Talle SA’ners sien ‘geen probleem’ om banke te bedrieg

(Foto: William Iven/Unsplash.)

Meer as 40% van Suid-Afrikaanse verbruikers dink dis “oukei” om versekeringseise op te blaas of hul inkomste op aansoeke vir lenings te oordryf, het ʼn onlangse meningspeiling bevind.

Die peiling is deur die dataontledingsmaatskappy Fico gedoen en soveel as 14 000 mense in 14 lande, insluitend Suid-Afrika, die VSA, Kanada, Brasilië, die Verenigde Koninkryk en Duitsland, het daaraan deelgeneem.

“Terwyl die meeste deelnemers dink dat mense nooit finansiële instellings moet probeer bedrieg nie, is dit kommerwekkend dat soveel as 42% [Suid-Afrikaners] dit in sommige gevalle aanvaarbaar vind,” het Michelle Beetar, hoof van Fico se bedrywighede in Afrika, gesê.

Onderhoude is met 1 000 respondente in elk van die 14 lande gevoer, onder meer om te bepaal wat verbruikers se houding en voorkeure jeens die nagaan van bedrog deur finansiële instellings is, en watter faktore verbruikers in ag neem wanneer hulle ʼn finansiële diensverskaffer kies. Die peiling dui egter ook aan dat baie mense bereid is om self bedrog te pleeg om ʼn lening te bekom of wanneer ʼn versekeringseis ingedien word, wat die risiko van eerstepartybedrog verhoog.

“Baie Suid-Afrikaners ervaar ʼn styging in lewenskoste en mag dalk dink dat hulle hul omstandighede kan vergemaklik deur inligting in aansoeke om krediet te vervals. Hierdie tipe wanvoorstelling is egter bedrog. Finansiële instellings wat onreëlmatighede kan raaksien wat daarop dui dat inligting oordryf of wanvoorgestel word, kan positiewe aksie neem om hulself te beskerm teen verliese wat sou plaasvind wanneer die kliënt nie die terugbetalings kan bekostig nie.”

Beetar sê dié soort bedrieglike inligting kan kliënte ook benadeel en veroorsaak dat die betrokke instelling nie meer ʼn pad saam met die kliënt wil stap nie. Nietemin het die meeste mense aangedui dat suksesvolle kontroles om bedrog te voorkom, hul nommer een oorweging is wanneer hulle ʼn finansiële instelling kies.

Die peiling het verder aangedui dat amper ʼn derde (29%) van Suid-Afrikaanse verbruikers hul poging om ʼn persoonlike bankrekening oop te maak sal laat vaar, indien indentiteitskontroles te moeilik of tydrowend is. Die meeste respondente (85%) verkies biometriese data as ʼn veiligheidsopsie – soos die gebruik van vingerafdrukke.

Beetar meen finansiële instellings moet ʼn buigsame benadering volg en nie te veel hindernisse in wettige kliënte se pad plaas nie, maar terselfdetyd ook nie hul kontroles verswak om bedrog te voorkom nie.

Altesaam 7,2% van die Suid-Afrikaners wat deelgeneem het, sê hul identiteit is al gesteel en dan gebruik om ʼn finansiële rekening oop te maak. Dié persentasie sou op sowat 2,7 miljoen mense neerkom. Dit dui ook op ʼn toename van 2,6% vergeleke die peiling wat in 2020 deur Fico gedoen is.

“Met byna ʼn kwart van Suid-Afrikaanse respondente wat voel dit is moontlik of waarskynlik dat hulle die slagoffers van identiteitsdiefstal was, het finansiële instellings ʼn belangrike rol om te speel in die vestiging van vertroue,” het Beetar gesê.  “Instellings wat goeie praktyke kan demonstreer wat bedrieërs en geldwassers verhoed om rekeninge op te maak, kan hul reputasie verbeter.”

Sien die volledige peiling hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

George ·

en dan kan julle nie terug betaal nie, dan is dit weer die banke se geldgurigheid, verbeel my daars baie mense in die bootjie op die oomlik.

Alida ·

Basiese oneerlikheid en wetsongehoorsaamheid is ‘n groot probleem in ons land. Dit is hoekom dit so sleg gaan hier en soveel beter gaan in in Europa, Daar kom mense reëls en wette na sonder dat iemand oor hulle skouer loer of hulle moet dreig.

George ·

Presies. In SA kla die mense oor die president en korrupsie, maar koop polisieman om of lieg op dokumente. Daar’s mos vlakke van oneerlikheid en wat toelaatbare oneerlikheid is in SA.

Kobus ·

Versekeringseise manupileer is dalk ‘n moontlikheid maar banke verifieer die inkomste soos aangedui. Indien inkomste nie met salarisstrokies en of banksstate klop nie aanvaar banke nie die inkomste nie. Die opname is blykbaar nie akkuraat nie

Pierre ·

dan moet SARS maar aanklop vir so paar extra randjies siende hulle oordryf by banke en SARS sekerlik kort sny ook

SjN ·

Die payslip van die aansoeker is korrek maar n deel tjo tjo geld word terug betaal na die kader wat die aanstelling gedoen het.

Antonk ·

N mens kan meer verloor as jy iemand anders of instansies inloop,want dit kom altyd weer terug na jou.

George ·

Kan ook nie die ANC blameer vir mense se besluite nie. Dan kan hul se, hul het geleer by die ou regerig, hul was net so korrup.

VaalDonkie ·

Banke bedrieg jou net so lekker. Het jy geweet as jy en jou vrou saam ‘n huis koop en een van julle twee sterf, dan moet die oorlewende van vooraf ‘n lening aangaan en oordragskostes betaal? Hoekom? Jy’t dan lewensversekering wat veronderstel is om dit te dek.

Vrijburger ·

Een van die redes waarom ek ‘Proudly “not” South African’ is.

Anton ·

Hulle behoort eerder die finansiële installing te vra hoe hulle voel om die kliente te bedrieg. Een van die dae gaan die banke ‘n fooi vra om die sypaadjies voor hulle kitsbanke te gebruik

Lillian ·

Wat? Nog nooit in my lewe aan soiets gedink eers nie. Ek glo buitendien, sulke goed kom terug om jou aan die gat te byt!

Pieter ·

Dis soos een dief wat kla oor die ander. Suif Afrikaanse banke het mooi geleer by hulle internasionale ewe kniee. Is dit nie dieselfde groepe wat wisselkoerse manupileer, dat verbruikers goedere duurder word nie? Leen geld uit, waar hulle nie eens die geld fisies het nie. Werk rentes verkeerd uit. Le beslag op huis en verkoop dit dan teen ‘n appel en ui, aan ‘n derde party, wat ook in hulle sak is. Vele voorbeelde bestaan. So die berig verbaas my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.