Topmatriek laat resultate aan God oor

Simone Anna-Mart Louw. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Een van 2022 se topmatrikulante het skynbaar die geheim tot sukses gevind. Sy meen boonop dit is so maklik, enigiemand, jonk of oud, kan dit doen.

Simone Anna-Mart Louw het aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch gematrikuleer en is tydens ʼn glansgeleentheid Donderdagaand as Suid-Afrika se tweede beste matrikulant in ‘n kwintiel 5 skool aangewys.

“Dit is so maklik soos om net op die Here te vertrou. Daar is niks belangriker as dit nie, want Hy weet klaar waar jou pad gaan lei, so vertrou Hom om jou daar te kry.”

Louw het deur haar hele matriekjaar daarna gestreef om dinge hul gang te laat gaan en met die aanvang van die eindeksamen het sy volhard in haar pogings om oor te gee aan die Here.

“Die eindeksamen het vir my baie goed gegaan. Ek was deurlopend baie rustig en ek was glad nie gestres oor hoe ek gaan doen of wat gaan gebeur nie,” sê sy.

“Ek het elke keer die vraestel en die uitslae wat daarop gaan volg, aan die Here oorgelaat, want ek weet Hy weet wat moet gebeur.”

Volgens Louw was die besluit om oor te gee een van die bestes wat sy kon neem, want ná al die ure se studeer is sy meer as tevrede oor hoe die eindeksamen verloop het.

“Ek het nie met een vraestel gevoel dit het baie sleg gegaan nie en het vertrou dat die uitslae gaan wees soos die Here besluit het dit moet wees.”

Louw het altesaam agt vakke gehad wat Ingenieursgrafika en Ontwerp, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Afrikaans Huistaal, English Home Language, Duits Tweede Addisionele Taal, Wiskunde en Lewensoriëntering insluit. Sy gaan nou elektroniese ingenieurswese studeer.

Noudat Louw haar matriekjaar oorleef het, meen sy dit kan vir toekomstige matrieks net so maklik kan wees.

“As ek enige voornemende matriek kan raad gee, sou ek sê dat jy net al die verwagtinge wat jy vir jouself het, moet afskud en ophou stres. Jy doen soveel beter as jy nie heeltyd stres nie, so kry maniere om daardie angs te demp, rus genoeg en maak jouself gereed vir ʼn uitdagende, maar belonende jaar.”

Kyk hier wat Louw nog te sê het oor haar eksamen, die uitslae en haar toekoms:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Wat hartseer is sou sy besluit om medies te studeer in sa sal sy eers ‘n BSc moet doen vir die eerste jaar want sa diskrimineer teen wit studente.

Toffie ·

In die onderhoud noem sy dat sy elektroniese ingenieurswese gaan studeer.

Gideon ·

Dis pragtig dat sy haar vertroue stel in die enigste almagtige God Jesus Christus, mag die Here jou loopbaan vorentoe seen, “as Hy vir ons is, wie kan dan teen ons wees”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.