Tiener op Kaapse Vlakte gee daagliks kos aan 450 mense

Ayesha en haar sussie, Toufiekah Roode (Foto: Ayesha Roode via ANA)

ʼn Matrikulant van die Kaapse Vlakte in Kaapstad het die harte van haar gemeenskap gesteel vir wie sy daagliks kos gee. Meer as 450 mense is deel van dié voedingskema.

Ayesha Roode (17), ʼn matrikulant van Alexander Sinton Secondary School in Athlone, het die omstandighede in haar Bonteheuwel-gemeenskap raakgesien en was vasbeslote om ʼn verandering te maak.

Sy het saam met haar sussie, Toufiekah (20), in hul erf in Juniperstraat gesit toe sy die behoefte in die gemeenskap raakgesien het. “Ek en my sussie het in April buite gesit en gesien hoe groot is die behoefte aan kos. Ons het pap in ons spens gehad en 5 kg mieliemeel aangemaak en dit uitgedeel. Ons het daardie dag meer as 100 mense kos gegee.”

Ayesha en haar gesin het van daar begin om daagliks om 10:00 eers pap, en later kos, aan die bure uit te deel. “Ons het aan die begin meer as 250 mense pap gegee en nou deel ons al aan meer as 450 mense kos uit. My ouers help en hulle gebruik hulle eie geld om my te help. Die bure het ook ingespring om te help.”

Ayesha maak staat op donasies en die grootste behoefte is rys, pasta en Jungle Oats of enige pap of niebederfbare goedere.

“Wat dit lekker maak, is dat die bure baie dankbaar is en waardeer wat hulle ook al ontvang, selfs al is dit grondboontjiebotterbroodjies. Daar is altyd iemand wat sê God sal ons seën.”

Haar pa, Abduragmaan Roode, sê hy is baie trots op sy dogter. “Ek is verstom hoe die mense in ʼn ry kom staan vir kos. Dis wonderlik om te sien hoe sy hulle help. As ʼn gesin probeer ons almal help en drie van ons bure help ook,” het hy gesê.

Alhoewel Ayesha volgende week moet terugkeer skool toe, is sy vasbeslote dat hulp aan die gemeenskap nie sal ophou nie. “Ons sal die gemeenskap selfs ná die afsonderingsperiode bly help. Ek wil dit vir die res van my lewe doen.”

Kontak Ayesha by 084 389 0991 as jy enige skenkings wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Dit is ‘n slag goeie nuus vanuit die Kaapse Vlakte. Beter as die gedurige Bendegeweld. Mag ons almal hier uit ‘n les leer

Yvonne ·

Here seen hierdie groepie hulle dra U gesindheid in hulle harte…Amen

Mellie ·

Ek dink dit is ‘n pragtige gebaar. So jonk en haar hart sit reeds op die regte plek. Ek het ook in hierdie tyd besef dat, as jy dit kan bekostig, jy moet opstaan en jou medemens moet help. Ons het mekaar nou baie nodig.

Jaco ·

ek ken so bietjie van die dynamics van die kaapse vlakte. hierdie sopkombuis is net ‘n bedekte vorm van Moslem sendingwerk. dit gaan al jare so aan. eintlk niks nuuts nie.

Cherokee ·

‘Ons het pap in ons spens gehad en 5kg mieliemeel aangemaak’…. ag tog rubriekskrywer, ek het dit gisteraand gelees en gedink iemand sou julle teen die tyd reggehelp het.
Pragtig van die meisiekinders, hul ouers en helpers. Mag hulle geseën wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.