Tienerselfdood: Trauma, tekens en terapie

Foto ter illustrasie. (Foto: Marie-Ève Beaulieu/Pexels)

Gesinne en gemeenskappe is die afgelope tyd geruk deur die selfdood van tientalle tieners. Mees onlangs het die 13-jarige Kaylee-Shaye Coetzer, ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria, haar eie lewe geneem. Maroela Media het met ’n paar kenners oor die kommerwekkende toename in tienerselfdood gesels.

“Tienerselfdood is beslis aan die toeneem en kinders tussen 9 en 18 jaar is ’n hoërisikogroep. Omdat hulle alles in oortreffende trap beleef – emosies en invloed – glo hulle daar is geen oplossings vir probleme nie. Hulle sien selfdood as ’n permanente oplossing vir ’n tydelike probleem. Daarom moet alle dreigemente of ’n verandering in gedrag ernstig opgeneem word,” sê Heleen Coetzee, kliniese sielkundige en senior lektor verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.

“Selfdood bring soveel vrae en skuldgevoelens, en die samelewing is vinnig om vinger te wys: die ouers moes dít gedoen het, die skool moes dát raakgesien het,” sê prof. Elmari Deacon, kliniese sielkundige en adjunk-direkteur van die NWU se Skool vir Psigososiale Gesondheid.

“ ’n Gebrek aan verstaan van die leefwêreld van adolessente asook die wortel van die probleem, diepliggende depressie, word misgekyk en nie aangepak nie.

“Mense gebruik hul eie maatstawwe om selfdood te verstaan. Ons probeer sin maak vanuit ons persoonlike belewenis van hoe óns moeilike situasies aanpak en oorkom, terwyl die persoon wat depressief is, veral kinders, nie hierdie rasionele denkwyse (kan) volg nie. Depressie verander denkpatrone en bring die persoon by ’n onafwendbare kruispad waar hy of sy voel daar is geen ander uitweg nie,” sê Deacon.

Coetzee stem saam en meen die kognitiewe ontwikkeling van kinders in die middelkinderjare en adolessensie is van só aard dat hulle dink hulle is invincible.

“Hulle fantaseer dikwels oor hoe hulle selfdood pleeg, hoe almal by die begrafnis huil, hoe jammer hulle (die boelie, die kêrel, ouers wat baklei) is, en dan dink hulle dat hulle ná die begrafnis gaan terugkom. Dat alles beter gaan wees, dat almal vriendelik gaan wees.”

“Ons verstaan nie die taal van kinders nie. Gedragsprobleme en gemoedskommeling word dikwels ‘gediagnoseer’ as aandagtekort / hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV, oftewel ADHD in Engels), opposisie-uitdagende versteuring (ODD) of angs. Maar eintlik verkeer dié huilerige, geïrriteerde of opvlieënde ‘probleemkind’ in groot emosionele nood,” sê dr. Kim Laxton, psigiater by Akeso Crescent Clinic in Johannesburg.

“Die slim, presterende, maar angstige en depressiewe tiener, word (verkeerdelik) gesien as leergierig, gefokus, in sy of haar eie wêreld. Hulle word deur die internet ingesluk, verloor hulself in die emosionele draaikolk van sosialemedia-identiteit. Familie- en gehaltetyd het verwater,” sê Laxton.

Volgens Deacon het nie net ouerskap nie, maar ook die soort druk op kinders oor die afgelope dekades drasties verander omdat hulle aan soveel meer blootgestel word.

“Boeliegedrag is ’n kommerwekkende probleem asook die toenemende druk om te presteer (dikwels vir aanvaarding deur maats én ouers).

“Natuurlik het Covid-19 bykomende uitdagings gebring – finansiële druk op ouers, isolasie (adolessente hou nie van alleen wees nie), onsekerheid en meer druk by die skool (hulle moet alleen die akademiese mas opkom, maskers dra, het dalk ’n geliefde of kennis verloor), en het as gevolg van die inperking meer tyd op sosiale media deurgebring. Covid-19 is soos ’n vergrootglas wat die krake in ons fondasies kom blootlê het,” sê Deacon.

Laxton glo dat gesinne en die gemeenskap steeds gebonde is aan die stigma van geestesgesondheid.

“Kinders en adolessente wat geestelike (en fisieke) nood ervaar, gaan steeds té dikwels ongesiens verby. Depressie is ernstig en neem toe. Wat egter vir die een geld, geld nie noodwendig vir die volgende persoon nie. Elke kind se gedrag moet daarom vanuit sy ontwikkelingsouderdom verstaan en hanteer word.”

Dit is nooit te vroeg om hulp in te roep nie, sê Coetzee.

“Alle mense het af dae en goeie dae. Ons is nooit in die ‘middel’ nie, want ons is nie robotte nie. Maar kinders (veral met sosiale media waar onmiddellike bevrediging hoogty vier) beleef iets wat eintlik net ’n af dag is, as ondraaglik. Hulle beskik nie oor die vaardighede (coping skills) om uitdagings die hoof te bied nie. Die gevolg is dikwels substansmisbruik en eindelik selfdoodgedagtes.”

Die kenners is dit eens dat ons meer oor geestesgesondheid moet praat én doen – in die media, by die skool, in ons huise. Want dis allermins ’n siekte. Dis ’n slikdam wat dreig om ’n hele generasie jongmense te verswelg.

Vyf skoksyfers

  • Elke 40 sekondes is daar ’n selfdood en elke 3 sekondes ’n selfdoodpoging, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie.
  • 9,5% van alle sterftes in Suid-Afrika is weens selfdood.
  • 23,6% van alle tieners sukkel met gevoelens van waardeloosheid.
  • 33% van alle hospitaalopnames vir selfdoodpogings is tieners.
  • 75% van alle selfdoodslagoffers het een of ander vorm van waarskuwing vooraf aan ’n vriend of familielid gegee.

Wenke vir ouers

  • Kommunikasie – Maak werk daarvan om behoorlik te kommunikeer. Luister vyf keer voor jy kritiseer of raad gee. ’n Gesonde verhouding deur goeie kommunikasie word nie op 16 jaar skielik gevestig nie – dit is iets waaraan jy van baie kleins af moet bou.
  • Vriende – Jy móét weet wie jou kind se vriende is en hoe hy/sy hulle ervaar of oor hulle voel. Nooi hulle na jou huis toe, maak seker dat jy weet wat die uitwerking is wat hulle op jou kind het, en leer ken hul ouers.
  • Sosiale media – Wees deeglik bewus van wat in jou kind se kuberwêreld aangaan. Leer hom/haar om hulself nie te meet aan die aantal “likes”, dít wat mense plaas, of hoe ander lyk nie. Sosiale media moet ’n plek vir kuier en deel wees – dit bepaal nié jou identiteit nie.
  • Grense – Dissipline en reëls is net doeltreffend as jou kind oortuig is van sy/haar ouers se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Maak seker jou kind weet dat dit nooit sal verander nie, maak nie saak wat hy/sy gedoen het nie.
  • Gesprekke – Praat openlik oor emosies. Herken én erken jou kind se emosies en moenie hom/haar laat voel dat hulle oorreageer of dalk nie die waarheid praat nie. Gee jou kind die voordeel van die twyfel.
  • Vrymoedigheid – Vestig vrymoedigheid by jou kind. Praat openlik oor oplossings vir probleme en dat daar altyd minstens vyf oplossings vir elke probleem is. Help jou kind om verskillende oplossings vir probleme in sy/haar lewe te vind.
  • Toerusting – Bemagtig hom/haar om self hul probleme op te los deur byvoorbeeld die boelie te konfronteer. Moenie die geveg namens hom/haar veg nie, anders twyfel hulle in hul eie vermoë om self planne te maak. Jy is die noodwiel (wat áltyd daar is), nie die stuurwiel (wat beheer en bestuur) nie.

Wees op die uitkyk vir dié gevaartekens

Jou kind –

  • Slaap meer of minder;
  • Eet meer of minder;
  • Het min energie en neem nie meer deel aan sport of enige fisieke aktiwiteite nie;
  • Is lusteloos en verloor belangstelling in dinge wat voorheen lekker was;
  • Sien nie kans vir opstaan in die oggend en om die dag in die oë te kyk nie;
  • Isoleer toenemend en stel nie meer belang om te sosialiseer nie;
  • Is emosioneel (huilerig, geïrriteerd of opvlieënd);
  • Toon ’n verswakking in akademiese prestasie;
  • Sukkel om te konsentreer;
  • Het hoop verloor en sien nie kans vir die toekoms nie; en/of
  • Voel waardeloos.

Klop hiér aan vir hulp

  • Selfdoodkrisislyn (24 uur) – 0800 567 567
  • Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) – 0800 456 789 of besoek Sadag.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Dink die jeug is bekommerd oor als wat tans in hierdie land gebeur. Selfs ouers sien geen toekoms meer vir hulle kinders in hierdie land waar chaos oorgeneem het nie.

MVH ·

Ek self het in 2018 selfdood gepleeg.Ja ek sê ek was dood,want in daardie oomblik was dit vir my ,my enigste uitweg ,van jare se afbreek deur myself…Die persoon wat jou die seerste kan maak is jyself…Ek is gediagnoseer 2013 met Fibromyalgia en 2018 met Bipoler 2,ek het vir 14 jaar bulimia gehad(eetsteunis✔️) ADHD (✔️)Depressie(✔️) en trichotilmania(OCD ✔️)
Al is dit party dae ń “uphill battle” kry ek dit nog min of meer party dae beter as ander reg… “If you haven’t walked in my shoes,who are you to judge”
Niemand het die autoriteit om jou te stenig nie,ja jy mag jouself party dae nie lief hê nie,party dae in die spieël te kyk en jouself te haat… Mense kan jou afspreek ,skinder en sleg maak,maar elke dag wat ek opstaan is nog ń dag van ń geveg wat niemand van jou kan wegneem nie,elke dag is ń dag nader aan oorwinning!

Jan ·

Die abnormale gedrag deur die rug te draai op honderde jare se kennis en wetenskap wat ons geleer het dat isolering van en maskedra deur gesonde mense nie virusse kan beheer nie is besig om ons in te haal.

SomeOne ·

selfmoord klink te hard, kras en sleg, daarom klink selfdood makliker

Thereza ·

my kind het in 2006 selfmoord gepleeg, en pes die woord selfdood.
nou 15 jaar later is die pyn nog elke dag by ons die seer en verwoes ting onbeskryflik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.