Sterftes by ZambiBush: ‘Dinge beweeg darem nou’

Deon du Toit blaai deur ’n fotoboek van Aiden. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Jare nadat twee kinders by die ZambiBush-waterpark in die noorde van Pretoria dood is, is daar uiteindelik vordering met die geregtelike ondersoek om te bepaal of iemand wel vir hul dood aanspreeklik gehou kan word.

Die ouers van die twee kinders – Aiden du Toit (10) en Bohlale Mokoena (7) – se prokureur is oortuig daar is genoeg bewyse van nalatigheid en wil die hof vra om aanklagte van moord teen die eienaars van ZambiBush aanhangig te maak. Die kinders is in 2017 in afsonderlike voorvalle by dié waterpark dood.

Die saak is verlede week met ʼn ondersoek ter plaatse by ZambiBush voortgesit en die staat het sy eerste getuie, Jaco Visser, voorheen ʼn ontwikkelingsbeheerbeampte by die Tshwane-metro se stad-en-streeksbeplanningsafdeling, geroep. Visser het onder meer oor die soneringsgeskille tussen ZambiBush en die metro getuig – insluitend dat die park nie gesoneer was om as waterpark bedryf te word nie. Sy getuienis sal einde Augustus voortgesit word wanneer die saak weer aangehoor word.

Benewens Visser se getuienis is daar nou ook bepaalde inligting deur die belanghebbendes in die saak op rekord geplaas.

“Die families is verlig daar is beweging. Dit het vir vyf, ses jaar stilgestaan,” het Willem Koekemoer, die Du Toits en Mokoenas se prokureur, aan Maroela Media gesê.

“Hierdie ouers soek net antwoorde.”

Die geregtelike doodsondersoek het al verlede jaar vlugtig in die Pretoria-Noord-landdroshof begin, maar het daarna weer gesloer.

Dít was toe reeds ʼn jaar nadat die kinders se ouers hul dagvaardings ontvang het om in die ondersoek voor die hof te getuig. Dries Nel, direkteur van ZambiBush, en sy broer Bruwer Nel, eienaar van die perseel, is ook gedagvaar om as belanghebbendes in die ondersoek te getuig. ZambiBush is ook as sake-entiteit gedagvaar.

Maroela Media het vroeër berig Aiden is op 29 November by die waterpark dood nadat hy vermoedelik sy kop op ʼn waterglybaan gestamp het. ʼn Nadoodse ondersoek het bevestig dat hy aan ʼn kopbesering en gevolglike komplikasies dood is.

Bohlale se liggaam is twee maande voor Aiden se dood in een van die swembaddens by ZambiBush aangetref – ʼn dag nadat hy as vermis aangemeld is. Maggie Mokoena, Bohlale se ma, het destyds aan Maroela Media gesê haar kind se dood is steeds onverklaarbaar.

Park nou ‘koi-plaas’

Koekemoer was verlede week by die ondersoek ter plaatse teenwoordig en sê dat die park nou ʼn koi-plaas is. Dit word glo glad nie meer as ʼn park bedryf nie.

Meeste van die glybane is afgebreek – insluitend die een waarop Aiden glo seergekry het – en die swembaddens is almal in visdamme omskep.

“Dit is geboekstaaf dat dit goedkoper is om visse te onderhou as om chloor vir die swembaddens te koop,” het Koekemoer gesê.

‘Ons soek ʼn moordklag’

Koekemoer sê voorts hulle beplan om heelwat getuies te roep wat onder meer getuienis ten opsigte van die sonering, bestuur van die park, glybane en swembaddens tydens besoeke aan die park sal lewer.

Dit sluit onder meer in dat daar op die dag van Aiden se dood glo nie ʼn lewensredder by die spesifieke glybaan en swembad was waar Aiden seergekry het nie. Die naaste lewensredder was na bewering 40 meter weg.

Koekemoer is positief dat daar genoeg bewyse van nalatigheid was en sê dat hy die hof vir ʼn moordklag teen die eienaars van ZambiBush gaan vra.

Hoewel die kinders se families dankbaar is dat daar nou vordering met die ondersoek is, bly dit egter “uitmergelend” en sukkel hulle steeds om afsluiting te kry.

“Dit bly ʼn emosionele situasie.”

Die geregtelike doodsondersoek gaan op 28 en 29 Augustus in die Pretoria-Noord-landdroshof voort. Intussen gaan die siviele saak tussen Du Toit en die Nel-broers aangaande Aiden se dood ook afsonderlik voort.

Nog iemand by ander waterpark dood

Die ZambiBush-ontspanningsoord. Foto: Facebook

Volgens Koekemoer het dit intussen onder sy aandag gekom dat ʼn derde persoon onder soortgelyke omstandighede as Aiden by ʼn ander park dood is wat deur dieselfde eienaars as ZambiBush bedryf word.

André Etsebeth is op 7 Oktober 2018 by die Hennops Lifestyle Resort (ook bekend as Hennopspride) naby Centurion dood. Hy het vermoedelik sy kop op ʼn glybaan gestamp en in die swembad verdrink.

Janie Venter van Barnard Incorporated verteenwoordig Etsebeth se verloofde, Sophia Stemmet, in ʼn siviele eis van meer as R8,7 miljoen in skadevergoeding teen Hennops Lifestyle Resort.

Stemmet en Etsebeth was sedert 2012 verloof en het as gesin saam gewoon. Volgens Venter het Etsebeth Stemmet en haar kinders finansieel onderhou.

“Die eis word wel teengestaan. Die saak is in ʼn gevorderde stadium en die partye het hul weergawes vasgelê en die verhoordatum moet nog bepaal word,” het Venter aan Maroela Media gesê.

“Die vermoede is dat André sy kop gestamp het toe hy by die rooi glybaan by die oord afgegly het. Hy het moontlik sy bewussyn verloor, uitgespoel en toe in die swembad verdrink.

“Die nadoodse ondersoekverslag toon dat André ʼn hou teen sy kop weg het en dat hy weens verdrinking gesterf het. Die verslag toon ook dat Andre ten minste 15 minute onder water was.”

Volgens Venter is Etsebeth deur Stemmet se negejarige seun ontdek, was sy ma geroep het om te kom help.

“Sophia het André self uit die swembad getrek. Ons saak is dat Hennops Lifestyle Resort sekere verpligtinge gehad het, maar dat hulle versuim het om hierdie pligte na te kom.

“Sophia het daardie dag ses en ʼn half uur langs André se liggaam gewag dat die lykswa hom kom oplaai. Die oord het nie in hierdie tyd gesluit of gaste weggewys nie en soos normaal aangegaan. Gaste is nie eens versoek om die swembad te verlaat nie.

“Tot op hede het Hennops Lifestyle Resort geen emosionele ondersteuning aan die gesin gebied nie. Hierdie eis gaan vir hulle oor meer as net die geld, hulle ly almal aan erge trauma.”

Eienaars volstaan by onskuld

Die Nel-broers het in ʼn verklaring deur Shanette Jacobs, hul regsverteenwoordiger, aan Maroela Media gesê hulle volstaan daarby dat hulle onskuldig is, en het vertroue in die regstelsel dat die ondersoek regverdig sal geskied.

“Ons het en sal altyd vasbeslote wees om ten volle met wetstoepassingsowerhede saam te werk en ons vertrou die objektiwiteit en onpartydigheid van die regstelsel.

“Ons erken die belangrikheid van die behoorlike proses en die fundamentele beginsel van onskuldig tot skuldig bewys.”

Die Nel-broers sê daar moet ook in gedagte gehou word dat al die “hofverrigtinge emosioneel belastend” is.

“Ons waardeer die uitstorting van ondersteuning deur familie, vriende en welwillendes wat ons in hierdie uitdagende tyd bystaan, en wil ons regspanne en ander kundiges vir hul toewyding, kundigheid en onvermoeide pogings bedank om ons by te staan en te verseker dat die waarheid seëvier.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om ons privaatheid en dié van ons familie tydens hierdie geregtelike doodsondersoek te respekteer.”

Die broers versoek die publiek ook om hulself van enige bespiegelings te weerhou wat die hofverrigtinge kan benadeel.

“Ons regspanne het ons ingelig dat die doel van ʼn doodsondersoek nie is om individue te vervolg nie, maar eerder ʼn geleentheid is om die hof by te staan met die insameling van feite wat relevant mag wees tot die dood van die oorledene. Daarvolgens sal ʼn besluit geneem word of strafregtelike vervolging teen enige party ingestel moet word.

“Die geregtelike doodsondersoek sal na verwagting deeglik en noukeurig gedoen word, en ons sien uit na ons dag in die hof en die geleentheid om die hof in die ondersoek by te staan. Ons het volle vertroue in die regsproses en doen ʼn beroep op die publiek om die saak toe te laat om sy gang te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.