Stakers ontwrig gesondheidsdienste op talle plekke

(Foto: National Education Health and Allied Workers’ Union/Facebook)

Bedrywighede by verskeie openbare hospitale landwyd is Maandag erg ontwrig toe die vakbond Nehawu met ʼn nasionale staking begin het.

Nehawu is een van die vakbonde betrokke in ʼn loongeskil met die regering. Die departement van staatsdiens en administrasie bied ʼn salarisverhoging van 4,7% aan, terwyl vakbonde salarisverhogings van tussen 10% en 12% eis.

(Foto: National Education Health and Allied Workers’ Union/Facebook)

Die staking volg ten spyte van ʼn dringende interdik wat die departement Saterdag teen Nehawu bekom het om die protes te stuit. Die departement het op 24 Februarie ʼn kennisgewing oor die beplande staking ontvang.

Nehawu het aangedui dat hy teen die interdik gaan appelleer. Volgens hom beteken dit die hofbevel word opgeskort en kan daar met die protesoptrede voortgegaan word totdat die appèlaansoek afgehandel is.

Betogings is vandag (Maandag) buite verskeie hospitale en distrikskantore in onder meer Gauteng, Noordwes en die Vrystaat aangemeld.

Betogers in Bloemfontein het omstreeks 09:00 chaos by die Pelonomi-hospitaal veroorsaak toe stakende lede van Nehawu glo pasiënte, gesondheidsdienspersoneel en ander diensverskaffers toegang tot die perseel geweier het.

Drie mense is in verband met hierdie ontwrigting in hegtenis geneem.

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, is die drie vermeende betrokkenes, onderskeidelik 29, 51 en 42 jaar oud, omstreeks 10:30 naby die hospitaal se hoofingang in boeie geslaan.

Hulle sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag van onder meer openbare geweld.

Die Mofumahali Manapo Mopeli- en Elizabeth Ross-hospitaal in QwaQwa, die Fezi Ngubentombi-hospitaal in Sasolburg en die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad is ook deur stakers ontwrig.

(Foto: National Education Health and Allied Workers’ Union/Facebook)

In Gauteng is die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, die Leratong-hospitaal en die Tembisa-hospitaal ook ontwrig. In die Wes-Kaap is die Khayelitsha-hospitaal ontwrig en stakers het glo ook moles gemaak by die Tshepong- en Moses Kotane-hospitaal in die Noord-Kaap.

Hospitale in Kimberley en Upington is ook deur die stakings geraak.

Die departement van gesondheid het sy kommer oor die ontwrigtings by die hospitale te kenne gegee.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder van die departement, werk die departement saam met provinsiale gesondheidsowerhede en die polisie om die stakings te monitor en vinnig in te gryp om te verhoed dat die optrede enige uitwerking op die lewering van gesondheidsdienste het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Daar is n verskil tussen vreedsame betoging en dansende kriminele en hopenlik kan die weskaap afstig en deur bevoegde wetstoepassing die kriminele tot ander sieninge bring.

Jakes ·

Dis mos maklik om die die spul uitmekasr te jaag met donshael en rubber koels. Maar natuurlik is die polisie nie te vinde daarvoor nie.

Nico ·

Wat wil Nehawu bereik die unie is besig om onskuldige patiente waarvan daar ook swart patiente betrokke is dood te maak.

Amelia ·

Is dit hoekomRamaposa en sy minister eerder oorsee gaanindien hul siek is wil nie in hierdie hospitale wees nie maar wet van ou mense en kidz wat in die hospitale moet wees Laat die ramaposa bietjie in die staats hosp opgeneem word hul wil net die beste he en kan nie weet hoe ander mense voel nie
hul kry miljoene maar hoeveel leef onder brood lyn

Emily ·

Beste van als is Hulle soek meer geld, maar tog word j as pasient soos vuilgoed behandel
Dank die hele spul af
Daar is geen respek vir lewens in di hospitale nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.