Tiener, ouma red trokdrywers van vlammedood

Skermskoot uit die video.

ʼn Tiener en sy ouma was verlede naweek besonder dapper toe hulle twee vragmotorbestuurders van ʼn vlammedood gered het.

Die twee bestuurders is net betyds uit die vragmotor gehelp nadat dit Saterdag op die N3 naby Peter Brown in Pietermaritzburg omgeslaan en aan die brand geraak het.

Bailey Trollip (15) en sy 58-jarige ouma, wat nie haar naam genoem wil hê nie, was Saterdag op pad Ballito toe om twee aanneemhonde te gaan haal toe hulle ʼn vragmotor, wat skynbaar in die moeilikheid was, op die pad gewaar het.

“Ons het rubber geruik en dit het gelyk asof die vragmotor net heeltyd spoed optel,” het Bailey aan Maroela Media vertel.

“Ons het skuins agter die vragmotor gery om ʼn veilige afstand te handhaaf, maar toe ons om die draai kom, het die vragmotor reeds aan die kant van die pad omgeslaan.”

Sonder enige bekommernis oor hul eie veiligheid het Bailey en sy ouma uit die motor gespring, oor die snelweg gehardloop en die deur van die vragmotor se kajuit oopgeruk.

Die vragmotor was teen dié tyd reeds aan die brand.

Bailey en sy ouma het saam die reddingspoging uitgevoer. (Foto: Verskaf)

“Die bestuurder het al halfpad uit die voertuig geklim, toe ek sien dat sy medebestuurder byna bewusteloos is en nie kon uitkom nie,” sê Bailey.

“Hy was beseer en dit het gelyk asof die vlamme aan sy bene begin vat. Ek het hom so half oor my skouer gegooi toe my ouma aangehardloop kom. Sy het my gehelp om hom heeltemal uit die trok te haal.”

Die kleinseun-en-ouma-duo het die medebestuurder weg van die vragmotor na veiligheid gesleep.

Enkele minute later was die hele vragmotor in vlamme gehul.

Luidens berigte het nooddienste om 16:00 die brand begin blus.

Paramedici het glo ook die twee vragmotorbestuurders vir hul beserings behandel.

Baily se ma, Vanessa Trollip-Perry, sê sy en haar man, Ryan Perry, is meer as trots op die twee se dapperheid.

“Hulle het gehardloop om die mans te help sonder om eers twee keer daaroor te dink,” sê sy.

“Terwyl ander motoriste net toegekyk het, het hulle iemand se pa, man en broodwinner van ʼn aaklige dood gered.

“Dit maak ʼn ma se hart so trots wanneer sy sien dat haar kind die regte ding doen, en nog meer as haar eie ma ook ʼn hand daarin het.”

The Witness berig die oorsaak van die ongeluk is nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Di ·

Baie dankie – Wys ons dat daar wel nog mense daar buite is wat omgee

Philip ·

Meerderheid mense se houding deesdae Spectators Value en persoonlike aangedikte opinies

Winnie ·

Dis nou maar hoe sommige Suid Afrikaners is altyd bereid om mense in nood te help. Hierdie weldoeners moet ook daai medaljes vir dapperheid kry wat so mildelik uit gegee word vir die buitelanders

Elizabeth ·

ñ Goedvoel storie. Baie dapper in gevaarlike omstandighede wat hul hul lewens kon kos. Trots op ons mense!

Foefie ·

Slap trulle wat staan en afneem met selfone sonder om betrokke te raak. Dit gebeur al hoe meer. Mense kyk te veel tv en ander medìa en raak afgestomp. Ek dank dìe Here daar’s nog mense soos daai seun en sy ouma. Dis sulke mense wat mens nog moed gee en laat glo daar IS nog hoop in dié ou lewe.

madels ·

Dankie Bailey en jou ouma vir julle liefde vir jul medemens. Julle word hoogs waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.