Theuns Jordaan se pa sterf

Willie Jordaan het in die ouderdom van 82 gesterf. (Foto: Jacques du Plessis/Facebook)

Medelye stroom in op sosiale media nadat Willie Jordaan, pa van die ontslape sanger Theuns Jordaan, Sondag in die ouderdom van 82 oorlede is.

Willie, oftewel Oom Willie soos hy onder Theuns se aanhangers bekendgestaan het, se afsterwe kom ʼn dag nadat daar ʼn huldeblykkonsert vir Theuns in Kaapstad gehou is.

Kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Jay du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Juanita du Plessis was Saterdag by dié konsert te sien.

“Rus sag my oom Willie ‘Oupa’. Nou is jy tuis [sic],” lui ʼn huldeblyk wat Jacques du Plessis, sanger en familievriend van die Jordaan-gesin, op sosiale media gelewer het.

Sangers soos Jakkie Louw en Steve Hofmeyr het ook huldeblykboodskappe op sosiale media gedeel.

“Presies 24 uur ná die konsert, is Theuns se pa, oom Willie, ook oorlede. Ek is so jammer om dit te hoor, Linda [Theuns se sussie],” lui Steve se boodskap op Facebook.

Theuns het op 17 November 2021 sy stryd teen leukemie verloor. Hy is in 2022 amptelik in die Suid-Afrikaanse Heldesaal (Hall of Fame) ingehuldig en ook met ʼn roerende huldeblykkonsert by Loftus Versfeld vereer.

Theuns se trefferlied “Vreemde stad” is ook verlede jaar in die FAK-liedjietuin gehuldig.

Jacques du Plessis, Willie Jordaan en dr. Danie Langner. (Foto: Theuns Jordaan Tribute/Facebook)

“Theuns was … is my seun. My trots. My verlange. Hierdie is ʼn geweldige eer,” het Willie tydens die bekendstelling van Theuns se liedjiebord aan Maroela Media gesê.

Dié woorde het ook tydens die reuse-huldeblykkonsert weerklink toe Willie ʼn toekenning van dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Demorne ·

Theuns verjaar die 10de Januarie, Nou gaan hy en sy pa saam maketi hou in die hemeltuin. Rus sag by Jesus se voete

Wit Leeu ·

Ai tog, so hartseer ! Rus in vrede my liewe oom Willie ! Julle is nou almal weer bymekaar ! In die hemel !

Sonblom ·

Rus in vrede oom Willie. Nou kan Oom langs Theuns sit en luister hoe hy sing. Innige simpatie aan die familie en vriende.

OU SAAR ·

So het ons almal ons tyd hier op aarde. Niemand weet wanneer sy tyd gaan aanbreek om die tydelike met die ewige te verwissel nie.
Rus in vrede oom Willie.
Alle sterkte vir die familie en vriende wat agter bly. Ons gebede met julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.