Standard Bank skort verpligte inenting op; talle egter reeds afgedank

(Argieffoto)

Die bankwerkersvakbond Sasbo eis die onmiddellike heraanstelling van al die werkers wat Standard Bank afgedank het omdat hulle nie voldoen het aan die maatskappy se verpligte inentingsbeleid nie.

Joe Kokela, algemene sekretaris van Sasbo, sê hulle is verlede week ingelig dat Standard Bank die beleid opskort. Altesame 40 van die bank se werkers is egter reeds afgedank omdat hulle nie teen die voorgeskrewe sperdatum teen Covid-19 ingeënt was nie. ʼn Onbekende aantal ander werkers is op spesiale verlof geplaas hangende verhore oor die aangeleentheid.

Kokela sê benewens die heraanstelling van die afgedankte werkers eis die vakbond ook dat die spesiale verlof opgeskort en verhore laat vaar word en dat die werkers toegelaat word om terug te keer werk toe.

“Ons is nou verby die punt waar ons vra vir dit om te gebeur. Ons eis nou dat dit gedoen word,” sê Kokela.

Die regering het nooit ʼn verpligte inentingsbeleid vir mense ingestel nie, hoewel verskeie maatskappye dit nietemin op eie stoom gedoen het.

“Die opsies is eenvoudig: As jy in só ʼn hoek gedwing word, moet jy regstappe doen. Ons sal ons tot al die howe in die land wend indien nodig,” sê Kokela.

Lungisa Fuzile, Standard Bank se uitvoerende hoof, het Maandag aangekondig werkers is op 23 Junie ingelig dat die bank sommige van sy veiligheidsmaatreëls en Covid-19-beleid en -protokolle hersien het.

Die bank het na verskeie faktore gekyk, waaronder onlangse regulatoriese verwikkelinge, die huidige stand van die pandemie in Suid-Afrika, sowel as die hoë inentingskoers onder sy werkers. Altesame 95% van die bank se werkers is ingeënt en die verpligte inentingsbeleid is opgeskort.

“Gegrond op die huidige konteks van die pandemie glo ons dat ons inentingsbeleid nie meer nodig is nie. Gevolglik is dit nie meer verpligtend vir werkers om ingeënt te word, of om ʼn negatiewe PCR-toets of snel-antigeentoets te verskaf indien hulle nie ingeënt is nie, om ons perseel binne te kom,” sê Fezile.

Hy het benadruk dat hoewel die bank die beleid opgeskort het, hy steeds inenting steun en aanmoedig.

Standard Bank sê ook indien die situasie verander, kan hy in die toekoms weer sy beleid en protokol wysig om ʼn veilige werksomgewing te handhaaf.

Standard Bank het nog nie op ʼn navraag gereageer oor wat die toekoms vir afgedankte werkers inhou noudat die beleid opgeskort is nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het onlangs in die guns van ʼn afgedankte werker beslis nadat sy geweier het om teen die koronavirus ingeënt te word. Maroela Media het vroeër berig Baroque Medical het Kgomotso Tshatshu die trekpas gegee omdat die maatskappy ʼn verpligte inentingsbeleid vir al sy werknemers ingestel het en Tshatshu weens mediese redes geweier het om die entstof te ontvang. Nadat sy haar egter tot die KVBA gewend het, is die maksimum vergoeding aan haar toegeken.

Die beslissing was handomkeer van ʼn vroeëre beslissing van die KVBA rakende dieselfde werkgewer en presies dieselfde verpligte inentingsbeleid. In daardie saak het die KVBA beslis die werkgewer was geregverdig in die inwerkingstelling van sy verpligte inentingsbeleid omdat dit Covid-19-verwante afwesigheid beperk en omdat die versuim om in te ent lei tot billike ontslag weens operasionele vereistes.

Kokela sê die stryd teen Standard Bank is allermins verby en dat die bank die enigste bank is wat ʼn verpligte inentingsbeleid in werking gestel het. “Ons haat dit om vir ons vennote te sê dat ons hulle gewaarsku het…”

Standard Bank se besluit om sy inentingsbeleid op te skort volg op dié van maatskappye soos Old Mutual, Discovery en Woolworths wat dit vroeër al gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Miena ·

En as daadie persoon nou al n ander job gekry het? Gaan hulle hom / haar terugwerkend vergoed? met inflasie en allerhande rentes en bonusse wat die persoon sou gehad / gekry het soos as hy / sy oorspronklik indiens sou wees?

De Villiers ·

Die gepeupel(die werknemers van die laer ordes) is eerste afgedank.

Toe skop die hoër rangordes vas en gaan dit te veel vir Standard bank kos om hulle ook af te dank.

Altyd die swaktes en die minder belangrikes wat eerste geteiken word, die sagte teikens eerste.

Andrew ·

Wie gaan nou vir al die regskostes moet betaal? Hele direksie moet onmiddelik bedank, tesame met die hoof en elke persoon in leierskap wat die “policy” geformuleer en adviseer het. Volgende een , discovery

Martie ·

FANTASTIES!!!
Mag alle werkgewers wat inentings verplig dieselfde doen – en mag almal wat hulle werk verloor het omdat hulle nie hulle laat boelie het om in te ent nie, ook hulle werk terugkry met vergoeding vir die maande se inkomste wat hulle verloor het.

Genis ·

Gaan hulle tot in Daantjie in die Kaller hok… maak hulle betaal… Spur hulle ook sommer

VaalDonkie ·

Ek hoop hulle almal kry sommer ‘n lekker VET skikking ook. Genoeg dat hulle nooit weer hoef te werk nie.

VaalDonkie ·

My ma is gedwing om die gif te vat. Nou sit sy met outo-immuun probleme en het amper ‘n beroerte gehad. Ek hoop sy kan op ‘n stadium ‘n massiewe vergoeding toegestaan word. Ek self het vir maande lank onder verskriklike angs verkeer oor ons maatskappy se beleid. Gelukkig het hulle my aansoek toegestaan. En ook gelukkig dat ek binne ‘n week ‘n ander werksaanbod gehad het, dus het dit duidelik geword ek hoef nie teen my sin gif te vat en dalk ses maande later aan ‘n hartaanval omkom nie.

Annelize ·

Slaan Standard Bank hulle naam met ‘n plank!!!

Die afgedanktes behoort onmiddelik heraangestel te word, met terugwerkende vergoeding. Hoop ander instansies wat ook vaksinering afdwing of jy is jou werk kwyt, neem kennis. Dis nou wat gebeur as jy die wa voor die perde inspan en die res slaafs navolg.

Korrelkop ·

Nog nooit veel ooghare vir Standard Bank gehad nie, sal ook nooit!

otter ·

interesant . so ver ek verstaan het ouens nou mooi keelvol geraak vir curro en daar is n groot uitstap wat beplan word aan die einde van die jaar, standard bank kon sien dit sou nie werk nie . Meer skade aangerig as enige iets anders. Die voels fluit harder as wat hulle dink :) inenting mandaat is bog!

Robert ·

N amy mening moet almal wat afgedank is nou weer werk en verlore salarisse moet met rente terugbetaal word.

Christine ·

Ek was vir 20 jaar by Standardbank maar nie meer nie…… tata.

Miskruier ·

Nou nog die twee universiteite wat die reg om te besluit oor jou eie liggaam, ontken.

Quentin ·

Die skade is reeds gedoen. Duisende mense wie nie wou inent nie het ingeënt sodat hul hul werk kan behou. Die persone loop nou die risiko vir die talle newe effekte weens die inënting. Die wie geweier het was gevikitimiseer, gedreig en teen hulle gediskrimineer. Talle wil nie weer teruggaan Standard Bank toe nie. Discovery is nog veel erger. Nog nooit sulke boelietaktiek gesien nie.

Quentin ·

Dit is jammer Solidariteit het die persone teleurgestel toe hul in die publiek verklaar het die inenting is veilig en effektief. Solidariteit weier om persone wie geaffekteer word deur die verplige inentings by te staan in die CCMA. Hulle kan nie, want hul sit op die draad in die saak.

Nico ·

Standerd bank kan ook kyk na sy dienste wat gelewer woors wat absoluut pateties is soos al die ander banke, het klerke maar die klient moet al die werk doen omdat die klerke weet nie wat aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.