Toergids op herstelpad ná krok hom gryp

(Foto: Verskaf)

“Alles het so vinnig gebeur … al waaraan ek kon dink was hoe ek gaan oorleef.”

Mark Montgomery is ʼn ervare en bedrewe staptoergids, maar toe ʼn nylkrokodil van byna vier meter hom einde verlede maand tydens een van dié staptoere beetgekry het, het hy waarskynlik gedink dis neusie verby.

Dit was tydens sy 30ste toer op dié spesifieke roete wat die noodlot toegeslaan het. Montgomery was besig om water uit die Metsi-Metsi-rivier by die Wolhuter-gedenkplaat in die Krugerwildtuin te skep toe die reuseroofdier hom aan sy regterhand gegryp en die water ingesleep het.

“Ek was besig met die derde skep toe ek die krokodil se kop op die oppervlak van die water gewaar.”

Dit was net-net te laat om weg te kom. Montgomery kon sy arm gedeeltelik uit die water pluk en die krokodil het sy kake om die toergids se regterhand geslaan en hom die water ingesleep.

“As ek nie my hand teruggeruk het nie, sou die krokodil dalk ʼn groter deel van my arm kon gryp en nie net my hand en gewrig nie,” sê Montgomery.

Agt toeriste en nog ʼn toergids was saam met Montgomery, maar kon nie betyds help nie.

“Een van die toeriste het agter my in die water ingespring om my te probeer red, maar ek was reeds te diep in die rivier in.”

Die krokodil het met Montgomery in sy greep na die bodem van die rivier probeer swem.

Hy vertel hoewel hy verbete teen die krokodil bly veg het, het hy nie probeer om sy hand uit die krokodil se bek te trek nie omdat hy bang was dat dit groter skade sou aanrig.

“Ek het teen die krokodil se maag bly skop en my linkervingers in sy oë probeer druk sodat hy my moet los; al wat ek wou doen was wegkom sonder om myself verder te beseer.”

Volgens Montgomery het die krokodil hom ongeveer 1,6 m diep die water ingesleep.

“Ek het bly stry om te keer dat hy my rol en uitmekaar ruk. Ek het selfs my dyspier in die proses geskeur. Ek weet nie regtig wat gebeur het nie, maar daarna het hy my skielik gelos.

“Dalk was dit omdat ek hom geskop en geslaan het.

“Maar ek dink dit was die Here.”

Volgens Montgomery het die oomblikke daarna die langste gevoel.

“Toe die krokodil my uit sy greep los, moes ek so vinnig moontlik na die oewer van die rivier swem voor hy my weer beetkry.

“Dit was vir my die ergste; dit het soos ʼn ewigheid gevoel om na veiligheid te swem.”

Toe Montgomery die oewer bereik, is hy dadelik na die Nelspruit MediClinic gehaas.

Hy het wonde aan byna al sy vingers op die regterhand opgedoen en moes vier operasies ondergaan om sy hand te red.

“My wonde het septies geraak en soveel bene in my hand was gebreek. My wysvinger was in stukke en die punt van my middelvinger moes geamputeer word.”

Volgens Montgomery was hy vreesbevange, maar weens die aard van sy beroep het hy baie goed geweet dat die kans op ʼn gevaarlike ontmoeting met ʼn wilde dier altyd ʼn moontlikheid is.

“Dit was skrikwekkend, maar as toergids in ʼn nasionale park is ons gereeld in kwesbare situasies.”

Hy vertel dat hy goed herstel maar dat die voorval steeds by hom spook.

“Dit maal oor en oor in my kop, maar dit sal my help om soortgelyke voorvalle in die toekoms te vermy.”

Montgomery sê die worsteling met die krokodil gaan hom nie stuit om sy roeping verder uit te leef nie. Hy werk sedert 1998 as ʼn toergids en het verlede jaar meer as 1 300 km in die Krugerwildtuin afgelê.

“Ek sien uit om weer toere te onderneem. Ek is baie lief vir my werk en ek is bewus van die moontlike gevare wat dit inhou. Dit het my nog nooit gekeer nie en dit gaan beslis nie nou nie.”

Montgomery moes weens sy beserings verskeie prosedures ondergaan om sy regterhand te red. Sy mediese fonds het hiervoor betaal, maar weens die erns van sy beserings kon hy nog nie terugkeer werk toe nie.

ʼn Skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy is intussen van stapel gestuur om Montgomery finansieel in die herstelproses te ondersteun.

Die geld sal gebruik word om fisioterapie en verlies aan inkomste oor die volgende paar maande te dek.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Ek is bly hy is op die pad na herstel. Maar, mag ek se, as jy nie ‘n toergids kan wees nie, moet jy dit miskien oorweeg om ‘n model te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.