Tienermeisie steeds kritiek ná sy byna verdrink

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

ʼn Tienermeisie (17) is steeds in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in KwaZulu-Natal nadat sy oor die naweek byna by ʼn strand naby Ballito, noord van Durban, verdrink het.

“Ons gedagtes is met die tienermeisie wat steeds in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal is nadat sy uit die water by Salt Rock gered is,” het Brendon Power van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Ballito Sondag gesê.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is kort voor 14:00 saam met die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en ander nooddienste na Salt Rock-strand ontbied.

Volgens Power het twee mans ʼn groep spartelende swemmers, waaronder die tienermeisie, in die see opgemerk en hulle te hulp gesnel.

Die mans kon daarin slaag om een van die swemmers uit die water te red en is terug om die tienermeisie te hulp te snel.

Die mans het weens sterk seestrome self in die moeilikheid beland toe hulle by die meisie in die water uitgekom het, sê Power nou.

Die twee mans en die meisie is al drie uit die water na die kus gebring. Die meisie was bewusteloos en het nie asemgehaal nie.

Lewensredders het noodhulp op haar toegepas voordat ambulansdienste op die toneel aangekom en hand bygesit het. Hulle kon daarin slaag om ʼn polsslag te herwin en die meisie is in ʼn kritieke toestand met ʼn lugambulans na ʼn hospitaal geneem.

Die mans is op hulle beurt op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling.

Power het gesê hoewel die mans gedurende hul reddingspoging skrape weens die rotste in die see opgedoen het, is hulle in ʼn stabiele toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

bernard ·

sterkte aan die tienermeisie bid dat sy gou sal herstel nadat sy amper verdrink het

Lee ·

Baie sterkte. Hoop sy herstel vining. Ek en my skoonsuster was ook by Balito met daai verskriklike seestrome ‘n paar jaar terug in die moeilikheid. Van daai dag af swem ek gladnie meer daar nie.

susan ·

Hulle het gesê die mense moet BÁIE versigtig wees by die kus die naweek x

Pop ·

Natal se see is gevaarlik. Mense kom van ander provinsies en wil nie hoor nie. Ek sit my voete nie in die see enige plek nie. Hys rusteloos en niemand se speelmaat nie.

B.B. ·

So 3 weke gelede vriende van ons se seun by Haroldsbaai verdrink….baie, baie hartseer….Dis ook n uiters gevaarlike see…met sy-strome , al lyk hy vanaf die strand baie kalm…Soos my Pa sou se—-Die See en Vuur nie ons speel-maat nie.
Hoop en bid dat die meisie volkome sal herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.