Talle in Pretoria weer waterloos weens Rand Water-kwessies

(Foto: Maroela Media)

Die Stad Tshwane word weer deur beduidende uitdagings in die gesig gestaar om noodsaaklike waterdienste aan inwoners van Pretoria te verskaf weens voortdurende probleme met Rand Water se watervoorsiening, het Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, Saterdag bevestig.

“Die gebrek aan kommunikasie en deursigtigheid van Rand Water se kant af oor hierdie kwessies vererger net die situasie en het inwoners van reg oor die stad in ’n toestand van onsekerheid en frustrasie gelaat.

“Ek is deeglik bewus van die wateruitdagings in sekere dele van Pretoria-Oos, insluitend dié wat deur die Carina- en Mooikloof-reservoir voorsien word.”

Volgens Fosi is dit hoofsaaklik te wyte aan Rand Water se onvermoë om water aan die stad te verskaf.

“Ons werk onvermoeid en deurlopend saam met Rand Water se tegniese span, sowel as ons interne kundiges, om oplossings te identifiseer en te implementeer sodat dié kwessies vinnig hanteer word.

“Ons primêre doelwit is om te verseker dat ons reservoirs voldoende aangevul word sodat inwoners ononderbroke toegang tot skoon en veilige water kan geniet,” sê Fosi.

Fosi voer aan dat Rand Water indirek, deur middel van ’n twiet, gesê het dat die Stad Tshwane sy waterverbruiklimiete oorskry en dat dit die hoofoorsaak van die voortslepende probleme is.

“Ons vind hierdie gebrek aan direkte kommunikasie van Rand Water se kant af kommerwekkend sowel as onaanvaarbaar.

“Dit is noodsaaklik vir ons om duidelik te maak dat die Stad Tshwane ywerig daaraan gewerk het om waterverbruik te verminder en om ons in lyn te bring met Rand Water se verwagtinge.

“Enige bewering tot die teendeel, is feitelik verkeerd,” sê Fosi.

Fosi meen Rand Water kan nie die stad blameer vir die oorskryding van waterverbruik wanneer die primêre kwessie by hul eie tegniese tekorte lê nie.

“Ons doen ’n beroep op Rand Water om reguit te wees en die sleuteloorsake van hul toevoeronderbrekings te identifiseer en aan ons te kommunikeer.

“Hulle moet saam met ons werk om stabiele en konstante watertoevoer aan die stad te verseker.

“Ons bly daartoe verbind om oplossings te vind en om in noue vennootskap met Rand Water te werk om hierdie uitdagings te pak.

“Watervoorsiening aan ons inwoners is ons hoogste prioriteit en ons sal voortgaan om opdaterings te verskaf soos die situasie ontwikkel,” sê Fosi.

Makenosi Maroo, Rand Water se woordvoerder, sê Rand Water kan bevestig dat hy ’n klagte van die munisipaliteit ontvang het oor watervoorsiening wat die Akasia-meter raak.

“Ons het reeds daaraan aandag gegee. Rand Water het Vrydag ’n tegniese span aangewys om die klagte te ondersoek waarna vasgestel is dat die druk normaal en die vloei voldoende is,” sê Maroo.

“Dit is sinvol om te noem dat die Stad Tshwane se waterverbruik aansienlik toegeneem het, en dat Rand Water die munisipaliteit aangeraai het om die verbruikspatrone in lyn met ons vereistes te bring.

“As Rand Water is ons daartoe verbind om water van ʼn hoë gehalte te verskaf en volgehoue ​​vennootskappe met al ons kliënte te verseker,” sê Maroo.

“Rand Water versoek alle verbruikers om voort te gaan om water spaarsamig te gebruik om die uitputting van stelsels te voorkom aangesien ons nou weer warm temperature begin ervaar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.