SOE-ondersoek oor R300 miljoen-Transnet-skandaal verwelkom

Pepi Silinga, uitvoerende hoof van Transnet se Nasionale hawe-owerheid. (Foto: X)

Die DA verwelkom die besluit deur pres. Cyril Ramaphosa om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) magtiging te gee om ondersoek in te stel na bewerings van korrupsie teen Pepi Silinga, uitvoerende hoof van die Transnet Nasionale hawe-owerheid (TNPA).

Maroela Media het vroeër berig Silinga het aangebied om verlof te neem terwyl ’n onafhanklike regsfirma “verdagte aktiwiteite” by TNPA ondersoek. Adv. Phyllis Difeto sal as waarnemende uitvoerende hoof van TNPA dien terwyl Silinga met verlof is.

Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister oor openbare ondernemings, sê die DA het Ramaphosa verlede week skriftelik versoek dat hy die SOE magtiging gee om die bewerings te ondersoek, gegewe die ernstige aard daarvan en die bedrag geld betrokke.

“Die DA verwelkom ook Silinga se besluit om verlof te neem terwyl die Transnet-ondersoek voortduur. Die DA was nie oortuig dat ʼn interne ondersoek regverdig, onpartydig en deeglik sou wees indien Silinga in sy amp aangebly het nie.”

Alhoewel die DA begrip het dat die ondersoek deur Transnet en die SOE nog “in sy kinderskoene staan”, sal hy gereeld inligting versoek oor beide ondersoeke om seker te maak dit word vinnig en doeltreffend afgehandel, voeg Gondwe by.

Transnet het tot dusver nie veel inligting gedeel oor die aard van die bewerings teen Silinga nie.

Michelle Phillips, uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, het bloot gesê Transnet het ’n aantal bewerings oor aktiwiteite by TNPA ontvang. “Transnet neem die standpunt van nulverdraagsaamheid teenoor korrupsie en bedrog in en beskou hierdie bewerings in ’n ernstige lig.”

ʼn Onafhanklike regsfirma sal alle dokumentasie nagaan en mense ondervra wat relevant is vir die ondersoek voordat hy eindelik ’n verslag met sy bevindings en aanbevelings sal saamstel en aan Transnet oorhandig.

Satawu, een van die vakbonde wat deur Transnet erken word, het egter vroeër al versoek dat Silinga geskors moet word. Volgens die vakbond word hy deur “ernstige bewerings van korrupsie en wanbestuur in die gesig gestaar oor kontrakte wat deur TNPA uitgereik is”.

Volgens Satawu het Silinga glo ʼn tender van R300 miljoen vir veiligheidsheinings toegeken aan ʼn voormalige werknemer.

Silinga het ʼn loopbaan van 30 jaar in die staatsdiens. Hy is in 2020 as uitvoerende hoof by TNPA aangestel. Hy was voorheen uitvoerende hoof by die Coega Development Corporation.

Transnet se vraghouerhawens (hoofsaaklik Durban en Kaapstad) word onder die wêreld se swakste beskou. Die Wêreldbank se jongste indeks oor prestasie deur vraghouerhawens het die twee hawens in die onderste 10 van 348 hawens geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Catherina ·

Nijs sal hiervan kom nie…soos al die ander korrupsie. Zondo kommissie het so hard gewerk en daar het dadels van gekom.

Aldie ·

Wonder waar hy wil gaan vakansie hou, lekker on vol salaris te kry vir geen werk

Theuns ·

Misleading van gekke.
Lekker miljoene gekry. Bedank en HOU al die geld.
SARS ondersoek NOOIT Ramaposa se cadres nie…. Phala Phala het gelofwaardigheid of waarheid ontbloot.
Volgemde ramaposa cadres wat volg is dieselfde.
Geen hoop .
ramaposa erger as Zuma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.