Steengroef in Birdstraat jare reeds omstrede

Huldeblyke word by die heining van die steengroef in Stellenbosch aangebring.
(Foto: Francgo Stander/Maroela Media)

Inwoners van Stellenbosch meen die plaaslike munisipaliteit se reaksie op die dood van twee jongmense wat verlede naweek in ʼn skynbare fratsongeluk gesterf het, is onvoldoende en sê daar is lankal gewaarsku oor die gevare wat die betrokke steengroef in Birdstraat inhou.

Leila Lees (18) en haar vriend, Ethan Kirkland (19), is in ʼn motorongeluk dood nadat hul motor in ʼn reusesteengroef in die middedorp van Stellenbosch beland het. Hulle was die Vrydagaand (21 Oktober) net voor middernag skynbaar op pad na Kirkland se blyplek in Paul Krugerstraat toe hul motor vermoedelik gegly en deur die steengroef se omheining gebars het. Dit motor het op sy dak in water onderin die gat beland en die twee se liggame is later uit die motor gehaal.

Inwoners sê die gat, oorspronklik deel van ʼn eiendomsontwikkeling, is al vir etlike jare ʼn doring in die oog en gevaarlike plek in die dorp en talle vertoë is al tot die plaaslike owerheid en grondeienaar gerig om iets aan die terrein te doen. Nadat die eiendomsontwikkeling sowat 33 jaar gelede gestaak is, is die bousels afgebreek, die terrein omhein en net so gelaat.

In ʼn verklaring die afgelope week, sê die Stellenbosch-munisipaliteit hulle is lankal reeds in gesprek met die eienaar van die eiendom in Birdstraat, om ontwikkeling van die eiendom te bespoedig en het vantevore met verskeie oplossings en ingrypings vorendag gekom.

“Dit het ingesluit die oprig van ʼn behoorlike heining rondom die eiendom, asook die dreinering van die water in die gat op die eiendom.” Volgens die munisipaliteit het die eienaar egter telkens die proses om die eiendom te ontwikkel, vertraag en later geweier om met die munisipaliteit byeen te kom oor die onveilige toestande van die eiendom.

Die munisipaliteit het intussen ʼn ordonnansie wat probleemeiendomme bestuur, ingestel.

Huldeblyke word by die heining van die steengroef in Stellenbosch aangebring.
(Foto: Francgo Stander/Maroela Media)

Talle Stellenbossers meen egter die munisipaliteit én die eienaar van die grond moet pa staan vir die twee jongmense se dood. Daar is ook nou begin met ʼn petisie waarin geëis word dat die gat in Birdstraat opgevul moet word. Teen Vrydagoggend het ongeveer 1 992 mense reeds die petisie onderteken.

Hendrik Lemmer, wat eiendomme aangrensend aan die terrein besit, het gerugte dat die voertuig teen ʼn hoë snelheid gery het, verwerp.

“Hulle kon nie meer as 60 km/h gery het nie omdat hulle eers links in Birdstraat en toe onmiddellik regs in Paul Krugerstraat gedraai het. Dalk het die motor gegly en hulle het geskrik. Die omheining kon hulle nie keer nie,” het hy gesê.

ʼn Eiendomsontwikkelaar wat ook eiendom in die omgewing besit, maar uit vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê die omheining was heeltemal onvoldoende.

“Daardie draadjie sou nie eens ʼn fiets kon keer nie. Die hele situasie getuig van drastiese nalatigheid – van die grondeienaar én die munisipaliteit wat moes toesien dat die terrein nie so verwaarloos is nie. Die eienaar en die munisipaliteit moet hulle maar regmaak vir reuse-eise,” het hy gesê.

Andre de Villiers, ʼn eiendomsagent van Stellenbosch wat ook al oor die toestand van die perseel by die Stellenbosch-munisipaliteit gekla het, het gesê die feit dat die munisipaliteit eers sowat twee maande gelede wakker geskrik het met die afkondiging van ʼn ordonnansie oor probleemeiendomme, is tragies.

“Kon hulle in 33 jaar nie die nodige aksie bewerkstellig om hierdie probleem in die dorp te bestuur nie? Ander eiendomme van dieselfde eienaar loop dieselfde pad en dit is asof hy met sy Stalingrad-strategie ʼn houvas oor die raad het. Die tragiese ongeluk van die twee jongmense by die ‘gat’ in Birdstraat sou sekerlik nie fataal gewees het indien dit ontwikkel was, of as daar ten minste ʼn behoorlike heining of keermuur opgerig was nie,” het De Villiers gesê.

Maroela Media het die eienaar van die eiendom genader om kommentaar, maar dié wou nie kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.