Stad Tshwane: Verdaging van raadsvergadering ‘onwettig’

Die Tshwane-metro is steeds leierloos met verskeie vertragings om ‘n nuwe burgemeester te verkies. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die veelpartykoalisie in die Stad Tshwane veroordeel die optrede van die speaker, Mncedi Ndzwanana, wat die raadsvergadering waartydens die nuwe burgemeester van die stad verkies sou word, verdaag het.

Die metroraad probeer vir die tweede keer binne ʼn week om ʼn burgemeester te verkies.

Dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisietoesiggroep, sê die besluit om die vergadering te verdaag, “was onwettig” en “het ontstaan omdat die ANC en EFF voor ’n sekere nederlaag in die verkiesing van die burgemeester te staan gekom het”.

Die veelpartykoalisie het Woensdagmiddag vergader en het besluit dat ’n petisie onderteken sal word deur ’n meerderheid van raadslede wat eis dat die speaker die raad Donderdag om 10:00 weer byeenroep.

“Indien dit nie nagekom word nie, sal verdere stappe ingevolge artikel 29 van die Wet op Munisipale Strukture gedoen word en die howe genader word indien nodig.”

Die veelpartykoalisie het ’n verdere petisie onderteken wat ’n raadsvergadering op Vrydag sal belê om ’n mosie van wantroue teen die speaker te debatteer.

Cilliers Brink is die veelpartykoalisie in die Tshwane-metro se burgemeesterskandidaat. (Foto: Cilliers Brink/Facebook)

Cilliers Brink, die veelpartykoalisie in Tshwane se burgemeesterskandidaat, het vroeër gesê dié partye wend hulle tot allerhande vertragingstaktieke.

Volgens Brink is die jongste truuk Woensdag ingespan om die gesag van Cope (een van die partye in die koalisie) en sy gemagtigde verteenwoordiger te bevraagteken om te besluit wie die party se raadslid moet wees.

“Dit word nou voorgehou as ʼn verskoning oor waarom die raadsvergadering en die verkiesing van ʼn burgemeester nie kan voortgaan nie,” sê Brink.

Volgens Mulder is dit nodig om die ANC en EFF se greep op die stad te breek en die onregmatige misbruik van die raad, wat verdere onstabiliteit en chaos vir die munisipaliteit veroorsaak, stop te sit.

Volgens Mulder was die ANC en EFF, saam met hul vennote, direk verantwoordelik vir die onstabiliteit wat sedert 28 Februarie ontstaan het en wat aanleiding tot ’n leierlose stad gegee het, wie se inwoners na goeie dienslewering smag.

Die vorige burgemeester, dr. Murunwa Makwarela, se enkele dae as Tshwane se voorste burger het rampspoedig geëindig nadat dit aan die lig gekom het dat hy nie net ongerehabiliteer insolvent is nie, maar glo ook die hofbevel – dat hy kwansuis gerehabiliteer is – vervals het.

Hy het vroeër vandeesmaand bedank en die pos van burgemeester is sedertdien vakant.

“Die vertragingstaktiek en verdaging van die vergadering vandag vind weer eens ten koste van die inwoners van Tshwane plaas.

“Die veelpartykoalisie bly sensitief vir die inwoners van Tshwane wat inwoner-gesentreerde leierskap nodig het. Dit is hoekom ons sal veg om te verseker dat die meerderheid wat aan ons veelpartykoalisie toegeken word, herstel word sodat dienslewering die middelpunt van die raadsagenda kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.