Staatskaping: Popcru ontken omkoopbewerings

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa. Foto: Simphiwe Mbokazi /ANA

Die polisievakbond, Popcru, het Woensdag bewerings ontken dat een van sy beamptes betrokke was by omkooptransaksies met Bosasa om seker te maak dat dié omstrede maatskappy winsgewende kontrakte by die departement van korrektiewe dienste (DKD) los slaan.

Dit kom nadat Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, vandeesweek by die Zondo-kommissie van ondersoek getuig het dat ʼn voormalige sekretaris-generaal van Popcru, slegs geïdentifiseer as “Sbu”, saam met ander ringkoppe in die departement omkoopgeld van R1 miljoen per maand sedert 2007 ontvang het.

Agrizzi beweer die ontvangers van die omkoopgeld se plig was om die nuutaangestelde nasionale kommissaris, Vernie Petersen, te druk om gehoor te gee aan Bosasa se eise. Agrizzi sê die bedrag van die beweerde omkoopgeld is na R700 000 verminder nadat Bosasa ʼn kontrak verloor het.

Popcru het in ʼn verklaring gereageer deur te sê hy kan geensins onthou dat daar enige beampte met die naam Sbu by die vakbond betrokke was nie. Popcru sê hy wil egter meer inligting hê oor hierdie vermeende vakbondbeampte wat omkoopgeld ontvang het.

“Ons neem nie hierdie bewerings ligtelik op nie, maar wil dit duidelik stel dat sedert die vakbond se stigting, was daar nog nooit ʼn Popcru-ampsdraer met die naam Sbu, Sibusiso of enige ander soortgelyke naam nie. Ons stel net so baie belang om meer besonderhede te kry oor hierdie persoon wat daar nou beweer word Popcru se sekretaris-generaal was,” lui die verklaring.

“Inteendeel, hierdie is gefabriseerde leuens aangesien dit destyds wyd bekend was dat Popcru krities was oor die rigting wat die departement ingeslaan het. Om die feite reg te stel, dit was Popcru wat destyds toe hierdie vergadering glo sou plaasvind die verhouding tussen Bosasa, Phezulu Fencing en Sondolo IT ontbloot het. Hulle het almal ʼn soortgelyke adres gehad.”

Bosasa se frontmaatskappye, Sondolo IT en Phezulu Fencing, het onderskeidelik ʼn R200 miljoen-tender vir ʼn TV-plan by die DKD ontvang en ʼn R486 miljoen-kontrak om omheinings vir 66 gevangenisse landwyd te verskaf.

Agrizzi het ook verduidelik hoe Bosasa glo omkoopgeld van R65 000 per maand, en later R100 000 per maand, aan Linda Mti, voormalige nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, betaal het sodat hy tenders vir Bosasa in die gevangenisstelsel kon fasiliteer.

Nog ʼn persoon wat in Agrizzi se getuienis geïmpliseer is, is Patrick Gillingham, ʼn voormalige finansiële hoof by die DKD. Agrizzi het beweer Gillingham was ook na bewering op Bosasa se betaalstaat en Bosasa het in 2006 en 2007 luukse motors vir hom en sy dogter gekoop.

Popcru het bygevoeg hy het in November verlede jaar reeds ʼn pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om spoedig ondersoek in te stel na Bosasa en Sondolo IT se bedrywighede aangesien hulle die regering al lank hul geldkoei maak.

“Ons distansieer ons vakbond en beamptes van sulke bewerings en sal nie van stryk gebring word om die wanpraktyke wat oor die jare binne die DKD verskans geraak het, te ontbloot nie. Ons hou vol dat die DKD drasties van sy kernmandaat afgewyk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Dit is skokkende inligting wat met hierdie ondersoek bekend gemaak word, dit wil voorkom of heelwat staatsamptenare ‘n 2de salaris in die vorm van omkoopgeld verdien het.

Nadia ·

Ek vertsaan nie hoekom kom die goed nou uit nie? As hy daarvaan bewus was hoekom nie lankal iets gese nie hoekom nou? kan iemand verduidelik asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.