Gautengers sal vir die volgende 24 uur hul sambrele byderhand moet hou.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Woensdag ’n waarskuwing teen swaar reën met die moontlikheid van kitsvloede in dié provinsie uitgereik.
Dit terwyl nóg reën in die reeds vloedgeteisterde gebiede van KwaZulu-Natal verwag word.
Lulama Pheme, ’n weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê ʼn 60%‑kans op reën word vandag in die westelike gedeeltes van KwaZulu-Natal, waaronder Ladysmith en New Castle sowel as die kusgebiede, verwag.
Reën sal waarskynlik ook in Noordwes, die sentrale dele van die Vrystaat en die westelike gedeeltes van Mpumalanga se Hoëveld uitsak.
Die gure weer sal egter teen Donderdag aansienlik verbeter, voorspel Pheme.
Kitsvloede
Een persoon word nog vermis ná kitsvloede in die Alfred Duma-distriksmunisipaliteit (Ladysmith) vroeër vandeesweek. Altesame 22 volwassenes en drie kinders is sonder ’n heenkome gelaat en verskeie dorpenaars moes na veiligheid geneem word.
Inkosi Shabalala, burgemeester van Ladysmith, is nou bekommerd oor plaaslike sakeondernemings wat hul deure tydelik moes sluit weens die oorstromings sowel as veeboere in die omgewing wat weens die swaar reën vee verloor het.
Maroela Media het vroeër vandeesweek berig oor herstelpogings in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ná onlangse swaar reën die lewens van minstens 40 mense in die provinsies geëis het en grootskaalse skade aan infrastruktuur aangerig het.
Volgens Pheme word daar nie juis reën in die Oos-Kaap in die komende dae verwag nie, hoewel die provinsie môremiddag donderstorms kan beleef.
“Teen Donderdag sal die weer in die meeste die provinsies verbeter het.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Reën is nodig om ons oorbevolkte land se damme te vul sodat ons water het vir die droeë maande. Wees dankbaar dat die Here ons nog seën met die koel lafenis.
Hier in Kemptonpark het die een pad heeltemal verspoel. Dit lyk bitter erg hier.
In die katkesasieklas
AG Visser (1878 – 1929)
“Ja, veertig dae agtereen
En veertig nagte lank gereën –
Dis ʼn rekord tot op hede.”
“Meneer, mag ek Meneer iets vra?”
“Maar alte seker, Japie. Ja?”
“Was die boere toe tevrede?”
Iemand moet net die baie water omvang voor Augrabies en dit herlei na die Noord Kaap toe. Al die baie water gaan nou see toe. Die regering behoort ‘n groot dam in daardie area te bou.
Dankie ook vir al die riviere wat mense se gemors nou verdun.