Taksvoordeel vir ouers van gestremde kinders in gedrang

Ouers van gestremde kinders betaal selfs vyf keer meer aan skoolgeld as die meeste ander ouers. (Foto: Unsplash)

Daar was vandeesweek tydelike verligting vir ouers van gestremde kinders nadat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vroeër aangekondig het dat hy sommige van hul belastingvoordele ingevolge ʼn wysiging aan belastingwetgewing moontlik gaan skrap.

Die inkomstediens het op 21 Mei die voorgestelde wysigings vir openbare kommentaar oopgestel en belanghebbendes tien dae gegun om hul insette daaroor te lewer. Kommentaar het Maandag gesluit.

Ingevolge een van die mees ingrypende voorstelle word aanbeveel dat die ouers van kinders met gestremdhede en spesiale opvoedkundige behoeftes nie meer belastingkrediete ontvang vir die bykomende skoolgeld wat hulle moet opdok in vergelyking met die bedrag wat hulle by die naaste openbare hoofstroomskool sou betaal nie.

Dít terwyl ouers reeds heelwat duurder betaal vir skole vir kinders met spesiale leerbehoeftes en hulp vanaf die regering so skaars soos hoendertande is.

Die SAID het wel vandeesweek aangekondig dat die proses gestaak word hangende verdere insette.

“Om meer tyd te gun vir beraadslaging met aandeelhouers, om die bedoeling daarmee te verduidelik en ʼn begrip te kry van die kommer wat geopper is, is die besluit geneem om die konsep-gestremdheidslys te onttrek,” lui ʼn verklaring van die SAID.

Ouers meen egter die stryd is nog lank nie gewonne nie en die SAID sê self dat ʼn nuwe lys bekend gestel kan word sodra dié proses afgehandel is.

Spesiale onderwys reeds duurder

Daar is baie min staatskole vir kinders met spesiale behoeftes en ouers het soms geen ander keuse as om hulle tot private onderrig te wend nie. (Foto: Unsplash)

Dr. Helena Kruger-Roux van Pretoria is die ma van ʼn 13-jarige seun met outisme. Die gesin is ʼn enkelinkomste-huishouding en elke sent tel. Indien die belastingvoordeel wegval, sê Kruger-Roux, gaan dit haar tussen R20 000 en R25 000 per jaar méér kos om haar seun se onderrig voort te sit.

Kruger-Roux het ná die oopstel van openbare kommentaar oor die wysigings ʼn petisie van stapel gestuur – wat byna 12 000 keer onderteken is – om die SAID tot ander insigte te probeer bring. Sy het vandeesweek die tydelike opskort van die proses verwelkom, maar sê daar is geen waarborg dat dit nie later weer hervat kan word nie.

Kruger-Roux sê sy betaal sowat R70 000 per jaar in skoolgeld by ʼn privaat skool vir kinders met spesiale behoeftes. Dié skool is nagenoeg 10 km verder as die naaste gewone staatskool waar die skoolgeld sowat R22 000 per jaar beloop.

Kruger-Roux sê verder dat die SAID se jongste verklaring nie werklik dui op ʼn terugkeer na die 2012-regulasies wat nog tot in die 2020-belastingseisoen toegepas is nie. Volgens die 2012-regulasies kon ouers die verskil in skoolgeld tussen die naaste openbare hoofstroomskool en hul kind se privaat spesiale skool as ʼn belastingkrediet kry.

Die spesiale privaat skole ontvang boonop geen regeringsteun in die vorm van infrastruktuur of onderwysersalarisse nie. (Foto: Maroela Media)

Die SAID het egter deur die loop van 2020 hierdie regulasie sonder deeglike openbare oorlegpleging eensydig verander sodat die privaat spesiale skool se fooie nou met die naaste privaat hoofstroomskool vergelyk moet word. In die Kruger-Roux-geval beloop die skoolgeld by hul naaste privaat hoofstroomskool sowat R220 000 per jaar, teenoor die privaat spesiale skool se ongeveer R70 000 per jaar.

Sy sê om ingevolge bestaande bepalings vir ʼn belastingkrediet te kwalifiseer, moet ouers ʼn vorm indien wat deur ʼn spesialis- mediese praktisyn voltooi is en wat aanbeveel dat spesiale onderwys ʼn noodsaaklike gedeelte van die kind se behandeling is.

“Ten spyte hiervan stel die SAID voor dat die enigste staatsbydrae wat hierdie ouers ontvang, ʼn belastingkrediet, geskrap of sodanig gewysig word dat dit geen verskil vir laer- of middelinkomstegroepe maak nie,” sê sy.

Kruger-Roux sê kinders met gestremdhede is van die mees onderbediende kinders deur die regering. Daar is min staatskole vir kinders met spesiale behoeftes en die waglyste is lank. Omdat daar so min staatskole is, het ouers gewoonlik geen ander keuse as om ʼn kind ten duurste by ʼn privaat skool in te skryf nie.

Ouers moet dikwels ook ver ry na ʼn skool wat voorsiening maak vir kinders met spesiale behoeftes – nog ʼn kwessie wat as diskriminerend bestempel word. Omdat klein klasse ʼn uiters belangrike rol speel by kinders met spesiale behoeftes, word die skoolgeld verder opgejaag. En al word ouers van kinders met spesiale behoeftes nes enige ander ma en pa belas, is die voordeel wat hulle uit die staatskas vir hul kinders ontvang, beduidend minder.

Die spesiale privaat skole ontvang boonop geen regeringsteun in die vorm van infrastruktuur of onderwysersalarisse nie.

Kruger-Roux sê die SAID betwyfel dit of almal wat aansoek doen om die belastingkrediet, se kinders die spesiale sorg werklik benodig. Dit is moontlik die rede vir die voorgestelde wysigings. Sy sê pleks daarvan om op die kansvatters te fokus, kan almal nou hul voordeel verloor.

Klap in die gesig

Spesiale privaat skole ontvang boonop geen regeringsteun in die vorm van infrastruktuur of onderwysersalarisse nie. (Foto: Unsplash)

Johan Labuschagne is ʼn apteker op George in die Wes-Kaap. Hy en sy vrou, Tania, het ʼn 12-jarige seun met spraakapraksie. Kortweg beteken dit sy brein kry nie die spierbewegings by sy tong uit om woorde te kan sê nie. Hy verstaan alles en weet wat hy wil terugsê, maar het bloot nie die vermoë nie en het die woordeskat van ʼn driejarige.

Sy groot motoriese vaardighede is uitstekend, maar nie sy fyn motoriese ontwikkeling nie. Dit beteken hy kan nie ʼn mondelinge toets aflê nie en hoewel hy kan lees, sukkel die jong man om te skryf.

Die gesin se naaste openbare skool vir kinders met spesiale behoeftes is 400 km ver en hul seun woon ʼn privaat leersentrum op Hartenbos by. Skoolgeld hier beloop sowat R4 600 per maand – amper vyf keer meer as wat die skoolfonds vir kinders in dié omgewing by ʼn hoofstroomskool beloop.

“Jy sien heeltyd geld wat uitgedeel word aan Sassa-begunstigdes, maar ons wat ons bes doen en alles gee om ons kind selfstandig te maak, word selfs verder onderdruk,” sê Labuschagne.

“Jy hoor daar moet ruimte en begrip wees vir diegene met gestremdhede, maar ons moet maar self sien kom klaar tot daar,” sê hy.

Volgens Labuschagne praat die regering uit twee monde as hy sê geleenthede moet vir diegene met gestremdhede geskep word en dan dreig om een van die min voordele wat hulle het, te skrap.

“Mense moet besef watter uitdagings daar is. Afgesien van die feit dat ons elke dag vir ons kind moet skerm teen ongevoelige mense, word ons deur ons eie regering – wat ons belange op die hart moet dra – benadeel.”

Benewens die skoolgeld beloop ʼn nasorgsentrum ná skool nog amper R1 000. Die mediese fonds dek bykomende ingryping soos arbeid- en spraakterapie tot ʼn maksimum van R3 000 per jaar. Teen April is dié voordeel gewoonlik uitgeput.

“Mense moet kennis neem watter reusagtige uitwerking besluite soos dié op mense het. Dit is amper ʼn klap in die gesig.

“Dit is baie goeie nuus dat die voorstel vir eers onttrek is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tweeling ·

Ek hoop hulle het vergoed van die skrappings plan afgesien. Indien nie moet hulle hof toe gevat word. Duidelik volgens berig is daar mense wat baie afhanklik is van die voordele omdat hulle inkomste skraps is. Gestremdheid van kinders plaas ‘n ekstra las op ouers se finansies wat (ek het een so ek weet waarvan ek praat)

WLM ·

Dit is n groot probleem. Ons seun is in een van die meer bekostigbare skole en dit jaag ons R5000 pm uit die sak. Dan moet terapie nog bykom en dit is in n woonhuis, geen sport en ander voordele wat hoofstroomskole bied nie. Ons het nogsteeds dieselfde drome en hoop vir ons kinders as wat n neuro tipiese kind se ouers het, so waarom moet.ons aan die agterspeen suig. Word wakker Suid Afrika.

koos10 ·

Tipies regering. Vat weg by wie dit werklik nodig het, en dan wil hulle toelaes gee aan alle werkloses, ongeag of hulle kan werk of nie, kinders wat gebore word, ongeag hoeveel kinders alreeds in ‘n huishouding is.
Dis tyd dat almal wat toelase kry, en fisies kan werk, begin om in die staatdiens gemeenskap werk te verrig. Sny gras in openbare parke, vee strate, verf staatsgeboue ens. om die toelaes te verdien.

Anoniem ·

Dit is angswekkend dat hul die ouers van gestremdes se belastingvoordele wil inkort/wegneem.
Ek self het ‘n seun van 36 met ‘n verstand van ‘n 4 jarige. Ek het nog nooit van die belasting voordeel gebruik gemaak nie, ek het aangesukkel en voort geploeter en met God se hulp gekom waar ek vandag is. Ek weet wat dit is om ‘n gestremde kind te versorg en hulp is altyd nodig. As werkende ouer het jy altyd versorging vir jou kind nodig. Nou kom hul ook weer met die storie uit dat die gestremde kinders in hoofstroom onderwys opgeneem moet word. Hul weet nie wat hul aan die gestremdes en normale kinders doen nie! ‘n Gestremde het spesiale aandag en sorg nodig. Ongelukkig kan jy nie normale kinders met gestremdes in een klaskamer hanteer nie. Buite die kinders se optredes teen gestremdes
is van die Ouers erger as die kinders. Ek ken die pyn van afjak op my kind se gesig. Onderwys en Opvoeding moet mooi dink voor jul so ‘n besluit neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.