Toppresteerder is wiskunde se baas

Kelly Prowse. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Terwyl sommige pasgematrikuleerde leerders nog wik en weeg oor hul toekoms, is Kelly Prowse, die beste matrikulant in die land, doelgerig op haar eie toekoms gefokus.

Prowse, wat aan die Rustenburg Girls High School in Kaapstad matrikuleer het, is tydens ʼn glansgeleentheid Donderdagaand as 2022 se top matrikulant aangewys.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die uitgesoekte groepie matrikulante Donderdagoggend tydens ʼn ontbyt in Johannesburg onthaal. Hoewel hulle in daardie stadium nog nie geweet het wat hul uitslae is nie, kon hulle maar net raai dit is beter as waarvoor hulle sou kon hoop.

Prowse is opgewonde oor die volgende fase wat sy nou gaan betree.

“Ek beplan om aktuariële wetenskappe te studeer, grotendeels omdat ek ʼn egte liefde vir wiskunde het.”

Prowse sê sy het op ʼn jong ouderdom reeds ʼn liefde vir wiskunde ontwikkel toe sy en haar pa saam Sudoku-stukke begin voltooi het. Die twee het naderhand mededingend geraak en met elke Sudoku-stuk mekaar meer en meer uitgedaag.

“Om met syfers te werk was nog altyd een van my passies, so ek is dankbaar dat ek dit dalk eendag in ʼn werk kan omskep.”

Aktuariële wetenskappe pas die wiskunde van waarskynlikheid en statistiek toe om die finansiële implikasies van onsekere toekomstige gebeure te definieer, te ontleed en op te los.

Prowse meen dit is die beroep van die toekoms omdat die veld so divers is.

“Ek glo ek kan soveel daarmee doen en nog meer daarmee bereik en ek is opgewonde om weg te spring en te begin leer.”

Motshekga het Prowse en haar mede-topmatrikulante Donderdag toegespreek en hulle geloof vir hul strewe na uitnemendheid.

“Julle is rolmodelle vir julle portuurgroep en ʼn inspirasie vir die volgende generasie skoliere,” het sy gesê.

“Die geskiedenisboeke sal weet dat julle die bestes van die 2022-matrieks is en dit is geen geringe prestasie nie, veral as jy in ag neem dat julle die grootste groep leerders is wat al matriek geskryf het.”

Die matriekklas van 2022 het ‘n gesamentlike slaagsyfer van 80,1% behaal, die hoogste slaagsyfer sedert 2019.

Kyk hier wat Powell als te sê het oor die eksamen, haar uitslae en haar toekoms:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanEtz ·

80.1 %
Omdat die vereiste slaagsyfer slegs 30% is
Monkeybusiness?

Elma ·

Al die Afrikaanse kinders wat so presteer – maak my hart sing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.