Staal jou vir nóg beurtkrag

Die Koeberg-kernkragsentrale naby Kaapstad. Groot instandhoudingswerk daar duur voort. (Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners moet hulle maar regmaak vir nog minstens 10 dae van beurtkrag terwyl die huidige vlaag probleme by die kragvoorsiener voortduur. Die land is sedert 1 Januarie al aan 73 dae van beurtkrag onderwerp.

André de Ruyter, hoof van Eskom, het Maandagoggend by ʼn mediavergadering oor die stand van die netwerk gesê indien alle eenhede soos beplan weer aanlyn gebring word, behoort beurtkrag mettertyd na fase 2 verminder te word.

Weens die onwettige staking wat die kragvoorsiener twee weke gelede verder lamgelê het, is instandhoudingswerk selfs verder agter en De Ruyter sê dit gaan etlike weke duur om die agterstande in te haal. Volgens hom gaan interne tugprosedures die stakers in die gesig staar en geen onderneming om hulle nie te dissiplineer nie, is tydens die loonooreenkoms gegee nie. “Ons gaan nie bloot aanvaar dat werkers op ʼn onregmatige en onwettige staking kan gaan en betrokke raak by optrede van intimidasie nie,” sê hy.

Strafregtelike klagte gaan ook by die polisie ingedien word en Eskom verwelkom die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa en die nasionale polisiehoof dat ʼn taakspan op die been gebring is om te kyk na die vlaag misdaad, korrupsie en sabotasie by Eskom.

Wat die vooruitsig vir die volgende paar dae betref, sê De Ruyter altesame 12 opwekkingseenhede behoort deur die loop van die week aanlyn gebring te word en Eskom doen alles moontlik om die stelsel te stabiliseer. Daar is egter geen waarborg dat die eenhede wat tans aanlyn is, aanlyn gaan bly nie. Eskom se noodopwekkingsreserwes is minstens in ʼn goeie toestand.

Só lyk vooruitsig vir vandeesweek:

Die verwagte vraag na krag vir Maandagaand se spitstyd staan in hierdie stadium op 31 980 MW, terwyl die beskikbare kapasiteit 27 013 MW is. Daar is dus steeds ʼn tekort in opwekkingskapasiteit, wat beteken beurtkrag moet voortduur.

  • Maandag: Fase 4 word voortgesit tot middernag, waarna dit oorskakel na fase 2
  • Dinsdag, Woensdag en Donderdag: Fase 4-beurtkrag sal geld van 05:00 tot middernag en fase 2 geld van middernag tot 05:00
  • Vrydag: Fase 2 geld van middernag tot 05:00 en fase 3 geld van 05:00

Indien alle eenhede soos beplan aanlyn gebring kan word, sal fase 2-beurtkrag die hele naweek lank geld.

De Ruyter sê hoewel dit nie die nuus is wat mense wil hoor nie, beurtkrag nog in die vooruitsig gaan wees tot nuwe kapasiteit by die netwerk gevoeg word.

Hy sê Eskom doen alles moontlik om nie ʼn versperring te wees om hierdie nuwe kapasiteit aanlyn te bring nie. Die kragvoorsiener het dit reeds reggekry om die tyd wat dit duur om sogenaamde netwerktoegangsprotokolle te hanteer van 210 dae tot 105 dae te halveer. Dit beteken dit benodig nou helfte van die tyd om ʼn aansoek – van die eerste kosteramingsbrief tot die aanvaarding van ʼn begrotingskwotasie – te hanteer. Eskom beoog om die proses boonop selfs verder te versnel.

Dit sal nietemin steeds tussen 18 maande en twee jaar duur voor beduidende nuwe kapasiteit by die netwerk gevoeg kan word.

“Daar is lig aan die einde van die tonnel,” sê De Ruyter.

Hy sê ook die omvang van die beurtkrag wat die afgelope paar dae ondervind is en wat vir die res van die week voorspel word, kan nie volgehou word nie.

“Tot ʼn mate het ons as Suid-Afrikaners gewoond geraak aan hierdie nuwe normaal, maar dit is nie hoe dit moet wees nie. Die gebrek aan krag briek ekonomiese groei en die skep van verdere werksgeleenthede,” sê De Ruyter.

Nog planne teen beurtkrag

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagoggend aangekondig dat die regering binne dae verdere planne sal bekend maak om beurtkrag iets van die verlede te maak.

De Ruyter sê Eskom is deurlopend in gesprek met verskillende departemente en senior amptenare en dat die kragvoorsiener die naweek ook deel was van besprekings daaroor. “Ons werk nou saam met belanghebbendes om oplossings om meer kapasiteit so gou moontlik aanlyn te bring, te versnel,” sê hy.

Volgens hom sentreer die besprekings oor maniere om so gou moontlik bykomende kapasiteit by die netwerk te voeg omdat dit die enigste manier is om beurtkrag stop te sit.

Koeberg

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, sê instandhoudingswerk aan Koeberg se eenheid twee is verder vertraag. Hy was Vrydag self by die kernkragsentrale om met die span daar te vergader en sê daar is absolute toewyding om die herstelwerk af te handel. Sodra dit gedoen is, kan nog 920 MW weer by die netwerk gevoeg word – wat een fase laer beurtkrag behels.

Oberholzer het ook aangekondig dat Riedewaan Bakardien, Eskom se kernkraghoof, ná 27 jaar diens die kragvoorsiener verlaat om hom by ʼn Kanadese kernkraginstelling aan te sluit.

“Ek wil die Suid-Afrikaanse publiek die versekering gee dat Eskom ʼn vaardige span het om die gladde bedryf van Afrika se enigste kernkragsentrale voort te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Swerwer ·

Hierdie tonnel waarvan André de Ruyter praat is ‘n laaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaang donker tonnel en sover sonder ‘n lig kolletjie aan die einde. Die Munisipaliteite foeter mens net rond met die dat die krag nie volgens hul skudeles afgesit en begin word nie.

domheks ·

“Riedewaan Bakardien, Eskom se kernkraghoof, ná 27 jaar diens die kragvoorsiener verlaat om hom by ʼn Kanadese kernkraginstelling aan te sluit”

Het cANCer al een keer gevra hoekom mense met soveel jare ondervinding bedank?
Sien maar donker prentjie vir SA.

Manie ·

“André de Ruyter, hoof van Eskom, het Maandagoggend by ʼn mediavergadering oor die stand van die netwerk gesê indien alle eenhede soos beplan weer aanlyn gebring word, behoort beurtkrag mettertyd na fase 2 verminder te word.”

Beteken dit dat fase 2 beurtkrag nou die norm gaan wees mnr de Ruyter?

Annelize ·

Danksy beurtkrag sit ons nou al byna 5 dae sonder behoorlike water. Reservoirs kan nie volgepomp word nie, dus het ons feitlik geen water nie.

Carel ·

Moet asseblief net die lig voor in die tonnel afsit nie. Of sorg dat die tonnel nie beurtkrag kry nie…

Manie ·

“Ek wil die Suid-Afrikaanse publiek die versekering gee dat Eskom ʼn vaardige span het om die gladde bedryf van Afrika se enigste kernkragsentrale voort te sit.”

Is dit nou dieselfde vaardige span wat net nou die dag by Koeberg die verkeerde aanleg (die werkende 1) se klep wou toemaak en amper groot konsternasie veroorsaak het?

Classic ·

CR…….ons het gedog die hegte vriendskap met Putin sou ons brandstof en kernkragopwekking probleme oplos so wat is die vertraging ?

Johann ·

Kyk mooi hoe word ons een dag wakker en ons is totaal in ons janterland in. Verby die punt van te laat en geen omdraai. Soos in MINAMOOOOOO toe. En die diagnose? Maklik: ons is waar ons gaan wees agv ‘n terminale stand van “used to”. Ons raak noodgedwonge eenvoudig maar ok met al die verval en verskonings en statistieke en dwergie dinges en donker en DONKER.

Martin ·

Die volgende Suid-Afrikaanse algemene verkiesing sal in 2024 gehou word om ‘n nuwe Nasionale Vergadering sowel as die provinsiale wetgewer in elke provinsie te verkies. Ons huidige regering aan bewind het sedert 1994 bewys dat hulle onbevoeg is om ‘n land te regeer en meeste van die ondernemings in staatsbesit is bankrot. Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, South African Express Airways, die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie, die Suid Afrikaanse Poskantoor en die lys gaan aan en aan… Die mense van die land moet volgende keer vir ‘n ander party stem.

JohanR ·

Is daar iets in 28 jaar wat die ANC NIE verwoes het nie? Hulle het nog twee jaar oor.

JohanR ·

Ek en my vleis is al klaar 7.5uur ‘n dag in die donkerte. Sal dit opskyf na 12uur ‘n dag! Wonder of die DA vir ons kan se of die krag ooit afgaan vir ministers en parlement lede in Kaapstad by hulle woonings, of is dat net die gepeupel wat in die donkerte moet sit?

Prikkie ·

By Akasiapark en omliggende woonbuurte soos Tygerdal is daar nie beurtkrag nie.

MJ ·

Daai lig wat hy sien is ‘n trein wat met ‘n hengse spoed oppad is….

Jacques ·

Op sommige radiostasies lag hulle openlik vir De Ruyter se plan om die onwertige stakers aan die pen te laat ry.
“This can’t end well!” word daar gesê…. en dan vrolik gelag…………

Nee jong, noem my maar’n pessimis, maar De Ruyter gaan sy woorde moet sluk, of ons gaan glad nie binne twee weke verbeterde kragverskaffing sien nie, inteendeel…

Harley Davidson ·

Escom is nie n kragvoorsiener nie hy is n verleentheid hy en sy top bestuur.

Eugene ·

‘n Onwettige staking? En hoeveel mense is sumier afgedank oor hulle deelname? Dit help nie iets word onwettig genoem maar daar word niks aan die onwettiges gedoen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.