Statebondspele: SA vyfde op medaljelys

Tatjana Schoenmaker Lara van Niekerk nadat hulle onderskeidelik silwer en goud in die 100 m-borsslag gewen het (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Suid-Afrika is tans vyfde op die medaljelys by die Statebondspele in Birmingham.

Span Suid-Afrika het reeds ses goue medaljes, vyf silwer- en vyf bronsmedaljes ingepalm.

Lara van Niekerk, Tatjana Schoenmaker en Pieter Coetzé het Dinsdagaand nog drie medaljes vir Suid-Afrika in die swembad losgeswem. Van Niekerk het die 100 m-borsslagitem in ’n tyd van 1:05.47 gewen, terwyl Tatjana Schoenmaker (1:06.68) die silwermedalje ingeoes het. Coetzé het die bronsmedalje in die 200 m-rugslagitem gewen.

Suid-Afrika se rolbalvroue het vroeër Dinsdag ‘n silwermedalje gewen. Thabelo Muvhango, Bridget Calitz, Esme Kruger en Johanna Snyman het in die eindstryd met 10-17 teen Indië verloor.

Die Suid-Afrikaners het naelskraap nog ’n hele paar medaljes misgeloop. Die gemengde wisselslag aflosspan van Chad le Clos, Van Niekerk, Coetzé en Aimee Canny het vierde geëindig en net-net die bronsmedalje gemis. Michael Houlie het ook net-net die bronsmedalje gemis in die 50 m-borsslag.

In die vrouediskus het Yolandi Stander sesde geëindig met ’n beste gooi van 55,49 m. Michaela Pulford het ook sesde geëindig in die 800 m-vryslag terwyl Adrian Wildschutt vyfde geëindig het op die atletiekbaan in die 10 000 m vir mans.

Suid-Afrika se medaljewenners:

NaamItemMedalje
Pieter Coetzé50 m-borsslagSilwer
Pieter Coetzé100 m-rugslagGoud
Pieter Coetzé200 m-rugslagBrons
Kaylene Corbett200 m-borsslagBrons
Erin Gallagher50 m-vlinderslagSilwer
Chad le Clos200 m-vlinderslagSilwer
Christian Sadie50 m-vryslag S7Brons
Tatjana Schoenmaker200 m-borsslagGoud
Tatjana Schoenmaker100 m-borsslagSilwer
Lara van Niekerk50 m-borsslagGoud
Lara van Niekerk100 m-borsslagGoud
Caitlin RooskrantzTrapbrugBrons
Charne GrieselJudoBrons
Michaela WitbooiJudoGoud
VrouerolbalspanRolbalSilwer
BlitsbokkeSewesrugbyGoud

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.