Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners se reg op onderrig in die taal van hul keuse op universiteitsvlak is “byna uitgewis” terwyl hul reg op onderwys in Afrikaans op skoolvlak toenemend bedreig word.
Die wysigingswetsontwerp op basiese onderwyswette (Bela) hou veral ʼn bedreiging in vir die toekoms van enkelmedium Afrikaanse skole, sê die FW de Klerk-stigting in sy rapport oor die stand van kulturele, godsdienstige en taalregte in Suid-Afrika.
Dié rapport is op Erfenisdag bekend gestel en toon dat die Suid-Afrikaanse regering min (of geen) pogings aanwend om taalregte te bevorder nie.
Die stigting gee die Suid-Afrikaanse regering ʼn onbevredigende D vir sy inwerkingstelling van die reg op onderwys in Suid-Afrikaners se amptelike taal van keuse.
Die stigting sê nou daar kan verwag word dat enkelmedium Afrikaanse skole toenemende druk gaan ervaar om na dubbelmedium oor te skakel.
Die aantal Afrikaanse enkelmediumskole het tussen 2018 en 2022 reeds van 1 279 na 1 004 afgeneem.
Luidens die stigting se rapport word Afrikaansmediumonderrig in openbare skole bedreig deur die Bela-wetsontwerp, die dalende gebruik van die taal deur bruin gemeenskappe en die migrasie van Afrikaanssprekende leerders na private skole.
Die stigting sê die vooruitsigte vir die toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak is ook baie swak.
“Onderrig in Afrikaans op universiteitsvlak verkeer onder terminale druk – met slegs die Universiteit Stellenbosch (US) en die Noordwes Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus – wat tans nog voortgaan om uiters afgeskaalde onderrig in die taal aan te bied.”
Volgens die rapport is Afrikaans egter aan die verdwyn by die ses universiteite waar dit voorheen die enigste – of oorheersende – onderrigmedium was.
Inheemse tale
Die stigting sê daar word baie min in die praktyk gedoen om die status en die gebruik van Suid-Afrika se inheemse tale te bevorder. Die stigting gee hiervoor ook ʼn D.
Vir Suid-Afrikaners se reg om aan die kultuur van hul keuse deel te neem én dit te geniet, gee die FW de Klerk-stigting ’n C-simbool.
Die stigting sê wit Engelssprekende en Afrikaanssprekende minderhede se reg hierop word veral bedreig as gevolg van die groeiende voorkoms van kritiese rasseteorie en die siening dat hul kulture onlosmaaklik verbind is met onderdrukking onder kolonialisme en apartheid.
Vir die inwerkingstelling van Suid-Afrikaners se reg om die taal van hul keuse te gebruik, gee die FW de Klerk- stigting egter ʼn B-simbool.
“Hierdie reg word oor die algemeen geniet. Suid-Afrikaners kan die taal van hul keuse vrylik gebruik. Die reg op die gebruik van die taal van hul keuse is egter beperk vir nie-Engelssprekendes weens die groeiende voorkoms van die eksklusiewe gebruik van Engels deur staatsinstellings.”
Die stigting sê Engels het die enigste de facto- amptelike taal geword. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die regering se versuim om die wet op die gebruik van amptelike tale af te dwing.
Luidens die navorsing wend staatsinstellings ook nie pogings aan om al 11 amptelike tale te gebruik nie. Hiervoor kry Suid-Afrika ook ʼn D.
Die aanvaarding van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as amptelike taal word verwelkom, maar sal waarskynlik geen uitwerking hê op die groeiende monopolie van Engels in staatsinstellings nie, sê die stigting.
Sal nou nie die F W de Klerk-stigting van hulle profetiese vermoëns beskuldig nie.
Waar is Freddie se wigte en teenwigte dan nou?
Die stigting wat die naam dra van die man wat ons in hierdie pot lensiesop laat beland het, gee aan die groep vir wie hulle die lensiesop gegee het, ‘n D-simbool.
Ek’s seker daarvan dit gaan soveel beteken as wat die wigte en teenwigte beteken het.
Die FW de Klerk-stigting: Wat ‘n grap!