Soldate steier, maar R1,6 miljoen vir president se vlug

Pres. Cyril Ramaphosa kom in Kinshasa vir die SAOG se beraad aan. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Vier jaar gelede is pres. Cyril Ramaphosa geloof nadat hy ʼn kommersiële vlug verkies het om te reis en sy kantoor destyds gesê het die president sal gebruik maak van enige manier van vervoer wat prakties, gerieflik en kostedoeltreffend vir sy pligte is.

Maandag het die DA die president gevra om die land om verskoning te vra nadat ʼn 300-sitplek- interkontinentale straler teen ʼn koste van R1,6 miljoen gehuur is om hom en sy gevolg na Kinshasa in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te vlieg.

Ramaphosa het verlede week ʼn beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in die DRK bygewoon. Inkwazi, die presidensiële straler – en die res van die BBP-vloot – kan egter nie tans gebruik word nie en die lugmag, wat verantwoordelik is vir die president se amptelike vlugte, moes ʼn ander plan maak.

Omdat daar net beperkte vlugte na Kinshasa is, sou dit die president se terugkeer na Suid-Afrika vertraag, het die weermag aangevoer, en daarom is kwotasies gekry om die president en ander afgevaardigdes na die DRK te vlieg.

Pres. Cyril Ramaphosa vier jaar gelede op ‘n passasiersvlug van FlySafair. (Foto: Twitter)

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê die “swak oordeel” kom kwalik ʼn week nadat Thandi Modise, minister van verdediging, ook die weermag se geld gemors het om mooi broodjies by haar Russiese kamerade in Moskou te gaan bak.

“Die R1,6 miljoen-reis was die gevolg van die weermag se versuim om die intekeningsgeld vir die Jeppesen-vlugdatabasis te betaal, wat die lugmag se hele BBP-vloot onlugwaardig maak,” sê Marais.

Hy sê dit is belaglik vir die weermag om geld wat hy nie het nie, op hierdie manier te verkwis.

“Die intekening vir die hele vloot op die Jeppesen-databasis beloop R300 000 per jaar. Hoe het die weermag maande lank versuim om betalings te doen en tog het hy geld om hierdie flater te finansier?” sê Marais.

Die party het die ouditeur-generaal gevra om die departement van verdediging se finansies te ondersoek en aanbevelings te doen oor hoe om regstellings te maak en diegene verantwoordelik vir verkwistende uitgawes voor stok te kry. “Daar is tans ʼn algehele gebrek aan aanspreeklikheid en gevolge vir enigiemand wat geld mors.”

Die DA het parlementêre vrae oor die kwessie ingedien.

Aanvanklik is berig die vlug het R2,6 miljoen beloop, maar die weermag het teruggekrabbel en gesê dit het eintlik net R1,6 miljoen beloop. Dit is onduidelik of hierdie bedrag ook landing-, parkering- en brandstofkoste insluit.

Marais sê daar is ernstige vrae oor die versuim om te betaal vir die Jeppesen-intekening, asook wie die 41 bykomende passasiers was wat op die terugvlug van Kinshasa aan boord van die straler was.

Die weermag het vroeër gesê daar was 14 passasiers aan boord van die vlug na Kinshasa en 55 mense het terug na Suid-Afrika gevlieg. Die getal sluit nie bemanningslede van die lugmag in nie.

Die DA eis ook antwoorde oor die beskikbaarheid en diensbaarheid van die BBP-vloot by 21 Eskader.

“Die departement van verdediging en die weermag het herhaaldelik versuim om te voldoen aan goeie bestuur en Suid-Afrika se verdediging is gevolglik op sy knieë. Terwyl die weermag verkrummel en soldate sukkel om toegang tot basiese benodighede vir hul pligte te kry, word geld gemors op ʼn opgeblaasde topstruktuur en projekte van en besoeke aan kameraadlande wat Suid-Afrika se fiskus en ons internasionale aansien skade berokken,” sê Marais.

Die DA sê die weermag en departement moet begin opruim en sommer begin by Modise wat niks beter as haar “verkwistende voorganger” is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johan ·

Gaap, maar net nog ‘n geldwassery-geleentheid geskep … Wonder net hoeveel hierdie keer landuit is?

PieterJ ·

Die klink soos wat mugabe gemaak het, sommer ‘n kommersiele vliegtuig GEVAT vir wanneer hy en sy pelle wil rondjakker. Voorspelling van wat vir ons wag?

Anel ·

Laat hy die koste self betaal. Dit is mos kleingeld vir hom. Kan die geld daar op sy plaas uit sy banke gaan haal!!!!!

Jacobus ·

Dit is hoekom hulle die gewese SAL in die lug wou hou. Die SAL was mos die ANC se persoonlike taxi diens.

Johann ·

Laat die multimiljoenêr prez vir sy eie vervoer betaal. En sy pelle wat saamry.

Samuel ·

Dit is skandelik hoe almal in die regering geld en mag misbruik. Die SP behoort ‘n voorbeeld te stel, maar ai, hy is nie in staat nie.

annie ·

Met soveel dollars op sy naam kan hy seker ‘n slag self betaal? Die prez skep ok maar lekker al maak hy of hy die uitsondering op die reël is.

Pieter ·

Hy kon maar ‘n Zoom meeting gedoen het en al die geld gespaar het. Sy koolstofvoetspoor is ook hoog dus ignoreer ek klimaatsverandering gesanik as dit hom nie traak nie. Hierdie vergaderings bywoon is ‘n mors van tyd en geld, praat net en doen niks nie. Tipiese staatsdiens.

Jacobus ·

Die minister van verdegiging kan nie eers toesien dat die diere op haar plaas versorg word nie, nou word sy in beheer van ons “weermag” geplaas.
Ek glo daar is groot ontwikkelings besluite in die Kongo geneem, moet net nie asem ophou dat daar iets van sal kom. Enige kader kon maar per bus na die vergadering gaan, want dis tog net klomp warm (lou) lug wat geblaas word.

Nie Verbaas ·

Nou toe nou Ramaphosa, jy maak alweer die nuus wanneer jou regering se doeltreffendheid eintlik net koste vir n taxi regverdig.

Jack ·

So cyril se kleur kom nou alhoemeer na vore. As jy deelneem aan verkwisting dan is jy n verkwister. Bewys my verkeerd.

Kokerboom ·

N mens verwag baie meer verantwoordelikheid van ‘n ontwikkelende land se president!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.