Sommige werkers na oppervlak ná myndrama

Lede van die mynwerkersvakbond Amcu vergader in die Gold One-myn in Springs. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Sommige van die mynwerkers wat al twee dae lank ondergronds is, het eindelik na die oppervlak van die Gold One-myn in Springs begin kom.

Die mynwerkersvakbond NUM sê altesame 107 van die 543 mynwerkers wat versuim het om Maandagoggend ná hul nagskof na die oppervlak terug te keer, het Woensdag te voorskyn gekom.

“Hulle is tans by paramedici vir mediese ondersoeke,” het Livhuwani Mammburu, woordvoerder van NUM, gesê.

Sommige van die werkers is reeds huis toe.

NUM en die mynbestuur het vroeër aangevoer dat die mynwerkers as gyselaars aangehou word deur lede van die mynwerkersvakbond Amcu.

Dié vakbond het egter die bewerings ontken en gesê die mynwerkers hou ʼn “sittende betoging” oor hulle vakbondverteenwoordiging by die myn.

Die polisie het egter Woensdag bekend gemaak dat die mynwerkers self gesê het dat hulle teen hul wil ondergronds gehou is.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê volgens die mynwerkers het sowat 15 mense hulle ondergronds aangehou. Sy het egter nie gesê of hierdie mense aan ʼn spesifieke vakbond behoort nie.

Twee paramedici en ʼn veiligheidswag is egter steeds ondergronds.

Amcu wil erken word

Tladi Mokwena, streeksekretaris van Amcu, sê die mynwerkers wat na die oppervlak gekom het, het gewillig uitgekom nadat hul kos min geraak het.

“Die bestuur het al die [ondergrondse] roetes waardeur hulle kos ontvang, gesluit. So ons kon nie toelaat dat werkers ondergronds bly sonder kos nie,” het hy gesê.

Die polisie en bykomende veiligheidsmagte was Dinsdagaand by die myn terwyl 100 mynwerkers, van wie die meeste aan Amcu verbind word, protesliedjies gesing het. Die betogers het glo gewag op die uitkoms van ʼn vergadering tussen die bestuur van die myn, NUM en Amcu.

Die geskil tussen die twee vakbonde handel oor die verteenwoordiging van werkers by die myn.

NUM is tans die enigste vakbond wat by die myn geregistreer is, maar Amcu sê baie mynwerkers wil eerder deur hierdie vakbond verteenwoordig word. Amcu moet egter nog amptelik geregistreer word en dit is glo die rede vir die beweerde ondergrondse betoging.

Die polisie sal op die perseel bly “totdat die situasie opgelos is”, het Muridili gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skyspy007 ·

Gooi die myn toe….niemand sal ‘n haan kraai na dit nie…..

Harley Davidson ·

Die myn bestuur moet n Mageret Thatcher op die unie trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.