Solidariteit na VN: ‘Rasstellende aksie’ moet tydelik wees

Dr. Dirk Hermann (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit gaan die Verenigde Nasies (VN) besoek om te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum gee wanneer sy beleid van “rasstellende aksie” – soos Solidariteit dit noem – asook alle gepaardgaande rassewetgewing sal verstryk.

Solidariteit gaan ’n klag teen die regering by die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) indien in die vorm van ’n skaduverslag. Dié organisasie sal dan einde November saam met die regering voor die komitee verskyn.

Volgens die verslag is die regering se beheptheid met statistiese rasseverteenwoordiging alombekend. “Die beheptheid blyk duidelik uit hul toepassing van regstellendeaksiebeleid in elke faset van die regulatoriese raamwerk van Suid-Afrika,” sê Solidariteit.

Dié beleid is egter strydig met die Internasionale Konvensie vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), wat bepaal dat dit tydelik van aard moet wees en ʼn spesifieke eindpunt moet hê. Volgens die konvensies moet dit ook gegrond wees op sosio-ekonomiese behoefte in plaas van ras, lui die verslag.

Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, het Maandag tydens ’n media-inligtingsessie gesê Solidariteit sal tydens die VN-besoek die feit beklemtoon dat regstellende aksie ingevolge internasionale riglyne en konvensies tydelik van aard moet wees, en daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering ’n einddatum daarvoor stel.

Anton van der Bilj. Foto: Reint Dykema

“Regstellende aksie kan nie onbepaald voortgaan nie, dit het reeds sy doel gedien. En waar dit van toepassing is, moet dit toegepas word op grond van meriete en nie van ras nie,” sê Van der Bijl.

Hy dui op ’n verslag wat in 2015 deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) gepubliseer is. In dié studie het slegs 4,6% van die respondente aangedui dat hulle dink mense se lewe word deur meer swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie verbeter. Meer as driekwart van die respondente (78,3%) het eerder gesê dat menselewens verbeter word deur meer werk en beter onderwys.

Volgens die verslag het slegs 16,6% van swart respondente gesê dat hulle persoonlik by regstellende aksie baatgevind het. Dit is nie eens ’n vyfde van die swart respondente wat aan die studie deelgeneem het nie.

“Selfs na aanleiding van dié verslag lyk dit nie of die regering die memo gekry het dat raswette nie die antwoord vir Suid-Afrika is nie.”

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie verskerpte VN-veldtog ten doel om eens en vir altyd ’n einde te maak aan die regering se beheptheid met rassewetgewing.

“Al hierdie rasmalheid vind plaas onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie. Maar pleks daarvan is die uitkoms ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van die staatsdiens,” sê Hermann.

Volgens Hermann het die regering se “siek ras-ideologie” ’n groot rol gespeel met die inploffing van die staatsdiens en nou het die regering boonop die privaat sektor in sy visier.

“Vroeër vanjaar wou die regering ook wetgewing deurdruk waarmee die privaat sektor aan rassekwotas gemeet sou word. Daardie mal rasplanne is deur die gemeenskap – en danksy ’n skikking – gestuit.”

In sommige gevalle was Solidariteit en ander partye suksesvol om hierdie rasbeheptheid in howe of op ander maniere teen te staan, maar dit het egter nie gelei tot ’n verandering in die regering se meedoënlose strewe na statistiese rasseverteenwoordigendheid op elke terrein van die Suid-Afrikaanse samelewing nie, sê Hermann.

“Die stryd is dus nie gewonne nie en Solidariteit sal nie ophou veg totdat rasmalheid iets van die verlede is nie. Ons veg selfs harder. Ons mik om rassewette in die geheel te smoor en ons boodskap word deur derduisende mense ondersteun. Ons sal nie stop totdat mense heeltemal vry is en die sentralisme van die staat iets van die verlede is nie. Dit kan net bereik word deur ons eie veerkragtigheid.”

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

007 ·

Alles goed en wel, maar niemand gaan die ANC stop nie. Op papier dalk maar agter toe deure sal hulle nogsteeds besluit wie werk kry en wie nie. My vrou doen aanstellings vir die SANW en sy mag nie besluit wie kry die werk en wie nie. Wie word bevorder en wie nie. Ons moet hulle eenvoudig net uit stem en klaar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vergeet van die stembus. Die meerderheid is tevrede met die stand van sake. Hulle is min gepla met die minderheid.

gatgogga ·

Sou die ANC uitgestem word, dan het die president en ministers nie meer die mag om hulself uit die hof en uit die tronk te hou nie. Dus sal hulle nooit toelaat dat die ANC ‘n verkiesing verloor nie. Daar is te veel op die spel vir hulle.

Papsak ·

Dankie solidariteit vir wat julle doen mag daar iets goeds van kom maar ek stem ons moet anc uit stem en uit kry dan sal almal weer werke kry want agter toe deure gaan anc nog steeds nie laat ons werke kry nie

Schalk ·

Wat van dadelik. Die mensgemaakte wette is totaal onaanvaarbaar en omgekeerde apartheid

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis te betwyfel of Afrikaners nog in groot getalle agter hierdie pogings staan. Ons mense aanvaar hul lot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.