Talle rowers vas toe polisie kaping fnuik

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Altesaam 19 verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting oor ʼn beplande vragmotorkaping ontvang het. Die verdagtes wou glo ʼn vragmotor met ʼn besending selfone, ter waarde van ongeveer R60 miljoen, in Gauteng kaap. Volgens die polisie word die verdagtes boonop met ʼn rits ander misdade verbind.

ʼn Skietery het tussen die polisie en verdagtes uitgebreek, waartydens een van die verdagtes glo ʼn sewe maande oue baba gegryp het om as skild te gebruik terwyl hy wou probeer ontsnap.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het inligting ontvang dat die verdagtes in ʼn huis in die Kelvin-woonbuurt in Sandton is. Lede van die hoofwegpatrollie, tesame met die Johannesburgse misdaadintelligensie-eenheid, die metropolisie (JMPD) en die polisie se lugmag het die oggend op dié huis toegeslaan. Daar word verneem dat die verdagtes op die lede van die hoofwegpatrollie begin skiet het toe hulle die huis nader. Die polisiebeamptes het teruggeskiet.

“Altesaam 14 verdagtes, onder wie twee vroue, is by die huis in hegtenis geneem. ʼn Onbevestigde aantal verdagtes het oor die erf se mure gespring en probeer ontsnap,” sê Peters.

“Van die polisielede wat buite die huis gewag het, het die verdagtes wat probeer ontsnap het, agternagesit. Hulle het vyf van dié verdagtes op vyf verskillende tonele – wat naby die aanvanklike misdaadtoneel is – aangekeer.”

Daar is boonop tydens die ondersoek ter plaatse vasgestel dat een van die verdagtes wat probeer ontsnap het, ʼn sewe maande oue baba gegryp het om die kind moontlik as skild tydens die skietgeveg te gebruik. Die baba is intussen gevind.

ʼn Veiligheidswag en een verdagte is in die proses doodgeskiet. Geen polisiebeamptes is beseer nie.

Die polisie het op drie R5-aanvalsgewere, twee AK47-aanvalsgewere, een .303-geweer en vier pistole beslag gelê. Intussen is daar bevind dat vier van die agt voertuie waarop die polisie beslag gelê het, gekaap of gesteel was. Die polisie het ook op ʼn vragtoestel beslag gelê.

Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit met ander misdade verbind kan word.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat hierdie verdagtes ook moontlik met ʼn misdaadvoorval vroeër vanjaar verbind kan word. Die polisie het in Januarie op die verdagtes in ʼn huis in Lombardy-Oos in Johannesburg toegeslaan. Hulle was glo van plan om ʼn rooftog met twee AK47-gewere, ʼn R1-geweer en twee pistole uit te voer.

“ʼn Ondersoek deur die Valke is aan die gang, aangesien die polisie rede het om te glo dat hierdie verdagtes agter ʼn vlaag koerier- en sakerooftogte, asook vragmotorkapings sit,” het Peters gesê.

Lt.genl. Elias Mawela, die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die multidissiplinêre span se geslaagde inhegtenisnemings geloof. Hy het veral die lede van die hoofwegpatrollie uitgesonder.

“Dit is goed om te sien hoe hulle die veld ingaan en daagliks sukses behaal,” het Mawela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Phillip ·

En Die sekerietyd wag is hy nie belangrik nie . Hy het sy lewe verloor maar niks word oor hom gerep nie

Keith ·

according to doctor google translate they say it is a “truck”. lol.

Alp ·

Goed om te hoor die Polisie doen hulle werk en arresteer die kriminele.

Bolander ·

Word ‘n 303 as ‘n aanvalsgeweer geklasifiseer? Klink nie korrek nie.

ES ·

Nee, maar ek sien MM het dit gewysig en dit wys nou net .303-geweer

Di ·

My vraag is net waar kom hierdie kriminele aan al die vuurwapens? Laat mens wonder wat met al die weermag se vuurwapens gebeur het. Seker aan kriminele verkoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.