Swak vertaalde vraestelle verwar leerders

Tabel

Buiten die vertaalfoute is talle van die elemente se afkortings ook slegs as kleinletters gebruik wat dit wetenskaplik heeltemal verkeerd sou maak. Foto: Verskaf.

Gr. 10- en 12-leerders in Gauteng is tydens die Junie-eksamen met ʼn paar vreemde elemente op die Afrikaanse weergawe van die periodieke tabel gekonfronteer.

Die departementele vraestel vir tegniese wetenskap was só swak in Afrikaans vertaal dat dit elemente soos Gadolinium met die afkorting Gd as “God” op dié tabel in die vraestel omskryf is.

Elemente soos Helium (He) het tydens die vertaling “Hy” geword, terwyl Berillium (Be) as “Wees” vertaal is. Kobalt (Co) het “Mede” geword, Arseen (As) was “Soos”, Jodium (I) was “Ek”, Astaat (At) was “By” en Erbium (Er) is as “Daar” op die weergawe van die periodieke tabel aangedui.

Buiten die vertaalfoute is talle van die elemente se afkortings ook slegs as kleinletters gebruik wat dit wetenskaplik heeltemal verkeerd sou maak.

“Dit is skokkend en terselfdertyd lagwekkend. Dit lyk behoorlik of die onderwysdepartement die tabel se vertaling aan Google oorgelaat het, dit terwyl ʼn Afrikaanse weergawe van die periodieke tabel maklik verkrygbaar is,” het Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), gesê.

Volgens Vermeulen gebruik sommige skole departementele vraestelle omdat dit ʼn goeie manier is om leerders aan die standaarde van eksterne vraestelle te meet ter voorbereiding op die eindeksamen. Dit help ook om die druk op onderwysers te verlig om self vraestelle op te stel.

Die vraestelle word gewoonlik kort voor die eksamen by die provinsiale onderwysdepartemente se onderskeie distrikskantore afgehaal en aan leerlinge by die eksamensessie uitgedeel. Onderwysers sien egter glad nie die vraestelle vooraf nie.

“Leerders verkeer reeds onder geweldige druk tydens ʼn eksamen en nou sit hulle in ʼn situasie waar hulle nie kop of stert van ʼn vraag of die hulpmiddels in die vraestelle kan uitmaak nie. As hulle in die omstandighede ʼn fout maak, is dit nie die leerder se skuld nie,” het Vermeulen gesê.

Die SOS is ook bewus van nog ʼn probleem met die vertaling van ʼn vraag in die gr. 12-lewensoriënteringsvraestel wat in Noordwes afgelê is.

“Herhalende vertalingsfoute in ʼn vraestel plaas onsekerheid in alle Afrikaanse ouers en kinders se gemoed oor die moontlikheid dat hulle dalk benadeel kan word terwyl vraestelle in Engels 100% duidelik en ondubbelsinnig is.”

Vermeulen meen die Gautengse onderwysdepartement sit met ʼn finansiële verknorsing en het nie geld om kundige vertalers vir die vertaling van spesialisvakke se vraestelle aan te stel nie.

“Ons sal die departement graag hieroor ná afloop van die Julievakansie wil gaan sien met al die nodige bewyse en antwoorde en regstellings van hulle eis,” het Vermeulen bygevoeg.

Beide die Gautengse en nasionale onderwysdepartement was nie teen die plasing van hierdie artikel beskikbaar vir kommentaar nie.

Vermeulen het skole, ouers en leerders, wat bewus is van soortgelyke foute in departementele eksamenvraestelle, versoek om dit onder die aandag van die SOS te bring deur ʼn e-pos aan [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

47 Kommentare

Tamboti ·

In the beninigin, listen carefully; fourhundred thousand one million and sixty eight hundred and twenty one.
Kwa kwa kwa kwa.

Leon ·

En dit is mense wat ons kinders moet leer????
Moet die betrokkenes wat die vraestelle opstel nie dalk self onderrig kry nie, want dit is duidelik dat hulle nie in die poste moet wees nie. Dit is skokkend, en nou sien ons ook hoekom ander lande vir ons kwalifikasies lag.

Hartseer ·

Waar is die LF’s van die vak wat eers die vraestel goedgekeur het voordat dit geskryf was? Wys jou die onderwysstelsel is besig om ons kinders erg te feil in opleiding en dan verwag hul ons die kinders moet die onderwysers glo? ASB! dit is pateties en onaanvaarbaar!

Theresa ·

Onaanvaarbare, swak, patetiese en rooi-gesig werk.
Wie was verantwoordelik??
Sies man.
Of gaan daar nou weer rede gesoek word waarom dit ook maar “ok” is om selfs Wetenskap af te kraak tot niks.

Stokkies ·

Ek weet almal hier staan vas agter Afrikaans, maa julle moet begin oorweeg om dalk oor te gaan na engelse onderrig, dit maak deure vir jou oop as jy oorsee sou wou gaan. Ek self was in n afrikaanse skool maar as jy op universiteit kom is al die oordentlike amerikaanse handboeke in engels en om alles te vertaal is n nagmerrie.. kinders lees in elk geval nie meer boeke nie, en spelling is skrikwekkend, laat hul leer in n taal wat hulle op televisie hoor

Gerda ·

Ek is so bly om te sien hier is nog iemand wat besef dat Afrikaanse skole mens nie gaan help op universiteit of in die buiteland nie. Ek het dit eenkeer hier op MM genoem en was omtrent gekruisig oor ek blykbaar nie die waarde van moedertaalonderrig besef nie.

karen ·

Stokkies – ek stem met jou opmerking. Selfs vandag in die werkplek waar baie kantoor personeel Afrikaans is, word amptelike werk hoofsaaklik in Engels hanteer. Geskrewe en mondelinge kommunikasie. Afrikaans in die hart. Engels in die brein

Nie so nie ·

Neewat my seun is ‘n ingenieur en het ook in Engels geswot op TUKS en was op Affies . Dit gaan seker maar oor jou intelligensie.

Goofy ·

Ek stem saam met Stokkies. Dis is in my opinie absoluut stupid om aan te dring om in Afrikaans geskool te word, terwyl die meeste van die handboeke op universiteit in Engels is. Dit neem kosbare studie tyd op om die handboeke te vertaal en dan moet jy nog boonop onthou wat die Engelse terme is, sodat jy later in die besigheids wêreld, weet waarvan daar gepraat word. Of ons dit nou wil weet of nie, Engels is die amptelike voertaal waarin daar besigheid gedoen word. So, hoekom jou tyd mors om alles te vertaal, as jy in elk geval in Engels moet kommunikeer wanneer jy jou graad gevang het en begin werk?

Fanie ·

Vir intelligente studente sal dit nie ‘n nagmerrie wees nie.

Arak ·

@Stokkies,
Daar is natuurlik die teenargument dat as jy die vak in engels sou antwoord sou die “onderwyser” ook “engels” moes wees om jou vraestel te merk. Met Afrikaans is jy meer seker oor wie jou vraestelle merk. Ek het dit eerstehands gesien by Unisa; die “engelse” antwoorde op die wiskundige werkstukke was totaal verkeerd, terwyl die Afrikaanse antwoorde en bewyse klokslag reg was. Verder wil ek net opmerk oor die werk storie, ek weet van talle Afrikaanse mense wat tans in Europa, en nou praat ek van die Germaanse dele soos Duitsland en Nederland werk, juis omdat hulle Afrikaans magtig is en die tale maklik kan optel/verstaan.

jankoos ·

Nie so……wag tot jou seun net in xhosa mag praat ,lees,en skryf dan praat ons weer

Michelle ·

Nee wat, ek was in Afrikaanse skool, na Afrikaanse universiteit en het nog nooit probleme met werk kommunikasie gehad nie (en nee, Engelse handboeke was nie noodwendig vertaal nie). Ons het projekte wat in Afrikaans hanteer word sowel as Engels. Daar is wel seker dokumente wat altyd slegs Engels sal wees maar ek het nog nooit probleme gehad nie. Ons het projekte suksesvol hanteer met mense vanaf UK, Rusland, Kanada, Botswana, Italië, SA ens.
Sorg net dat jou kinders minstens tweetalig is. En moedig lees aan. Vir die rekord lees beide my kinders graag boek (harde kopie).

Wila ·

Dis die hele doel van dit, dat ons handoek sal ingooi en ter wille van ‘n ‘toekoms’ Afrikaans sal laat staan en maar Engels word. Ek was in ‘n Afrikaanse skool en dit heeltemal gemaklik vir my om Engelse universiteitsboeke te gebruik. Bly ek was nie in ‘n Engelse skool nie, dis jou vormingsjare, wil tussen my eie mense grootword.

Braam Stander ·

Nee. Behalwe ander bewyse: Beide my kinders het in Afrikaans skoolgegaan en ons as ouers het ‘n stewige moedertaalfondament gelê. (TV en Engels lees het vir hul Engels gesorg.) Dis bewys dat moedertaal die beste taal van leer op skool is. Albei het suksesvol nagraads studeer (een in die rekeningkundeveld,
die ander P.hd. in Ingenieurswese en wat senior lektor is, wat talle konferensies oorsee bywoon). As oudonderwyser kan ek dit ook beaam dat moedertaalonderrig op skool die kind se fondament, selfvertroue en selfbeeld versterk. Daar is te veel Afrikaanse kinders wat deur ouers gedwing word om skoolonderrig in Engels te ontvang. Hul skoolprestasie bewys dit. As Afrikaansonderwyser vir talle kon mens hul jammer kry. Feit is, met ‘n goedontwikkelde selfbeeld op skoolvlak en ouers wat hul plig tuis doen, kán jongmense suksesvol tersiêr studeer (al is sommige handboeke in Engels).
Ewenwel: Vir slordige vertaalwerk in vraestelle kan daar egter géén verskoning wees nie.

Theresa ·

Mens kry snuf in die neus.
Of ruik mens ‘n rot?
Hier wil mens nie aan die neus gelei word nie.

EP ·

Absoluut onaanvaarbaar!! Wys ‘ mens net in watter toestand die onderwyssisteem is.

RIPPIE ·

dis hoekom julle julle kinders uit die STAATSISTEEM moet uitkry .. dit gaan erger word ..

jaco ·

selfs met al hierdie foute in die vraestelle, sal dit steeds verspot maklik wees, want dis mos deesdae ‘n skending van menseregte om leerders te laat druip. Geskiedenis was my sterk vak op skool in die ou SA. Ek moes bitterlik hard leer NET om deur te kom. Vir goeie punte met A- of B-simbole moes ek nog meer “effort” insit.
Maar ek het onlangs in konsep Geskiedenis vraestel gesien wat deesdae gebruik word. ek was verbaas oor hoe maklik dit was. ek kon alles sommer so net daar beantwoord, selfs die langvrae.
Hierbo word verwys na “leerders verkeer onder geweldige druk”. Ek wonder hoe waar dit is. kom kyk net na die meestal wit matrieks in my kerk nogal: rook, drink, party en pret en plesier kom eerste. akademie is heel onderaan die lys. en dit help nie om hulle aan te spreek nie, hulle sê vining hulle “regte” word geskend as hulle oor “nonsens” aangespreek word en hulle sê self hoe maklik hulle skoolwerk is. ouers se hande ook afgekap, want sekere tradisionele vorms van dissiplinering (met die plathand of die rottang) is mos ook deesdae onwettig en ‘n skending van “menseregte”
En dit alles, liewe mede-maroelalesers, is van WIT kinders wat ek skryf. Dit gaan nou al so sleg. Die hartseer en die drama van na skool nerens kom nie weens regstellende aksie lê nog voor…

Leah ·

Jaco, moenie alle kinders oor dieselfde kam skeer nie! My jongste kind is in matriek en die oudste ‘n derde jaar medies student en in die top 3 van sy jaar. Ek kan jou verseker my kinders (en al hulle maats) werk baie hard en sit ure in hul akademie. Buiten dit neem hulle deel aan sport, sing koor, doen debat en engelse public speaking en is leiers in hul skool. Verder doen hulle gemeenskapsdiens en is betrokke by hul kerke. Hulle is/was in ‘n afrikaanse staatskool met uitstekende onderwysers wat uit hulle pad gaan om die kinders te help. Die standaard is van hoë gehalte – hulle leer goed op skool wat ons eers op varsity geleer het (hulle het nie geskiedenis nie). As hulle oor ‘n naweek met hul vriende wil kuier, maak dit nie van hulle vrot appels nie. Oordeel oor die paar kinders wat jy ken en moenie veralgemeen nie. Daar is werklik oulike kinders met goeie maniere daarbuite.

Bekommerde Suid-Afrikaner. ·

Dit is net nog ń manier om tale te onderdruk.
Ons het baie hard geleer en dit was ook nie maklik nie.
Maar vandag se goed wat die kinders moet leer is nog erger, hulle kan nie deur ouers alleen gehelp word, want nie ouers ken ook nie die goed nie.
So bo en behalwe duur skoolgeld moet baie kinders nog ekstra klasse ook kry, om hilp te vra in baie klasse is ook deesdae taboe inelkgeval.
En dan nou só tamaletjie in eksamens.
Onderwys is nie meer die passie wat dit was nie.
Kan nie glo dit was net so deurgestuur, sonder dat iemand dit kon optel voor dit by die leerlinge gepak is om te skryf nie.
Ons land is so vinnig besig om agteruit te gaan, dat dit vir sommiges lyk of ons voor is.
Ons moet maar net harder bid dat iewers iets sal regkom.
Groete
Net nog ń bekommerde Suid-Afrikaner.

Knapie ·

Die beste van alles?? – Elemente se afkortings is universeel dieslefde. Maak nie saak wat die taal nie… Hierdie is nie n vertaal fout nie.

Johan Neuteman ·

Ek wil nou nie met Hugo Vermeulen baklei nie, maar noudat Knapie dit noem: dis nie heeltemaal so lekker wetenskaplik korrekte opmerking dat hier ‘n vertaalfout is nie – dit is ‘n onnosel prosesfout van iemand wat nie gekyk het dat iets soos die periodieke tabel nie deur die vertaalprogram gestoot moes gewees het nie.

Miana Lange ·

Wil net ‘n regstelling maak. Fisiese Wetenskap bestaan steeds en is ‘n vak op sy eie. Net soos Tegniese Wetenskap ‘n vak op sy eie is. Tegniese Wetenskap is vir die leerders wat tegniese vakke neem

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Miana

Baie dankie vir jou kommentaar.
‘n Leser het op Maroela Media se Facebookbladsy dieselfde inligting met ons gedeel en die berig is in die tussentyd gewysig.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

andre ·

nie so nie…ingenieur….boek kennis…sien hul baie…graad geleerd uit n boek…maar prakties stupid…en onhandig….

JP ·

My kleinseun was van graad een tot 12 in Afrikaanse skool. Swot tans medies op Maties in Engels en is een van die topstudente. Gaan nagraads op Oxford studeer. Stem saam met Nie So Nie. Afrikaans al die pad. Stuur Engelse skool toe en speel in die hande van Regering

Ekook ·

Ek stem saam met al die pro-Afrikaanse antwoorde hier. Ek is ‘n dosent aan TUKS. Die Afrikaanse skole se produkte staan geensins terug vir die Engelse (of meesal pseudo-Engelse) produkte nie. Inteendeel, hulle kom by my telkens voor in die toppresteerdergroep (selfs al is hulle deesdae in die minderheid). Gegewe, ek is dosent van ‘n keuringskursus en die Afrikaanses wat by ons gekeur word, is natuurlik die room omdat hulle die top-TPT tellinghouers moet wees om in te kom.
Maar hulle kan!

Anel ·

Sodra Engeland uit die EU is gaan die voertaal ook verander. So, die wat in engels wil leer gaan maar beperkte plekke hê om by te gaan leer. Die voertaal in EU gaan dan Frans wees. Ek sê nog altyd, weg met engels, die taal van die onderdrukker!!

Ella ·

Dit tegniese wiskunde en tegniese wetenskap wat die jaar vir die gr 12’s aangebied word, is ongelooflike moeilik! Almal trap klei want daar is nie hulpmiddels vir die leerders beskikbaar nie en hulle word die proefkonyne van 2018! Geen vorige vraestelle of notas is beskikbaar nie en almal trek net hulle skouers op! Tegniese leerders is meer handvaardig en fokus meer op tegniese vaardighede, dis hoekom hulle in tegniese skole is. Hulle moet meer op praktiese ondersoeke en -opdragte punte verdien. Dis nie altyd dat jou tegniese leerder akademies ook sterk is nie!

Wetenskaplike ·

Maar jy hoef nie te kan vertaal om die afkortings van elemente reg te kry nie! Dit is dieselfte in enige taal! Ek vermoed iemand het letterlik die hele vraestel in Google Translate ingevoer en so sy salaris vir die dag verdien.

Deon ·

Ekt vir daai kinders slegte nuus as hulle deur Unisa wil gaan swot na skool. Behalwe dat niks meer Afrikaans is is die take en vraestelle maar partykeer net so treurig.

thinus ·

Stokkies, die keuse is: moet Afrikaans voortbestaan in eie reg, of gaan die taal vou omdat ons mense dit laat uitsterf ter wille van “ons kinders” se wereld aanneemlikheid.
My kinders is Afrikaans en hulle is trots en bly daaroor – ek glo hul sal goed in ‘n Engelse, of enige ander taal kan aanpas maar hulle sal altyd Afrikaans bly. Seker sal hulle ook hul kinders Afrikaans wil grootmaak, en ek sal aanhou dinges en betaal om dit so te hou.

David ·

Behalwe vir die uitspraak van die elemente, is die simbole presies dieselfde in enige taal bv. H vir Waterstof/Hydrogen (Afr/Eng).

Hoe, vra ek, kry ‘n mens dit reg om so ‘n ‘fout’ met die vertaling te maak?

Leonard van der Dussen ·

Dis hoogs onwaarskynlikheid dat ‘n regering wat nie paaie, medies, veiligheid, ens ens kan regkry nie, onderwys gaan regkry. Al die verontwaardiging en kritiek in die wêreld gaan nie help nie: as ons Afrikaanse onderwys wil voortsit, moet ons self daarvoor verantwoordelikheid neem. Die wetgewing maak onafhanklike onderwys moeilik, maar dit moet dan in parallel met die “amptelike” onderwys gevorm en ingefaseer word. Help nie om in die moeras van staatsonderwys te bly ploeter sonder ‘n daadwerklike alternatief nie.

Ingrid Snyman ·

Geen werklike onderwyser wat opgelei is en Afrikaans magtig is sal so ‘n vraestel laat deurgaan nie. Wie het dit gemodereer? Wie het dit finaal goedgekeur? In ander vakke waar leerders Afrikaans is word daar ook probleme ervaar – selfs met merk en modereer aan die einde van matriek. Die probleme word by die Departement van onderwys aangemeld maar geignoreer.

Carmen ·

Dit is baie swak, maar ook onverstaanbaar. ‘n Periodieke tabel word nie vertaal nie, die simbole is internasionaal dieselfde. Die persoon wat die vertaling aangepak het, het dus absoluut geen kennis van wetenskap verder as Gr.7 vlak nie, want dis wanneer kinders leer dat die simbole nasionaal is.

Antjie ·

Kundigheid? Watter vlak van kundigheid word vereis? Die elemente kon ek reeds almal akkuraat skryf op hoërskool, met hoofletters in afkortings. Die gemiddelde laerskoolkind weet deesdae hoe om outomatiese spelkorreksie af te skakel en tabelle se selgroottes almal ewe groot te maak. Enigiemand wat ʼn duit omgegee het sou dadelik besef het hier kort bloot bietjie aandag om reg te maak. Maar, die Departement gee nou al min genoeg vir Afrikaanse kinders se toekomste om om sulke flaters sommernet toe te kon laat! Sies!

Dienks ·

Ons het bv in Wisk ‘n vraag gehad wat gelees het, in Engels, number of trees…Afrikaans vertaal na… “nommer van bome”??? Regtig!?

Ronelle ·

En nóg iemand het kamtig die vraestel gemodereer en ‘afgeteken’ en ook ‘n klomp geld verdien. Byna soos KPMG en VBS Bank…

Paula ·

Is seker maar elkeen soos hy wil maar my lojaliteit aan wie ek is beinvloed my opinie. Ek was ook in ‘n Afrikaanse skool en ja ons het dalk effense agterstand met Engelse vakboeke op Universiteit maar jy pas aan….som jou werk op en beantw vraestel in Engels /Afr. (vanselfsprekend is Taalvakke iets heel anders). Daar is in vandag se tyd oorgenoeg blootstelling aan Engels op sosiale media, vriende, bure ens. wat help om jouself te kan handhaaf in Engels in werksplek of waar ook al. So …. lank lewe Afrikaans en lank lewe onderrig in Moedertaal!

Bekommerde ·

So faal die kamstige grootmense alweer die jeug van Suid Afrika.
Gaan niemand meer die vraestelle deur om te verseker alles is reg nie.
Waar is die trots vir jou werk.
Lyk my die kinders leer: ‘Jy kan maar knoei solank jy nie uitgevang word nie’
ONAANVAARBAAR.

Johan last ·

Van wanneer af kry die leerders dan hulp middels tydens eksamen? Toe ek op skool was moes ons die dinge geweet het – dit is hoekom hulle ons laat toetse skryf het, om seker te maak ons weet dit. Ons het die engelse weergawe van die periodieke tabel geleer, gememoriseer en geken. Daar is baie formules wat ons uit ons koppe moes geken het (wiskunde, wetenskap, chemiese wetenskap, elektronika, tegniese tekene. Daar was nie papiere met formules vir ons gegee tydens eksamens nie. Geen wonder die kinders sukkel so op skool nie, hulle moet alles met die lepel gevoer word en as daar dan iets fout gaan sooos hier bo, dan is hulle gestrem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.