Spar sê oor ‘fiktiewe en bedrieglike lenings’

(Argieffoto: Spar)

Daar woed al dae lank ʼn storm om die kop van die kleinhandelgroep Spar nadat bewerings van fiktiewe en bedrieglike lenings geopper is. Bewerings van diskriminasie het ook weer die lig gesien.

Die bewerings het nou daartoe gelei dat Graham O’Conner, voormalige uitvoerende hoof en huidige voorsitter van Spar, besluit het om as voorsitter uit te tree “sodat die direksie op die bewerings kan fokus”.

O’Conner bly egter aan as ʼn lid van die direksie, terwyl die bewerings in ʼn “uiters ernstige lig beskou en regsadvies ingewin word”, aldus Spar.

Bedrog, meineed

Die bewerings spruit uit die strafregtelike aanklagte van bedrog en meineed wat die Giannacoupolous-groep, eienaar van verskeie Spar-winkels, onlangs met behulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid teen drie van Spar se senior bestuurders in Gauteng aanhangig gemaak het.

Meer bestuurders sal ook vermoedelik binnekort geïmpliseer word wanneer klagtes ook in KwaZulu-Natal ingedien word.

Die Giannacopoulos-groep besit ʼn groep van 13 maatskappye wat 45 Spar-supermarkte en Tops-drankwinkels in drie provinsies bedryf.

Chris Giannacopoulos lê strafregtelike klagte teen die Spar-groep. (Foto: Verskaf)

Chris en Harry Giannacopoulos en hul familie se groepmaatskappye beskuldig die bestuurders van wanvoorstellings en die versuim om in twee van die land se hooggeregshowe te verskyn.

Daar word beweer dat die Spar-groep deur sy bestuurders in 2019 valslik in beëdigde verklarings aangedui het dat maatskappye in die Giannacopoulos-groep hulle geld skuld, ten einde die howe te oortuig om die Spar-groep beheer te gee oor die supermarkte wat deur die Giannacopoulos-maatskappye besit word. Hierdie beweerde wanvoorstellings is deur dieselfde hooggeregshowe bevestig toe die Giannacopoulos-groep die onregmatige oorname suksesvol betwis het.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Spar se besturende direkteur, Desmond Borrageiro, en die uitvoerende hoof, Brett Botten, is twee van die geïmpliseerde partye wat in 2019 beëdigde verklarings by die hof ingedien het. O’Conner het dokumente ter ondersteuning van die dagvaardings onderteken.

Bateman sê die beweerde wanvoorstellings is deur Spar se regspan aan onkunde toegeskryf. Sommige van die verdagtes het dit weer as ʼn “eerlike en ongelukkige fout” beskryf.

Die Giannacopoulos-groep beweer egter Spar het opsetlik versuim om aan die hof bekend te maak dat die Giannacopoulos-groep se kleinhandelaarlidmaatskap beëindig is sonder dat daar ʼn verhoor, soos deur die Spar-groep beloof, plaasgevind het.

Volgens die groep is daar ook valse verklarings oor ontwikkelingslenings afgelê, wat verkeerdelik daarop dui dat die Giannacopoulos-groep in die skuld was by die Spar-groep.

Hierdie beweerde wanvoorstellings is herhaal in verskeie dagvaardings wat teen maatskappye in die Giannacopoulos-groep uitgereik is.

Spar het toe in ooreenstemming met hofbevele en op grond van die beweerde wanvoorstellings in 2019 stappe gedoen om die winkels oor te neem. Die winkels is later ná ʼn suksesvolle dringende hofaansoek deur die Giannacopoulos-groep weer onder dié groep se beheer geplaas.

Versuurde verhouding

Argieffoto

Volgens Batemen het die Spar-groep van tyd tot tyd geld aan onder meer die Giannacopoulos-groep geleen vir die verkryging van nuwe winkels, of vir opknappings en verbouings. Die verhouding tussen die twee groepe het egter sedert die mislukte hofaansoek versuur.

“Die Spar-gilde en -groep het ʼn veldtog van onderdrukking teen die Giannacopoulos-groep gevoer in ʼn poging om hulle uit die Spar-handelstelsel te verdryf en hul winkels oor te neem. Dit het verskeie verdere hofsake tussen die partye tot gevolg gehad. Sommige van hierdie hofsake duur steeds voort,” sê die Giannacopoulos-groep.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die impak van die beweerde vals verklarings en wanvoorstellings in hofstukke is “onmeetbaar”.

“Nie net finansieel nie, maar ook emosioneel. Ons instruksie is om die saak te monitor en om privaat vervolging te oorweeg sou die NVG versuim om te vervolg,” sê Nel.

Die Spar-groep het intussen gesê hy wil sy aandeelhouers verseker dat dit ʼn geïsoleerde saak was en nie Spar se rekeningkundige beleid of praktyk beïnvloed nie.

Spar ontken ook enige bewerings van diskriminasie teenoor sy kleinhandelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Maak nie saak wie wat sê nie, SPAR bly my gunsteling winkel. Hulle vleis, groente en brood is altyd vars, die gange iebreed en die uitleg is verbruikersvriendelik. Die personeel is hulpvaardig en vriendelik. In elke geval by die 4 SPAR winkels wat ek ondersteun naamlik Caledon, Bonnievale, Robertson en Swellendam.

Annelize ·

Jy is baie gelukkig. Twee uit die drie Spar winkels in my omgewing is absoluut pateties verby.

JohanEtz ·

Selfde
Margate superspar, Manaba superspar, Shellybeach superspar, Ramsgate spar en Southbroom spar is uitstekend!

Francois ·

Beste spar wat ek nog ooit besoek het is Laaiplek spar in die Weskus by Veldrift. Hulle is uitstekend

annie ·

… nie orals so wonderlik nie… Sonder ou Sparrie sal die lewe aangaan…

bolletjie blom ·

Ek koop die meeste van die tyd net by Spar. Nie een van die ander winkels kan kers vashou by hulle nie. Almal sê altyd Spar is duur maar hulle het ook hulle winskopies.

Anonymouse ·

Ek verstaan nie hoekom julle vir ons vertel waar julle inkopies doen nie. Wat het dit met die artikel te doen?

SjN ·

Brakpan Tops het ook nou n Spar gekry wat die fiktiewe en bedrieglike lenings doen, klante moet opskud, beperk terwyl voorraad hou!!

Swerwer ·

Hou daarvan om by Spar te koop. En ja daar is sekere Spar Winkels waar ek nie koop nie want hul gehalte is af en dan weet ek van waar die personeel eers tusen die 4de en 7de van die maand salaris ontvang.

Cherokee ·

Na ‘n wegneemete by ‘n Sparwinkel in Durban, was ek die daaropvolgende drie dae siek gewees.

Harley Davidson ·

Ons ondersteun Afriforum om huidige benaadeelde minderhede te help en om vir hulle regte te baklei nie om miljoenêrs te help om ryker te word nie of is ek nou verkeerd.

Papsak ·

Spar hopeloos te duur en brood te krummelrig en ja ek nie lief vir spar nie hulle moet kyk na daai duur pryse pas nie by spar nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.