Teleurstelling, frustrasie oor ondersoek sloer na dominee se moord

Ds. Liezel de Jager (Foto: Twitter)

Die drukgroep Action Society gaan ander opsies oorweeg om die polisie te kry om vordering te maak in die ondersoek na die moord op ds. Liezel de Jager.

“Dit is ʼn eenvoudige ondersoek, maar daar is ʼn klomp goed wat net nie gebeur nie,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society. De Jager is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

“Ek het self al 43 of 44 interaksies met die polisie oor die saak gehad, maar kry net niks uitgerig nie,” sê Cameron. “As hulle antwoord beloof hulle om terug te kom of as daar gereël word om te ontmoet daag hulle net nie op nie.”

Volgens Cameron het ʼn ondersoeker wat deur Action Society aangestel is, hulp aangebied met die forensiese aspekte van die saak, om verklarings af te neem of selfs om vervoer te verskaf indien nodig, maar sonder sukses.

“Die hele saak is pateties hanteer. Meeste van die tyd kry ons baie goeie samewerking met die polisie op grondvlak, maar in dié geval net mooi niks nie. Daar word beloftes gemaak, maar daar gebeur niks verder nie. Dit is bitter bitter frustrerend.”

Liezel se pa, Henk van Zyl, het Action Society in Oktober verlede jaar, ʼn jaar ná die moord op De Jager, opdrag gegee om die saak op te volg en te monitor.

Volgens Cameron het Action Society en Van Zyl al op provinsiale en nasionale vlak met die polisie kontak gemaak, maar is daar steeds geen terugvoer nie. Van Zyl het self al ook by die 90 pogings aangewend om met die polisie kontak te maak, maar ook sonder sukses.

Met die laaste terugvoer wat Action Society in Desember gekry het, was verskeie dele van die forensiese ondersoek nog nie afgehandel nie, was die lykskouingsverslag nog uitstaande en is daar nog gewag op die analise van digitale toestelle waarop daar beslag gelê is.

Die moord op De Jager het skokgolwe deur die land gestuur. Niks van De Jager se besittings is tydens die moord gesteel nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Maroela Media het destyds berig De Jager se man, Werner, het kort ná die moord verdwyn. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo‑Suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.