Solidariteit gee spertyd vir Gold One oor werkersveiligheid

Gold One se Modder-Oos-myn. (Foto: Google)

Solidariteit het die bestuur en menslikehulpbronbestuurder van die Gold One-myn tot Woensdag 27 Desember tyd gegee om behoorlike maatreëls in te stel om werkers se veiligheid by die myn te verseker én stappe te doen teen diegene wat verantwoordelik was vir ʼn onwettige ondergrondse staking by die myn.

Honderde mynwerkers is vier dae lank ondergronds as gyselaars gehou, gemartel en uitgehonger. Die bende wat hiervoor verantwoordelik was, het klaarblyklik namens die mynwerkersvakbond Amcu eise aan die mynbestuur gestel. Maroela Media het vroeër berig dat sommige mynwerkers ook ure lank met pikstele en planke met spykers daaraan aangerand is.

“Die klaarblyklike miskenning van die veiligheid van jou werkers is kommerwekkend. Ons het opdrag om ʼn geskrewe onderneming van jou te eis waarin ʼn verbintenis gegee word om alle nodige maatreëls in te stel om die veiligheid en sekerheid van ons kliënt [Solidariteit] se lede te verseker,” lui die brief aan die myn.

“Dit sluit in die aanstel van veiligheids- en sekerheidsbeamptes, beperking van toegang tot die werkplek vir Amcu en die vinnige identifisering en dissiplinering van werkers van dié vakbonde wat verantwoordelik is vir hierdie skandelike skending van menseregte.”

Die onderneming moet Woensdag teen die einde van die werksdag gegee word.

Solidariteit voer in die brief aan dit lyk of die maatskappy hom “blind hou” vir die vergrype waaraan die lede van sommige vakbonde hulle skuldig maak. “Dié mislukkings het gelei tot ʼn gyselaarsituasie waar werkers blootgestel is aan misdadigers wat hulle onderwerp het aan marteling, vernedering, skending en diskriminasie.”

Dit is boonop nie die eerste keer dat die maatskappy nie sy kontraktuele en wetlike verpligtinge nakom nie en dit het ook reeds in Oktober vanjaar tot ʼn soortgelyke tragedie gelei.

Die mynmaatskappy se hoof van regsdienste, Ziyaad Haasam, het in ʼn mediaverklaring gesê tugstappe sal gedoen word teen almal wat aangehou is. Solidariteit sê dit is kommerwekkend, gegewe dat die boosdoeners – die vakbond Amcu en sy lede – skotvry rondstap.

“Dit het voorts onder ons aandag gekom dat jy jou werkers opdrag gegee het om verpligte verlof te neem en selfs, as ʼn werker nie beskikbare verlofdae het nie, onbetaalde verlof moet neem. Dit is onregmatig en ons eis, gegewe bogenoemde mislukkings, dat die werkgewer verantwoordelik is vir sulke verlof.”

Solidariteit sê hy sal ook nie huiwer om siviele stappe teen die werkgewer en Amcu vir liggaamlike en emosionele skade wat sy lede moes verduur, in te stel nie. Dit beteken egter nie dat strafregtelike aanklagte nie teen die oortreders aanhangig gemaak kan word nie.

Die werkgewer is egter die beste geplaas om strafregtelike klagte teen Amcu en sy lede aanhangig te maak.

“Ons dring gevolglik daarop aan dat jy klagte indien wat insluit, maar nie beperk is nie tot, aanranding, ontvoering, die verwoesting van eiendom, intimidasie en laster.

“Hierdie stappe moes reeds gedoen word en daar kan nie aangevoer word dat ons eis onbillik is nie, gegewe die huidige omstandighede.”

Solidariteit oorweeg ook om die departement van arbeid en indiensneming te vra om ʼn ondersoek na Amcu en sy leierskap te gelas. Só ʼn ondersoek moet bepaal of so ʼn “militante organisasie strook met die beginsels van Suid-Afrika se Grondwet” en gevestigde indiensnemingsriglyne.

“Bykomend behou ons kliënt hom die reg voor om dringende regstappe teen jou en die skelm vakbonde in te stel en jou inter alia indirek aanspreeklik te hou vir enige skade wat [Solidariteit se] lede ly.”

Hanteer as ‘prioriteit’

Adv. Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris vir strategie en volhoubaarheid by Solidariteit, sê die voorval word in ʼn baie ernstige lig beskou die skuldige partye móét aan die pen ry.

“Solidariteit eis ernstige optrede teen alle partye wat vir hierdie veragtelike optrede verantwoordelik was. Tesame met die voorgenome regstappe teen Gold One, doen ons ook ʼn beroep op alle werkgewers om wetgewing oor veiligheid en gesondheid in die werkplek te gehoorsaam, anders sal hulle die gevolge daarvan móét dra.”

Solidariteit eis dat die mynbestuur en die polisie situasies soos hierdie voortaan as prioriteit hanteer.

“Werknemers wat hulle hieraan skuldig maak, moet summier ontslaan word, asook strafregtelik vervolg word. Dit is onaanvaarbaar dat klaarblyklike arbeidsgeskille en vakbondwedywering en -politiek sulke blatante onwettige en kriminele aksies tot gevolg het.

“Dit stel onskuldige werkers se gesondheid en hulle lewens in gevaar,” sê Mardon.

Mardon beklemtoon verder dat gebeure soos dié ook die volhoubaarheid van die sukkelende mynbedryf in Suid-Afrika bedreig. Boonop stel dit ook die lewe van mynwerkers in gevaar, en dit sluit lede van Solidariteit in.

“Solidariteit doen daarom ʼn beroep op al sy lede wat in die mynbousektor werk om onmiddellik met hulle organiseerders in verbinding te tree as die werksomgewing onveilig blyk te wees. Die situasie moet dan geëvalueer word.

“Indien dit wel die geval is, sal ons hulle aanbeveel om kragtens artikel 23 van die Wet op Mynveiligheid en -gesondheid hulle arbeid te onttrek, tot op ʼn tydstip wat hulle veiligheid gewaarborg kan word,” sê Mardon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.