Syfers ʼn bewys van Cele se mislukking, sê DA

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die vrystelling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, DNS-raad en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) se jaarverslae vir 2022 skets ʼn droewige prentjie van Suid-Afrika se misdaadstatistieke en polisieminister Bheki Cele se onvermoë om misdaad hok te slaan.

“Suid-Afrikaners leef daagliks in vrees en dit is geregverdig, gegewe inligting uit die verslag dat die polisiediens die afgelope jaar 5 946 beamptes verloor het, insluitend 972 speurders,” sê Okkie Terblanche, die DA se skaduminister van polisie.

Die verlies aan mannekrag is ook duidelik te sien in die toename in misdaad in vergelyking met die 2020/21- jaarlikse verslag:

  • 5 300 meer moorde (26,6%)
  • 6 626 meer seksuele oortredings (14,2%)
  • 5 558 meer verkragting (15,2%)
  • 4 152 meer kapings (24,7%)
  • 342 meer transitorooftogte
  • 8 570 meer kontakmisdade wat by die top-30-polisiestasies aangemeld is (11,1%)

“Hierdie toename van misdade is nóg ʼn bewys dat Bheki Cele nie bevoeg is in die amp van polisieminister nie. As pres. Ramaphosa nog oor die veiligheid van Suid-Afrikaners besorg is, is die logiese stap om hom af te dank.”

Terwyl misdaad toegeneem het, het Cele seker gemaak dat sy begroting vir BBP-kaderbeskerming en veiligheidsdienste word verhoog van R3,26 miljard in 2021 tot R3,48 miljard. “Dit lyk of die minister heeltemal uit voeling is van die misdaadvlaag wat Suid-Afrika teister.”

Ondanks die minister se belofte om die agterstand in te haal van DNS-toetse, was daar teen die jaareinde steeds 154 204 monsters wat getoets moet word. Slegs 2% van alle monsters, wat ingesamel word, word binne 30 dae geprosesseer. Dit vertraag geregtigheid vir die slagoffers, sê Terblanche.

“Nóg ʼn onthulling is dat 5 295 gevalle deur Opod ondersoek word vir wangedrag deur polisiebeamptes. Dit sluit in sterfgevalle, verkragting en aanrandings. Daar is tans 13 262 aktiewe siviele sake teen die polisie wat moontlik R67,6 miljard vergoeding kan beloop. SAPD-lede moet bekwaam gemaak word en daar moet baie streng keuringsprosesse wees om wangedrag hok te slaan.”

Terblanche sê dié jaarverslae is die spyker in Cele se doodskis en “die duidelikste teken dat die sentralisasie van die polisie nie werk nie”. “Die DA benadruk sy versoek dat polisiemagte afgewentel word na die provinsies sodat polisiedienste hul misdaadbekampingsbeleide kan aanpas volgens hul spesifieke behoeftes en prioriteite, kragtens artikel 206 van die Grondwet.”

Die DA-geleide Wes-Kaapse regering poog om misdaad te bekamp deur beamptes van die Program vir die Bevordering van Wetstoepassing (Leap) te ontplooi in gebiede met hoë misdaad. “Hierdie beamptes maak steeds ʼn beduidende verskil om misdaad te takel en geweld te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Cele is n mislukking verby maar Ramaphosa klou aan hom. Die man het nie die verstand of kennis om die pos te beklee nie.

SjN ·

Voeg verleentheid en onbevoeg ook by die opskrif van die berig.

Marelize ·

Ja nou weet almal hy kan nie sy werk doen nie, maar wat gaan daar omtrent gedoen word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.