‘Somber’ atmosfeer by Hoërskool Riebeeckstad ná bustragedie

Makalo Mohale, die LUR vir onderwys in die Vrystaat, het emosioneel geraak tydens ’n vergadering met die skoolbestuur. (Foto: Morena Lephepelo / Facebook / Free State Provincial Government)

Dis nog te vroeg om te bepaal of iemand vir die grusame busongeluk Dinsdagmiddag buite Ventersburg aanspreeklik gehou kan word, het die Vrystaatse polisie Woensdag gesê.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, word ʼn saak van strafbare manslag tans ondersoek.

Onder die slagoffers is ses leerders van Hoërskool Riebeeckstad op Welkom. Makhele sê die kinders wat omgekom het, is almal meisies tussen 13 en 14 jaar oud. Hul name is nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Daar was altesaam 48 gr. 8’s, ses gr. 12’s en twee onderwysers op die bus. Een van dié onderwysers het die bus bestuur, aldus Makhele.

Kerse brand vir die ses leerders van Riebeeckstad Hoërskool wat Dinsdag in ‘n busongeluk dood is. (Foto: Morena Lephepelo / Facebook / Free State Provincial Government)

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het gebeur toe die bus waarin hulle gereis het, op die R70-pad tussen Ventersburg en Senekal, sowat 30 km buite Ventersburg, omgeslaan het. Een van die bus se bande het vermoedelik gebars.

Die leerders en twee onderwysers was van ʼn sportgeleentheid by Moolmanshoek naby Rosendal op pad terug huis toe.

Hartseer tonele het Woensdag by die hoërskool afgespeel toe Makalo Mohale, die LUR vir onderwys in die Vrystaat, die skool saam met beraders en amptenare van die departement en provinsiale regering besoek het.

’n Leerder van Riebeeckstad Hoërskool word deur onderwysers getroos. (Foto: Morena Lephepelo / Facebook / Free State Provincial Government)

In ʼn inskrywing op hul amptelike Facebook-blad, het die provinsiale regering die atmosfeer as uiters “somber” beskryf, veral soos sigbaar gebroke families deur die skoolhekke gestap het.

“Daar was ʼn alomteenwoordige donkerte en dit het al duideliker geword dat iets vreesliks gebeur het,” lui die inskrywing.

Op foto’s wat by die skool geneem is, kan gesien word hoe kerse brand.

“Skoolkinders het openlik gehuil soos die werklikheid ingesink het dat ses van hul skoolmaats weg is en nooit weer gaan terugkeer nie. Onderwysers het ook gehuil, wat ongetwyfeld ʼn sterk band met leerders gevorm het.”

Betsi Schoeman, skoolhoof van Riebeeckstad Hoërskool, tydens ’n vergadering met ’n afvaardiging van die provinsiale regering. (Foto: Morena Lephepelo / Facebook / Free State Provincial Government)

Die provinsiale regering sê ʼn emosionele Mohale het self in trane uitgebars toe hy met die skoolhoof, Betsi Schoeman, gepraat het – wat almal teenwoordig bewoë gelaat het.

“Maatskaplike werkers was gelukkig op die toneel om broodnodige ondersteuning aan leerders en onderwysers te bied.”

Mohale het gesê hy is platgeslaan deur die gebeure.

Ses leerders van die Riebeeckstad Hoërskool in die Vrystaat het in die ongeluk gesterf. (Foto: Facebook)

“Wat met ons leerders gebeur het, is absoluut verskriklik, en ons deel in onderwysers en veral leerders se pyn. Dit is werklik oorweldigend, maar ons is hoopvol dat die skool self sterker uit hierdie tragedie sal opstaan.

“Mag die siele van ons liewe kinders wat omgekom het ewige rus vind. Ons wens die beseerdes ʼn spoedige herstel toe.”

Die afvaardiging het ook die hospitale besoek waar van die beseerde leerders behandel is, onder meer die Bongani-, RH Matjhabeng-, Katleho-streekshospitaal en die Welkom Mediclinic.

Besoeke aan die geraakte gesinne word vir later die week beplan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Papsak ·

Bitter jammer maar sterkte aan almal ouers familie onderwysers ens mag God julle styf vas hou en deur donkerte en hartseer dra sterke ons dink aan julle almal so hartseer huil saam met julle

NelNel ·

Mag die ouers, familie en gemeenskap vertroosting vind in hierdie onnoembare hartseer.

JN ·

Daar is net nie woorde om die tragedie te beskryf nie..
Genade.N mens se hart gaan uit na die familie en vriende..

Miskruier ·

Ek is bly ek het nie meer kinders wat sport geleenthede moet bywoon nie. Hierdie is n ander land, slegte paaie, slegte mede bestuurders maak dat ouers eerder self hul kinders moet rondry.

skurweberg ·

Miskruier, ek stem saam, maar skole moet ook maar die afgode wat buitemuurse aktiwiteite aanbetref erken en te herken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.