Tembisa-hospitaalskandaal: Huis, kantore deursoek vir bewyse

(Foto: Facebook/Tembisa Hospital – TPTH)

Die Valke se ondersoekspan vir ernstige korrupsie het Woensdagoggend gelyktydige soek- en beslagleggingsoperasies by ʼn huis in Bedfordview en kantore in onderskeidelik Germiston en Edenvale uitgevoer.

Die operasies vorm deel van die voortslepende ondersoek wat die fluitjieblaser Babita Deokaran haar lewe gekos het.

Die Valke het Woensdag beslag gelê op verskeie elektroniese toestelle en dokumentêre bewyse vir verdere ondersoek. Niemand is nog in hierdie stadium in hegtenis geneem nie. Die operasie is ʼn opvolg van die een wat in Desember verlede jaar op die Tembisa-hospitaal se perseel uitgevoer is.

Deokaran was die departement van gesondheid se waarnemende finansiële hoof toe sy op 23 Augustus 2021 buite haar huis in die suide van Johannesburg doodgeskiet is nadat sy haar dogter by die skool gaan aflaai het.

“Die beweerde tenderbedrog by die Tembisa-hospitaal het daartoe gelei dat ongeveer een miljard rand van die Gautengse departement van gesondheid gestroop is,” sê kapt. Lloyd Ramovha, polisiewoordvoerder van die Valke in Gauteng.

Luidens ʼn verslag wat in Desember verlede jaar deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) uitgereik is, is bedrieglike betalings van R850 miljoen deur middel van onreëlmatige kontrakte aan 227 maatskappye gemaak.

Deokaran het ten tyde van haar moord reeds profiele van 224 van die maatskappye opgestel en in ʼn forensiese verslag van haar eie vervat.

Volgens die verslag behoort die maatskappye aan vier sakelui, onder wie Stefan Govindraju, wat as die hoofbegunstigde van die onreëlmatige verkrygingspraktyke by die Tembisa-hospitaal geïdentifiseer is.

“Hierdie individue en entiteite vorm nou deel van ʼn voortdurende ondersoek na verskeie bewerings wat verband hou met bedrog by die hospitaal,” sê Ramovha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.