TLU SA beraam planne om middelman uit te sny

Argieffoto.

Die prysverskil tussen wat boere vir hul varsprodukte op die mark verdien en die herverkoopprys in die Suid-Afrikaanse kleinhandelsektor is een van die kwessies waarop die landbou-organisasie TLU SA hom tans toespits.

Louis Meintjes, TLU SA president, het vandeesweek tydens ʼn vraag-en-antwoord sessie tydens die organisasie se jaarkongres in Pretoria gesê “ons [wil] daaraan werk en hopelik in die toekoms ʼn oplossing vind. Dít is die soort kwessies wat ons nou op die tafel wil sit.”

ʼn Groenteboer, wat nie by name genoem wou word nie, het gesê dat die jongste markverslag wat hy ontvang het oor die verkope van groenrissies op die Pretoriase varsproduktemark sy pryse teen R6,66 per kilogram bereken het. “Ná kommissie, verpakking en vervoer hou ek R2,74 oor. In die goedkoper kleinhandelwinkels verkoop groenrissies nou al teen R34,90 per kilogram.

“Die risiko is op my as boer. Dit sluit sake soos weersomstandighede, politiek en arbeidskwessies in. Ons trok reis 500 km Pretoria toe, 500 km terug, vyf dae per week. Die risiko vir die kleinhandelaar is minimaal. Hulle reis op die meeste 50 km tussen die mark en die distribusie-sentrum.”

Die boer het bygevoeg dat as die prys-situasie reggestel word, kan boere ook meer mense aanstel en die ekonomie aanwakker. “Dit is ʼn jammerte om te sê dat ons as gevolg van hierdie rede sal moet oorgaan na tegnologie toe om ons koste te sny. In hierdie geval gaan die ekonomie val.”

In ʼn gesprek met Maroela Media het Meintjes verduidelik dat Suid-Afrika in werklikheid nie ʼn voedselsekerheid-probleem het nie, “ons het ʼn kos-op-die-tafel probleem”.

Meintjes het gesê dat TLU SA tans na oplossings kyk soos om die waardeketting korter te maak. “Ons wil ʼn fasiliteit begin waar ons direk van die boer af koop, die produkte verwerk, verpak en aan die publiek verkoop teen ʼn beter prys as wat kleinhandelaars tans vra en waaruit die boer ook groter voordeel trek.

“Ons wil dit ook ondersoek om byvoorbeeld die produkte direk op die verbruiker se voorstoep af te laai,” het hy gesê.

Die TLU SA is in die proses om nou finansieringsmodelle te ondersoek en sal volgende week met finansierders vergader, het Meintjes bygevoeg.

“Die belangrikste is om nou die infrastruktuur ingerig te kry. Ons gaan klein en gefokus begin, met die klem op bemarking. Ons glo die idee gaan redelik vinnig deur verbruikers ondersteun word.”

Die model, wat eers net in Gauteng beproef sal word en dan later na ander provinsies sal uitbrei, sal in twee afdelings verdeel word, naamlik ʼn mark in die formele voorstede en in die informele nedersettings. “Ons glo dat ons hier geleentheid vir werk kan skep. Ons kan klein ondernemings in die nedersettings help om infrastruktuur te verkry waaruit produkte verkoop kan word en ook om die produk by die kleinhandelaars te kry. Ons sal beslis by die staat aanklop vir raad en finansiering. Ons werk hard en wil dit so gou as moontlik op die been kry,” het Meintjes verder gesê.

Gevra of TLU SA dan die varsproduktemark se diensverskaffing wil afrokkel, het Meintjes gesê dat hulle eerder saam met die mark wil werk om in die belang van boere op te tree en ʼn beter aankoopprys vir boere te beding. “As ons moet koppe stamp, dan sal ons koppe stamp, ons is nie bang daarvoor nie.”

Ulrich Joubert, ʼn onafhanklike ekonoom, het bygevoeg dat die gesprek al jare lank in die plaaslike landbousektor duur, maar dat die breër ekonomie nou ʼn groter struikelblok vir boere is. “Suid-Afrikaanse boere moet hul koste sover moontlik probeer beheer, omdat ʼn verlangsaming in die plaaslike en internasionale ekonomie hulle ook verder kan kniehalter.

“Plaaslike boere moet bewus wees van die verskuiwings wat op die internasionale front plaasvind as gevolg van politieke inmenging, wat dan ook die prys van mielie en koringpryse, onder meer, affekteer.”

Hy het bygevoeg dat terwyl uitvoerders van onder meer vrugte en vleis tans by ʼn swakker rand baat, boere steeds ly onder hoër insetkoste, soos brandstof en gifstowwe wat ingevoer word. “Die rand [wisselkoers] raak elkeen van ons op ʼn  daaglikse basis.”

“Boere moet risiko’s vat, ja, maar vat berekende risiko’s in die omgewing waarbinne die landbou werk, binne die Suid-Afrikaans opset en binne in die internasionale opset. Daar is tans groot skommeling in die landbou-kommoditeitspryse reg deur die wêreld as gevolg van onsekerheid.”  Buiten vir onsekerheid op die plaaslike ekonomiese front, het Joubert gesê dat internasionale gebeurtenisse, soos die handelsoorlog en Brexit verdere onsekerheid skep.

“Oor die algemeen is verbruikers in Suid-Afrika steeds onder druk en dis een van die redes hoekom ons sê die groei van die plaaslike ekonomie gaan nie na wense wees nie, nie vanjaar nie, en heel moontlik ook nie volgende jaar nie, want ons sien nie dat die druk op die verbruiker gaan lig in die volgende 12 tot 18 maande nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Chris Hattingh ·

Hoeveel groen rissies wil die produsent op my voorstoep aflaai? Die middel man moet ń perseel betaal waarmee hy uitgebuit word deur die grond eienaars. Dit is ń skande.

chrisjan ·

Chris Hattingh ,ek voel vere vir die middelman.Vir donkie jare al buit hulle boere EN jan publiek uit.Dis hoog tyd dat dit stop.As die middelman nie die mas langer kan opkom nie laat hy sy deure sluit.

Anoniem ·

R34 n kilo vir groen rissies is nog goedkoop. Daar by my in Boksburg net so om die hoek is een van die bekende supermarket in ons land en hulle vra R64 n kilo. Nou hoor ons die boer kry R6 n kilo. Dit is n skande. Ek stem vir die boer verkoop jou groente direk aan die publiek

marga ·

Danien, ek stem saam met jou. Die middelman maak mens bankrot !

Landi ·

Dit is goeie nuus want die boere trek aan die korste end en ons as verbruiker kan ook baat met die goeie nuus, ek hoop dit kan realiseer

Loun ·

Kan ons as veeboere vleis ook so begin bemark?
Dis net belaglik wat ek as skaapboer kry en wat die winkels vra…..

Derick ·

Natuurlik. Adverteer net in die plaaslike koerant of op sosiale media dat jy karkasse verkoop. Ek sal enige tyd vleis direk op die plaas koop. Ek voel vere vir graderings.

Louis Meintjes President TLU SA ·

Vleis is n uitdaging , maar met nuwe denke en tegnologie glo ek daar is n oplossing. Ons gaan eers met ons vars produkte begin en met dinge soos droe bone en meel. Stukkie vir stukkie

Jeanetta Taljaard ·

Adverteer dat jy direk aan die publiek verkoop en ek glo dat jy reaksie sal kry. Sê al baie jare dat die boer direk moet verkoop. Hou net jou prys laer as die winkel s’n. Sien partykeer advertensies vir vleis direk van die plaas teen winkel pryse en dit werk nie vir my nie.

Johan ·

Dit sal ‘n blye dag vir boer en verbruiker wees, sterkte TLU SA!

Ouma ·

Dit sal fantasties wees as ons as verbruikers direk by die boere kan koop. Wat van boeremarkte oral in dorpe as dit nie voor jou deur afgelaai kan word nie? Laat weet op watter straathoeke ons julle kan kry, en siedaar kom die kliente na die boere toe aangeloop. Dit sal ons as verbruikers help om minder te betaal, en die boere help om meer in hulle eie sak te steek.

John ·

Goeie plan, sulke markte sonder formele winkels… Ons warm klimaat is egter ‘n probleem. Al ander vlieg op die kos is die sypaadjie-smouse wat sal wil meedoen wat ‘n morsige spulletjie kan afgee. Streng voorwaardes en standaarde sal moet geld anders bly die kopers weg.

Sakkie ·

Dit gaan beter wees as die boere self verkoop so sluit dit ongewensde verrasings in produkte uit en mens sal veel eerder by Boer self koop Dan puik idee.

humor ·

Hier in SWA Namibie is dit n stryd van dekades. Hierdie saak was alreeds in die laat sestiger jare jaar na jaar oa. op die vleisprdusente kongresse bespreek, maar tog sit die boer nog steeds in die knelgreep van die staat en die middelman, agente wat die vleisprys beheer en sekere hooggeplaasdes wat in die uitvoermark ruim skep. n Aantal boere slag privaat op hul plase onder staats- gesondheidstoesig, maar dit is maar n druppel aan die emmer. Ingrypende verandering is onder hierdie swak ekonomiese toestant dringend nodig.

Vars Produkte Mark ·

Sal goed wees. Skakel die huidige “mark” uit. Baie swak bestuur en produkte word baie keer onnodig vernietig. Veral oor lang naweke en vakansies. Weet waarvan ek praat, ek het daar gewerk.

Swannie ·

Hierdie ondersoek moes al LAANKAL gedoen gewees het.

Ek het hoeka Maandag gekla by `n bekende supermark – kettingwinkel omdat die hoendervleis met R5.00 duurder geword het oor die naweek ( vanaf die Vrydag) en toe moes ek uitvind die nuwe besending sou eers die volgende dag arriveer.

MAW, die prys van die OU voorraad het duurder geword sonder rede !!

So word inflasie opgejaag en die verbruiker kry die skuld op die ou end.

Anel ·

Maak soos Europa. Daar koop mens die varsprodukte direk van die boer op die mark. Veral op die kleiner dorpies. Alhoewel die supermarkte en groentewinkels ook daar is. Ek weet in Parys was daar ‘n mark wat al die dae oop was behalwe Dinsdae en Donderdae. Ons meeste van ons vrugte en groente en selfs kaas daar gekoop.

Derick ·

Ek het die volgende storie gehoor.
Eendag lank lank gelede het n ou oom n paar beeste gemelk en die melk direk aan die publiek verkoop. Net so uit die speen sonder enige sterilisasie. Niemand het ooit iets oorgekom nie. Toe stop n inspekteur die melkery omdat die oom nie aan al die simpel higiëne maatreëls voldoen nie. Die oom sit toe plakkers wat lees “nie geskik vir menslkke gebruik nie” op die bottels en hou aan om melk te verkoop.
So daar is maniere om verby die alewige irriterende owerhede te kom.

Marie ·

Hou weer plaasmarkte in dorpe en stede, tans word die middelman verryk en die arme boer en verbruiker trek aan die kortste end. Die middelman is onnodig.

Werner ·

Goeie plan! Ons koop deesdae maandeliks ons kruideniers by die TLU mark in Pretoria, dis ‘n heerlike uitstappie vir die gesin, goedkoper pryse, goeie produkte en alles gaan direk na die boer. Meer sulke marke sal beslis groot aftrek kry, behalwe natuurlik vir die tannies wat nie sonder “my Woolies” kan klaarkom nie ;-)

Johan ·

Dink julle vir een oomblik goedere gaan goedkoper word , dink weerDie boere gaan nou groter winste maak want hulle gaan die monopolie he soos bv lusern tans. Hulle gaan nou net vinniger hulle Cruiser vervang.

Jack ·

Twee goed laat die aarde draai, geld en ‘bulmis’. Kleinhandelaars vertel ons aldag hoe hulle agteroor buig om ons te help bespaar, maar elke ses maande kondig hulle rekord winste aan. Vir wie? Die beleggers! Die wêreld sal ‘n beter plek wees sonder aandelemarkte. Daar word tonne produkte by die mark weggegooi, alles die boer se verlies. Dit wat wel in die winkel beland en op die ou einde ook weggegooi moet word is nie ‘n verlies vir die winkel nie want verliese is reeds gedek met absurde winsopslag.

Pieter ·

Dit sal wonderlik wees, dan kan die boer lewe en mense aanstel. Daar is van die groot besighede wie by die Mark aankoop en dit na hul Warehouse vat en dan vandaar na hul takke versprei, hier is die prentjie; Boer-Mark-Warehouse-Winkels-Klante.Vanaf die Boer tot by die klant is dit dus 4 prosese wie elkeen ń bedrag wil hê. Wie die kortste end trek is die Boer en die verbruiker (Klant) Moet nie sê dat die Warehouse nie sy Klein Takke charge nie, want hulle invoice is uitgemaak na elke Tak van hulle. So kan ons na die hele voedsel bedryf gaan en die geld maak besigheid uit griffel. Almal begin met hul eie besigheid en kry iemand anders om dit te laat groei en so betaal die verbruiker sy sterre af om te oorleef ????

Chris Ws ·

Dis hoog tyd dat die boere die wins vir hul harde werk kry en NIE die middelman wat boggerall doen nie.Ek ondersteun die “Boeremark” idee heeltemal.TLU SA moet nou net vinnig marke in voorstede op die been kry sodat die boere ‘n afset gebied het en die groot vars produkte marke boikot.

Hein ·

Die markte is oral teenwoordig in 1ste en 3rde wereld lande. Van prinse tot bedelaars koop daar. Supermarkte roei ons almal uit!

Gemaskerde Sopbeen ·

Hierdie is ‘n woeste onderwerp…..en ek het dit al baie uit getoets. Voorbeeld: ek ry supermark toe en die vleis is R139,00 ‘n kilogram. Ek ry platteland toe, waar die boere ‘n veekraal met eie slaghuis bedryf. Wat kos die vleis daar? R139,00….plus reiskoste om daar te kom. Almal spring op die “band-wagon” en trap die “kleinhandelaar” uit…..omdat hulle die boere se beeste koop vir R28 op die hoef, en in die winkel verkoop vir R139,00 ‘n kg….maar as jy direk na die boer gaan, wil hy ook R139,00 ‘n kg hê…”want dis die vleisprys in die supermark”? Die boere van Suid Afrika is in ‘n groot mate vir hulle eie ondergang verantwoordelik met so ‘n “houding”. Die boere “luuuuuuvvvv” tekorte (wat hulle soms self kan veroorsaak) en hulle hou van kla….steen en been.

Marga ·

Lol, Derick hy was nie verkeerd nie. Melk is nie vir menslike gebruik nie, punt.

Attie. ·

Ek voel jammer vir die groenteprodusent want daar is geen manier waarop hy sy produk op elke dorp in die verbruiker se koelkas gaan kry nie. Die kettingwinkels het die infrastruktuur en die skakel in die ketting is onontbeerlik. Dan kan die boere net sowel ook dink aan ‘n klein jogurt verpakking waar die inhoud baie minder werd is as die verpakking Maar feit is as iemand nie die inisiatief neem om die verpakking te maak nie dan sal die jogurt in niemand se huis kom nie. Die boer moet maar aanvaar dat die verspreiding van sy produk duur kos. As dit nie vir die produsent lonend is om te produseer nie dan moet hy dit maar staak. Ek voel jammer vir die produsent maar niemand kan hom help nie. dis nes die plaasaanvalle, hy staan alleen tussen sy gesin en die aanvallers.

Krisjan ·

Solank die verbruiker en die produsent voordeel trek is die saak reg. Die res sal in lyn kom as bg. kan gebeur.

Onnodige skakels moet uitgesny word MAAR dit kan ook daartoe lei dat groot kettingwinkels hulle alies in n krul kan trek en goedkoop kos, melk ens. teen baie gunstige pryse kan invoer. Soos die engelsman se “ bring it on” veg gaan daar geveg word en die TLU moet nie terugstaan daarvoor nie. Gaan ten minste interrisant wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.