linda ·

Marthinus, ek is regtig baie jammer oor wat met jou gebeur het maar ek is verheug saam met julle oor die wonderlike ondersteuning en liefde wat jy by soveel mense in Alabama ontvang. Julle is in my gebede. Sterkte!

Matt ·

Marthinus jammer dat die ongeluk gebeur het maar baie bly jy sterk so vinnig aan. Watter agentskap het jy gebruik?

Gaitsigubib ·

Matt jy kan gerus meer uitvind oor die MAST program. Dis n studente uitruil skema en jy kry n visa wat jou toelaat om te werk ook. Jy moet egter n paar klasse gaan loop in Minnesota van Jan tot Maart. Toelating is nie taai nie en ek het nie deur n agent plek gekry. Probeer dit maar gerus.

Pro Eerste Wereld ·

Die artkel en fotos lyk na hoë standaarde, skoon en bevoegde mediese personeel wat passie het vir wat hulle doen. Word gou gesond.

Stelling ·

Nee wat my maat as ek so kyk na daai tweede foto lyk dit my jy gaan heel okay wees ;-)

jean ·

Alles wat mooi en goed is vir jou Marthinus!…Dank die Liewen Heer jy lê in Amerika en nie in Suid Affrika!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.