Sterk wind, skadelike golwe en selfs sneeu vir die naweek voorspel

Foto bloot ter illustrasie: Snow Report SA/Facebook

ʼn Kouefront sal die Wes-Kaap na verwagting Vrydag tref wat bibberweer, reënbuie, sterk wind, skadelike seegolwe en selfs sneeu in sekere dele van dié provinsie en ook ander dele van die land tot gevolg sal hê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel dat die kouefront Vrydagmiddag hewige reënbuie in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap sal veroorsaak, wat Saterdag na die Noord- en Oos-Kaap sal uitbrei. Die kouefront sal die oostelike dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga teen Sondag bereik.

“Die daling in temperature sal Vrydag die moontlikheid van sneeu in hoogliggende gebiede oor suidelike Namakwaland en die binneland van die Wes-Kaap tot gevolg hê, wat teen Maandag na die berge in die Oos-Kaap en suidelike Drakensberge sal versprei.

“Ontwrigtende sneeuval is plek-plek moontlik,” sê die SAWD.

Saam met die kouefront word sterk wind ook oor die naweek in die binneland verwag, wat ook stormsterk wind langs die kus sal veroorsaak.

“Skadelike golwe word Vrydagaand langs die suidwestelike kus verwag wat dan ooswaarts sal uitbrei.”

(Foto: Facebook/SAWS)

Die volgende waarskuwings is Donderdag uitgereik:

  1. Geel vlak 2 – Wind in die binneland: Sterk tot stormsterk (50 tot 70 km/h) noordwestelike wind word oor die binneland van die Wes-Kaap (oostelike dele van die Kaapse Wynlande en Sentraal-Karoo) en Suidelike Namakwa verwag.
  2. Geel vlak 2 – Skadelike golwe: Die hoogte van golwe kan van Vrydagaand tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas tot 7 m toeneem, waarna dit Saterdag langs die Wes- en Suidkus sal versprei en Port Edward Sondag sal bereik.
  3. Oranje Vlak 5 – Sterk wind wat groot skade aan nedersettings, eiendomme en tydelike infrastruktuur kan veroorsaak, word Vrydag en Saterdag in die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit en die westelike dele van die Chris Hani- distriksmunisipaliteit verwag.
  4. Geel Vlak 4 – Sterk wind wat skade aan nedersettings, eiendomme en tydelike infrastruktuur kan veroorsaak, word Vrydag en Saterdag in die Joe Gqabi- distriksmunisipaliteit, die oostelike dele van Chris Hani- distriksmunisipaliteit asook die Amahlathi- en die Raymond Mhlaba plaaslike munisipaliteit verwag.
  5. Oranje Vlak 6 – Ontwrigtende sneeu word Sondag en Maandag verwag wat daartoe kan lei dat groot bergpasse moet sluit, gemeenskappe geïsoleer word en vee van die koue vrek. Die waarskuwing geld vir die Chris Hani- en Joe Gqabi- distriksmunisipaliteit asook die Matatiele-, Umzimvubu-, Raymond Mhlaba- en Dr. Beyers Naude (Graaff Reinet)- plaaslike munisipaliteit. Uiters hoë brandgevaartoestande word ook Vrydag in die Sarah Baartman-, Chris Hani- en Joe Gqabi- distriksmunisipaliteit sowel as die Nelson Mandelabaai-metro verwag.

“Die SAWD sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor en opdaterings verskaf waar nodig.

“Die publiek word aangemoedig om gereeld die weervoorspellings op TV, radio en sosialemediaplatforms te volg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Tel jou seëninge. Jy was duidelik nog nie in Alaska , Noorweë in hul winter nie. Ons winter is heel skaflik teen daardie mense s’n.

Adele ·

Die berig verwys verkeerdelik na die SANW. Dis die SAWD, nie die SA Nasionale Weermag nie.

Megan Swart ·

Dagsê Adele
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die berig is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

lon ·

Julle verstaan nie, ons hier in die Onderberg van die Laeveld het nog nie eens winter gehad nie. Ons wil ook ‘n bietjie koue kry, die muskiete vreet ons op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.