Soektog na hond ná rooftog eindig tragies

Chocolate het na die rooftog spoorloos verdwyn.

Die soektog na Chocolate, ʼn hondjie wat op Oukersaand spoorloos verdwyn het nadat sy bejaarde eienaar in haar meenthuis in Centurion beroof is, het hartseer geëindig.

Wilma Ferreira (79) is op Oukersdag in haar huis in Eldoraigne deur ʼn man en vrou oorrompel en beroof. Ferreira was sowat 15 uur lank vreesbevange in haar huis vasgebind terwyl die twee rowers haar herhaaldelik met die dood gedreig en haar huis geplunder en beroof het. Sy is eers laat op Kersoggend bevry.

Ferreira se man, Ray (80), is sowat ʼn maand gelede dood. Hul volwasse seuns woon al drie in die buiteland en Ferreira woon sedert Ray se dood alleen saam met Chocolate en haar kat, Cuddles. Al twee diere was ná die rooftog vermis. Cuddles het teruggekeer nadat sy klaarblyklik uit die huis gevlug het, maar Chocolate was sedertdien spoorloos en daar is ʼn groot soektog na hom begin.

Sonja Wellington, ʼn buurvrou van Ferreira, het gesê die soektog na Chocolate het op Nuwejaarsdag tragies geëindig. Ferreira slaap sedert die aanval by die Wellingtons en keer bedags terug na haar eie huis. Hulle sien na haar om soos familie.

Woensdag het Ferreira en Wellington teruggestap na Ferreira se huis waar sy steeds besig is om die chaos wat die rowers agtergelaat het, te probeer opruim.

Volgens Wellington het hulle iets sleg geruik, maar kon nie dadelik die oorsprong van die reuk opspoor nie. Wellington is terug na haar huis en Ferreira het die reuk probeer opspoor. Sy het klein Chocolate, ʼn Yorkie-kruising, se liggaam in ʼn tas in die spaarkamer gevind.

“Sy het by my aangekom en ek kon sien iets sleg het gebeur. Haar gesig het boekdele gespreek. Sy het gesê sy het die hondjie se lyfie gekry.

“Ek weet nie of hulle die hondjie dalk doodgeskop of gesteek het nie, maar hulle het hom in die tas gesit en in die kamer gelos. Dít is waarop sy gister moes afkom,” het Wellington gesê.

“Sy is ʼn baie sterk mens, maar dit was vir haar ʼn groot terugslag. Sy sit nie op ʼn hopie en treur nie, maar ek dink haar hart is stukkend. Dit het haar gebreek.”

Wellington het gesê talle mense het ná sy verdwyning na Chocolate help soek. Hulle het pamflette versprei en veeartse gekontak, maar Chocolate was spoorloos. ʼn Wildvreemdeling het selfs aangebied om vir haar ʼn ander hondjie te gee.

“Mense het gesoek en gesoek. Hierdie mense [rowers] kon geen gevoel hê nie. Hulle het ʼn ou tannie aangerand en haar hondjie doodgemaak. Dit was só onnodig.”

Wellington het gesê ʼn veearts het intussen aangebied om Chocolate se oorskot gratis te laat veras.

Sy het ook mense bedank wat na die hondjie help soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.